Logo
Hotel

Hier kom Hotel-manewales!

Nuus
24 Junie 2016
Die nuwe Afrikaanse mokumentêr Hotel is in die hande van Bennie Fourie en Stiaan Smith. Hulle gesels met ons in die jongste uitgawe van Digityd.
Hotel Stiaan Bennie

Stiaan Smith en Bennie Fourie


Die nuwe Afrikaanse mokumentêr Hotel is in die hande van Bennie Fourie en Stiaan Smith.

Hierdie artikel is ’n uittreksel uit ’n artikel in kykNET se digitale tydskrif, Digityd. Lees die volledige artikel hier.

Waar het julle aan die idee vir die reeks gekom? 

Bennie: Van my gunsteling-shows oor die laaste paar jaar was mokumentêre, en ek het besluit ek wil graag ’n storie in daardie genre vertel. As skrywer is dit vir my ’n ontsaglike lekker genre om in te speel, omdat dit geleentheid gee om die karakter eenkant toe te trek, vrae te vra en om karakters af te loer.

Is daar ’n bietjie Fawlty Towers-inspirasie? 

Bennie: Die idee om die storie in die hotelwêreld te laat afspeel het eintlik gekom omdat ons ’n plek gesoek het waar ’n klomp karakters gedwing word om saam te werk. ’n Hotel leen homself daartoe. Ons is albei groot fans van Fawlty Towers, maar glo Hotel ontgin ’n ander tipe komedie.

Wie is in die rolverdeling? 

Stiaan: Ons is baie opgewonde om saam met die gesoute akteur James Borthwick te werk – hy speel die rol van die hotelbestuurder. Dan is daar Schalk Bezuidenhout. Hy is bekend as ’n fantastiese komediant, maar ons glo mense gaan verras wees om te sien hy is net so ’n belowende akteur.

Ander mense in die rolverdeling is Simoné Nortmann as die ontvangsdame, Beer Adriaanse as die konsultant, Martelize Kolver wat vir bemarking en ekskursies verantwoordelik is, en Sandi Schultz as die sjef. Graham Weir is die opsigter en Mila Guy die kelnerin.

Wat is die grootste uitdaging met die skryf van ’n komediereeks? 

Stiaan: Om snaaks te wees.

Bennie: Om vir Stiaan te sê hy is nie snaaks nie.

Is komedie moeiliker as drama?

Stiaan: Dit hang af watter een ek besig is om te skryf.

Bennie: Ek dink dis twee verskillende wêrelde. Persoonlik is ek liewer vir komedie. Tot jou meisie jou los – dán skryf ek vir jou ’n drama.

Wat het die Silwerskermfees vir julle beteken?

 Stiaan: Daar is nie ‘n beter voorreg en geleentheid om te leer as die Silwerskermfees nie – dis soos Pro20 vir stories vertel. Ek kon die hele verfilmingsproses in ’n baie gekonsentreerde dosis ervaar en in ’n paar maande die ervaring kry wat my in die regte lewe dalk ’n paar jaar sou neem! #DankiekykNET!

Bennie: Wat Stiaan gesê het. #EksOokDankbaar.

Hoe het julle in die vermaakbedryf beland? 

Stiaan: Ek het Russel Crowe se toespraak gekyk toe hy die Oscar vir Gladiator gewen het, en toe wou ek ook famous wees. Maar ek was 18 en stupid. En toe ontdek ek tien jaar later beter motiewe en toe raak dit lekker.

Bennie: Ek het op universiteit vir die koshuis toneel begin skryf omdat niemand anders wou nie en die koshuiskas nie geld gehad het vir ’n skrywer nie. Toe begin ek dit afrig en daarin speel.

Hotel, wat van 11 Julie om 20:30 op kykNET uitgesaai word, is ’n nuwe komediereeks wat ’n substandaard-hotel en sy kleindorpie-personeel bekyk. Kyk hier watter programme skop nóg af in Julie.