Logo
OSB Kie Show
web uni tv guide

Ons Sprokiesbruilof

145RealiteitsprogramPG
OSB Kie About

Oor die program

Aanbieder Sorina Erasmus volg elke week ’n bruidspaar se liefdesverhaal tot voor die kansel. Sy gesels oor hul eerste ontmoeting, verhouding, familie en vriende, asook die beplanning wat gedoen is tot op die bruilofsdag!

S1 | E20
31 Mei 15:00
'S1/E20'. Maritzka en Antonie was op laerskool gekys, maar toe Antonie se ma onverwags sterf, moes hy ver weg by sy ouma...

Sorina: ‘Die liefde is so mooi’

News
13 April 2017
As aanbieder raak Ons Sprokiesbruilof se Sorina Erasmus deel van die belangrikste hoofstuk in elke paartjie se lewe. Sy lag saam, huil saam en droom saam, en het selfs een keer ingespring om ’n bruidspaar se ringe – etlike minute voor die troue – te gaan haal!
OSB Sorina QA

Dit is die eerste keer wat jy ’n program aanbied. Kan jy ons meer van jou ervaring vertel?

Dis ’n interessante medium en ’n nuwe uitdaging om op ’n ander manier voor die kameras te staan – dié keer nie as ’n karakter nie, maar as jouself. Wie jy op TV sien is wie ek as mens is – die persoon wat ek by die huis en tussen my mense is.

Wie dink jy vind aanklank by Ons Sprokiesbruilof, en hoekom sou jy sê moet kykers inskakel?

Enige iemand wat glo in die liefde en dat élke pot helaas sy deksel kry. Dis ’n voelgoed-program wat wys hoe mooi die liefde is en hoe dit gewone mense soos ons kan laat sweef en soos konings laat voel. Dis geskik vir alle ouderdomme en van die kleinkinders tot oumagrootjies kan daarby aanklank vind.

Ons wys die spesiale tye van gewone mense. En as jy of jou kleinkinders op trou staan, is dit ’n baie lekker platform om inligting in te win oor die verskillende aspekte van ’n troue, van die venue tot die rok.

Paartjies se sprokiesdagdrome word waar in dié werklikheidsreeks. Wat leer jy persoonlik oor die liefde uit Ons Sprokiesbruilof?

Dat die liefde só mooi is, so edel, so opreg. As die bruid by die paadjie afstap, het daardie bruidegom net oë vir haar en om te sien hoe die twee vir mekaar kyk en mekaar koester, het my elke keer ’n traan in die oog gegee.

Elkeen het hoop vir die toekoms, ten spyte van die kronkelpad vol slaggate wat hulle dalk voorafgegaan het. Elke prinses kry haar ridder, al ry hy nie op ’n wit perd nie maar op ’n nederige donkie.

Het jy enige raad vir ongetroude paartjies oor hoe hulle hul troudag moet benader? Wat is die moets en moenies?

Die beste raad wat ek kan gee is dat mense die reeks moet kyk, want daardeur woon die kyker 20 uiteenlopende troues by. Dis insiggewend om die oulike goed te sien én die foute wat ander maak, sodat jy dieselfde kan doen of anders kan maak.

Daar is nie moets en moenies nie. As die bruid in ’n sak wil trou omdat dit is hoe sy wil lyk op haar troudag kán sy, want dis háár sprokiesbruilof. En as hulle die onthaal in ’n karavaanpark wil hou omdat dit die plek is waar hulle die mooiste en lekkerste herinneringe as kind gehad het, dan doen hulle so want dis hulle dag.

En wat is jou raad aan trougaste?

Die feit dat die bruidspaar jou genooi het om hulle grootste dag saam te kom vier is ’n groot voorreg (en baie duur), en daarom moet jy net elke oomblik geniet saam met hulle – al val alles nie noodwendig in jou smaak nie.

Wat is belangriker: Die bruid se rok, ’n beeldskone onthaalarea of die onthaalmakietie en lekker kos?

Dis soos ’n huis: die dak is net so belangrik soos die mure en fondament. Die een kan nie sonder die ander nie. Dit gaan ook nie oor die prysklas nie, want die grootte van elkeen se beursie verskil. Soms is minder mooier en soms is meer weer lekkerder.

Wat is die snaakste ding wat tot dusver tydens die verfilming van die reeks agter die skerms gebeur het?

Toe die bruidegom die ringe by die huis vergeet en ek etlike minute voor die troue die groot bussie op ’n grondpad moes ry om die ringe te gaan haal. Ek het nog nooit so ’n bussie gery nie en dít op ’n pad in Bredasdorp waar ek nie ’n clue het waar ek is en geen opvangs het nie.

Is daar ’n paartjie wat jou spesifiek aangegryp het?

Mens word so deel van élke paartjie se lewe, wel en weë, dat elkeen hul eie spore in jou hart los. Jy lag saam vir die snaakse goedjies, jy huil saam oor die seer goedjies en hoop saam dat alles vlot sal verloop. Elkeen het ’n storie, en dit is vir my ’n voorreg om deel te kan wees in een van die belangrikste hoofstukke in hulle boek.

Dag een, met die eerste toneel wat ons skiet, is hulle bang vir die kamera en effens sku, want – glo my – dis senutergend om voor 11 vreemde mense wat heeltyd in jou aura is net jouself te wees. Maar aan die einde van die troudag is hulle selfversekerd en getroud, en dan ontpop hulle in sepiesterre.

Hoe verskil jy en die Flooze van mekaar?

Ons is eenders én anders. Beide van ons het ’n goeie sin vir humor en beskou die lewe as ’n lied. Beide van ons hou daarvan om mense waardig en spesiaal te laat voel. Anders in die sin dat sy dalk bietjie meer kommin is as ek…

Die rokke wat die ontwerper Roedolf D Couture vir my maak met elke troue laat my as Sorina soos ’n prinses voel, wat ver verwyderd is van die Flooze se kenmerkende rooi leerbaadjie.

Ons Sprokiesbruilof saai uit op kykNET tot einde Junie. Wat lê daarna voor?

Show, show, show! My musiekvertonings hou my besig, want ek doen vertonings landwyd by feeste, skole, kerke en enige tipe funksie – van damesoggende tot Flooze-vertonings. Dan werk ek ook aan ’n nuwe album wat later die jaar die rakke sal tref. En wie weet, dalk is ’n tweede seisoen van Ons Sprokiesbruilof in die pyplyn en kom makietie ons saam by jou troue!

Bly hier op hoogte en gesels saam op sosiale media – op Facebook, Twitter (gebruik die hutsmerk #SprokiesBruilof) en Instagram.

Kyk

Nog vermaak