Logo
OSB Kie Slim
web uni tv guide

Ons Sprokiesbruilof

145RealiteitsprogramPG

Ons Sprokiesbruilof: Hoekom in die winter trou?

Nuus
05 Junie 2017
Daar is ’n paar baie goeie redes om ’n bruilof gedurende die koudste maande van die jaar te reël.
Sprokiesbruilof_Rozanne McKenzie

Rozanne McKenzie en haar man, Chris Bishop, het in 2013 in die yskoue VK getrou. Foto: Ben Tomlin/Touch Photography

In die onlangse troue van Maryna en Paul tydens ’n episode van Ons Sprokiesbruilof, was die vreeslike hitte van Matjiesfontein ’n krag waarmee rekening gehou moes word. As ’n somertroue te veel na ’n sweterige storie klink, kan jy natuurlik ’n wintertroue oorweeg.

Die geselligheid van ’n rooiwyntjie langs ’n kaggel kan goed by ’n bruilof ingewerk word. As dit boonop bewolk is by jou Kaapse bruilof, sal jou fotograaf nie ontevrede wees nie. “Fotograwe is lief daarvoor as dit bewolk is – dit sorg vir die beste foto’s.”  Só sê Pippa Lund van The Perfect Proposal. Hierop herinner sy net dat ’n mens moet onthou dat daar natuurlik minder daglig in die winter is, so ’n mens moet die troudag op só ’n manier skeduleer dat jy genoeg tyd het om daardie mooi foto’s te neem.

Daar is afslag beskikbaar op trou-venues gedurende die wintermaande. Dit is ook makliker om dan by hulle ’n datum vas te maak.

Met dit gesê, waarsku Pippa egter dat alle dienste nie noodwendig aan jou beskikbaar sal wees nie. Sommige venues of verskaffers sluit hulle deure wanneer dit nie die trouseisoen is nie. Dit gee vir diensverskaffers aftyd, sodat dekor opgegradeer kan word, instandhouding gedoen kan word en personeel verlof kan neem.

Meeste blomme is beskikbaar regdeur die jaar, sê Matilda Boonzaaier-Venter van La Tilma Weddings. Indien blomme buite seisoen is, sal ’n mens egter meer vir hulle moet betaal.

Pippa voeg by dat jy sal sukkel met blomme soos pinksterrose, wat in Suid-Afrika slegs vir ’n paar weke nader aan November beskikbaar is.

Indien jy ’n strandtroue beoog, is dit ideaal om in die winter te trou. Dit is spitsseisoen in Natal vir strandtroues tussen April en einde Junie. Natal is in ’n somerreënvalstreek, so die weer is pragtig, met minder wind, humiditeit en drukkende hitte.

Noreen Swartz van Timeless Weddings Company in Ballito sê dat mense nie besef hoe warm dit kan raak tydens die somermaande nie.

As jy slim vooruit beplan – soos om te sorg dat die trourok dalk lang moue het, of vergesel word deur ’n elegante baadjie – kan jy ’n asemrowende wintertroue aanbied.

Ons Sprokiesbruilof is Donderdae om 20:30 op kykNET (kanaal 144). Bly hier op hoogte en gesels saam op sosiale media – op FacebookTwitter (gebruik die hutsmerk #SprokiesBruilof), Instagram en WeChat (gebruik die WeChat-ID kykNETtv om kykNET as ’n “vriend” by te voeg).