Logo
OSSS
web uni tv guide

Op Seer Se Spoor

145Dokumentêr13 V

Vertroosting vir die seer – Op Seer se Spoor

News
29 November 2018
kykNET&kie se 13-episode misdaadsreeks skop eersdaags af.
Op Seer se spoor

kykNET&kie, in samewerking met Kuier-tydskrif en Son-koerant, bied aan ’n misdaadreeks wat eie in sy soort is. Die splinternuwe reeks, Op Seer se Spoor, volg die reis van Kuier se artikel-redakteur, Ernusta Maralack, ’n vrou wat in haar loopbaan as joernalis al baie gesien het. Tydens dié reeks gaan Ernusta terug na die tonele van die wreedste moorde in die Wes-Kaap, na stories wat sy soms self gedek het.

Sy sal onder meer onderhoude voer met familielede van die slagoffers en in sommige gevalle ook met familielede van die oortreders in ’n soektog na antwoorde en begrip van hoekom hierdie misdade gebeur het, en hoe dit gemeenskappe affekteer het.

Met die 16 dae van aktivisme teen geweld teenoor vroue en kinders wat onlangs begin het, vra Ernusta in hierdie reeks die moeilike vraag: “Hoeveel moorde nog” voordat daar iets gedoen gaan word aan die moorde van veral jong kinders en vroue.

“As iemand wat as kind self fisiek geboelie is en wat geweld in ander vorme voor my sien plaasvind het, kon ek nooit verstaan hoekom iemand ’n ander persoon wíl seermaak nie. Wat nog te sê van doodmaak. Maar in my loopbaan het ek al die wreedste moordstories gedek, en wat altyd by my bly spook is hoe verpletter die slagoffers se families is, selfs jare ná die moord. Niks kan hul pyn wegvat nie, maar nou leef hulle ook met die gedagtes van op watter wrede manier hul geliefde van hulle af weggevat is. En dis iets wat ek wil hê geen familie ooit moet beleef nie,” vertel Ernusta.

Sy meen voorts “die onus rus op ons as ’n gemeenskap om sáám iets hieraan te probeer doen”, veral omdat baie van die moorde gepleeg word deur mense bekend aan die slagoffer.

In die eerste saak, wat vir Ernusta baie na aan die hart lê, keer sy terug na Bonnievale, haar tuisdorp, en ondersoek Kathy Alexander (toe 20) se moord. Kathy was op 22 April 2006 vermoor. Brian Fluks (toe 32), ’n familielid van Kathy, is vir haar moord in hegtenis geneem. Hy het skuld erken vir Kathy se moord. As gemeenskapsjoernalis vir die Breederivier Gazette was hierdie Ernusta se eerste storie van ’n grumoord – en dit boonop van iemand met wie sy op ’n stadium ’n huis gedeel het.  

In ander epsiodes kyk ons na die wrede moorde en verkragting van Anene Booysen en ander slagoffers in Bredasdorp wat ná haar gevolg het; dan is daar die verhaal van Reinette Neelse wie se kêrel haar en haar tweejarige tweeling in 2012 wreed en herhaaldelik met ’n mes gesteek het. Reinette het oorleef, maar die tweeling nie.

Ons kyk ook na die vlaag kindermoorde en -verkragtings op die Kaapse Vlakte in 2017 toe René Roman (13) en Courtney Pieters (3) wreed vermoor is. Ons kyk ook na die sake van Lee Adams (15) van Ravensmead in die Kaap, wat in 2013 deur Aljar Swartz (17) vermoor is. Lee se kop was afgesny en sy koplose lyk gevind in ’n ou skool.

Die gemeenskap van Groenheuwel, Paarl was in 2016 geruk deur Shamonique Claasen (10) se moord en verkragting deur Jerome Amerika, haar suster se kêrel.

Ander sake sluit in dié van ’n jong ma, Ge-Audrey Green (19), van Kraaifontein wie se lyk in ’n laai gevind is; die moord van Lekitha Moore (18) deur Cameron Wilson (20), wat as ’n reeksmoordenaar geklassifiseer is; Anthea Adams van Stellenbosch wie se ma en seuntjie deur haar eks doodgemaak is toe hy hulle huis met ’n petrolbom bestook het; die moord van Sandra Malcolm (74) wat deur Sheree Prince (18) vermoor en vermink is; Franziska Blöchliger (16) wat in 2016 deur Howard Oliver (toe 28, nou 30) verkrag en vermoor is.

Laastens herbesoek Ernusta ook ’n saak wat gemeenskappe tot vandag toe ruk – dié van die stasiemoordenaar wat in die laat jare tagtigs en vroeë negentigs ’n skrikbewind op die Kaapse Vlakte gevoer het en jong seuns gesodomiseer en vermoor het.

Op Seer se Spoor begin op 15 Januarie om 20:30 op kykNET&kie, DStv-kanaal 145. Dié 13-episode reeks word deur Gambit Films vervaardig, wat ook verantwoordelik is vir die Safta-wenner en internasionaal-bekroonde fliek, Nommer37.