Logo
Ons Boere, Ons Inspirasie
web uni tv guide

Ons Boere, Ons Inspirasie

144LandbouprogramPG

Ons Boere, Ons Inspirasie

News
30 Augustus 2019
Hier is alles wat jy moet weet.
Ons Boere Ons Inspirasie

In ’n nuwe leefstylreeks Ons Boere, Ons Inspirasie gaan kykNET en SARIE-tydskrif ’n vars blik gee op die moderne Suid-Afrikaanse boer.

Dié nuwe reeks volg op ’n gelyknamige projek wat die SARIE-span in 2018 in hul tydskrif en platforms geloods het. SARIE het gewys dat vandag se boer stylvol, skeppend en innoverend is, terwyl hulle ook in voeling is met hul wêreld én ingestel is op die lewe daarbuite.

Nou vat SARIE met kykNET hande om dit groter te maak en saam met GWK, McDonald’s en John Deere gaan daar 13 plase oor 13 episodes besoek word. Boere – van Boshof tot Douglas – gaan aan kykers wys dat boerdery ’n gesofistikeerde onderneming is en dat hulle ook terugploeg in plaaslike gemeenskappe.

Elke episode sal die kollig laat val op ’n boer wat ’n storie het om te vertel en ’n eie stukkie inspirasie deel, wat deur wereldklas-fotografie in SARIE uitgebeeld sal word.

“Dit is ook terselfdertyd vir kykNET opwindend om Eloïse Pretorius, ’n bekende radio- en agri-stem, vir die eerste keer as aanbieder voor die kamera te verwelkom,” sê Loren Greyling, kykNET se toesigvervaardiger van die reeks.  

Eloise bied Ons Boere, Ons Inspirasie saam met Fanie Cronjé, SARIE se styl- en sosiale redakteur aan.

“Hierdie projek is ’n byeenkoming van harte wat vir SA se boere klop. Dis die mense wat kos op ons tafels sit en ons ook inspireer,” sê Loren.

“Dis volronde mense wat nie nét in plaasklere kan woeker nie, maar ook ’n balrok of aandpak kan aantrek na die opera, ’n duikpak om branders te ry of ’n paar tekkies om ’n avontuur aan te pak.” 

Volgens Michélle van Breda, SARIE se redakteur, staan SARIE vir inspirasie en min dinge is so inspirerend soos ons land se boere en hul unieke stories.

“Die mans en vroue wat na aan die grond leef en werk met elke seisoen se goedheid en guns. Wat kos op ons tafel sit en omgee, skep en weer probeer. Wat verlies ervaar en vreugde vier. En hoop, bly glo.” 

Ons Boere, Ons Inspirasie  is vanaf 3 Oktober Donderdae om 21:00 op kykNET, DStv-kanaal 144. Hou ook SARIE van November 2019 tot Januarie 2020 dop en leer ken ons boere en hul mooi wêreld. Deel die goeie nuus met jou vriende op FacebookTwitter en Instagram met die hutsmerk #OnsBoerOnsInspirasie. 

Nog Programme