Logo
Kwarantyn 1600x160 Slim Homepage (2)

Dag 24: Troos jou siel met dié kosse – Kwarantyn

Nuus
03 Julie 2020
Hier is ons gunsteling-trooskosse.
Worsbroodjie

Inperking en ’n pandemie kan ’n groot impak op ons stresvlakke hê. En wanneer jy jouself in ’n senutergende situasie bevind, is dit belangrik om kalm te bly en ’n heerlike peuselhappie aan te skaf. Hier is ons gunsteling-trooskosse wat die siel tydens inperking of in tye van nood sal streel:

  1. Roomys vir die verlies
    Wanneer jou hart deur iemand gebreek is, gaan vir die goue-oue: Gee jouself oor en aanvaar dat roomys die wêreld ’n beter plek maak. En wat is dan nou nog lekkerder as tuisgemaakte Dom Pedro's? Vir ’n ekstra bietjie skop, en ’n ekstra bietjie moed, voeg Amarula of Kahlúa by en siedaar … Jou probleme is iets van die verlede…

    PROBEER DIT SELF: NATANIËL EN EDIK SE ROOMKAASPANNEKOEKIES
     
  2. Vertrosing vir die koue
    Verveeld? Vasgevang in die huis weens die koue? Niks sê trooskos soos tuisgemaakte pannekoek nie. Kom reën, sneeu of wind, gooi ’n bietjie kaneel by jou krisis, en dit voel sommer baie vinnig beter.

    PROBEER DIT SELF: CARO EN TIAAN SE ONFEILBARE PANNEKOEK
     
  3. Avo-troosting vir die siel
    Hoewel ons nie seker is waarvandaan die kombinasie kom nie, kan ons jou waarborg avokadopeer op roosterbrood sal jou laat voel asof al jou sorge daarmee heen is. Gooi dalk ’n bietjie suurlemoensap by, of sny ’n jalapeno of twee by as jy gereed is om dit interessant te maak ...  
     
  4. Verveeld? Voeg grondboontjiebotter by
    Dis ’n luilekker Sondagmiddag. Jy is alleen en niemand kyk nie. Al wat jy nou nodig het is die rusbank en die genot van vars, gladde grondboontjiebotter. En moenie bekommerd wees nie. Niemand kyk nie. Jy kan maar nog ’n happie vat ...
     
  5. Stysel vir die babelas
    Het jy Vrydagaand te diep in die bottel gekyk? Niks is dan lekkerder as vuurwarm, geurige, ryk kapokaartappels nie. Ons kan jou waarborg die koolhidrate sal jou ligaam splinternuut laat voel.

    1593782533 33 pizza

     
  6. Pizza
    So, jy het heel naweek saam met jou vriende gekuier, te veel tyd op jou foon spandeer, TV gekyk, of enigiets anders gedoen behalwe om voor te berei vir Maandagoggend se groot toets? Tyd is min: Trek maar die boeke nader, bestel ’n heerlike pizza en druk deur tot 23:00.
     
  7. Aartappelskyfies 
    Bekommerd oor wat jy kwyt geraak het tydens daai baie belangrike werksonderhoud op Zoom? Te veel vrae gevra? Dalk te min vrae gevra? Sit agteroor, ontspan en maak daardie pakkie krakerige aartappelskyfies stádig oop. Kry vir jou sommer ’n lekker doopsous om saam met dit te geniet. Jy verdien dit.
     
  8. Haastige hond verbrand sy mond
    Dit verg minimale moeite om vining ’n worsie in die pan te gooi, of ’n Weense worsie vinnig in warm water te kook. Sit dit op ’n heerlike broodrolletjie en bedek dit met ’n oormate mostert en tamatiesous. Jou siel sal jou bedank.

    PROBEER DIT SELF: JAN BRAAI SE LAM-KOFTA-BURGER
     
  9. Slap tjips
    Raak inperking net te erg? Werk die familie op jou senuwees? Bederf jouself en kikker ter selfde tyd bordspeletjiesaand op met ’n heerlike porsie slap tjips. Sprinkel gerasperde kaas bo-oor en jou gunsteling doopsous, of geur met ’n kombinasie van ’n bietjie bruinsuiker en jou gunsteling braaisout. En voor dat jy weet sal jy met ’n glimlag breër as jou probleme by die koffietafel sit. Onthou net om te deel ...

    1593782418 33 burger

     
  10. Burger night!
    Jy kan nie verkeerd gaan met ’n burger nie. Maak dit ’n familie-affêre en moedig almal aan om burgers met hulle gunsteling-kombinasies te bou. Dis heerlike tydverdryf, en die nuwe geure en smake van almal anders se kombinasies sal jou op jou tone hou. 

    PROBEER DIT SELF: JAN BRAAI SE WAFEL-BRAAIBROODJIE
     
  11. Brood vir die pyn
    Vir enige ander krisis in die lewe, haal diep asem, gryp na die naaste snytjie brood, smeer dit met heerlike botter en herhaal die volgende woorde stadig: “Alles gaan okei wees.” As dít net nie genoeg is nie, voeg net kaas en ’n bietjie hitte by.
     

Kwarantyn sal vanaf Woensdag 10 Junie om 21:00 elke dag en heeldag op kykNET se nuutste opwipkanaal, DStv-kanaal 149, uitgesaai word.

Maandae tot Saterdae sal daar daagliks om 17:00 ’n 24 minuut-lange hoogtepunteprogram (behalwe Woensdae is dit ’n 48 minuut-lange program om 20:00) op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai word.

Gesels saam op FacebookInstagram en Twitter met die hutsmerke, #Kwarantyn, #SpanLeRoux en #SpanScheepers.