Logo
Hotel

Verfilming aan Hotel se laaste seisoen skop af – Hotel 5

Nuus
24 Augustus 2021
Verfilming skop af aan die vyfde seisoen van die SAFTAS-bekroonde kykNET-komedie, Hotel.
BB

Daar is sekere dinge in die lewe wat altyd staande sal bly. ’n Bloubul-ondersteuner en sy liefde vir sy span. ’n Kokkerot in ‘n kernaanval. Suid-Afrikaners se gawe om altyd die humor in selfs die moeilikste situasies te sien.

Dan is daar die Fransen Hotel. Deur krisisse en wanbestuur. Deur oornames en persoonlike konflikte. Ja, selfs deur ’n pandemie het die Fransen Hotel staande gebly. Wel, staande genoeg vir ’n vyfde seisoen van die gewilde komediereeks Hotel.

Maar hoe het Jony, Thomas en die span dit reggekry? En waar pas Ferdie in die prentjie in? Het hy dan nie in die laaste seisoen sy goed gevat en geloop nie?

Al hierdie vrae sal in Januarie 2022 beantwoord wanneer Hotel vir ’n vyfde seisoen na kykNET terugkeer. Al die hoofspelers is weer daar: James Borthwick is Ferdie, maar hierdie keer is hy ’n permanente gas in die hotel ná sy emigrasie na Nieu-Seeland nie volgens plan verloop het nie.

Jony (Simoné Pretorius) is deesdae die bestuurder van die hotel. Thomas (Beer Adriaanse) sit met die nagevolge van ‘n ouditeur wat nie net haar hande op die hotel wil lê nie, maar  sommer vir Thomas ook in haar kloue wil hê. Brenda (Martelize Kolver) sukkel met ’n aanhoudende naarheid, hewige gemoedsteurings en ’n konstante lus om vir almal ’n drukkie te gee. Die enige ding wat nog soos ’n paal bo water staan, is Danny (Schalk Bezuidenhout) en Malanie (Mila Guy) se onblusbare liefde ... en die feit dat Jaap (De Klerk Oelofse) nooit liefde sal vind nie. Ook Manie (Ivan Botha) en Dodgy Mike (Bennie Fourie) kom maak dinge interessant in die vyfde seisoen.

Volgens Bennie Fourie, wat een van die skeppers van dié oorspronklike reeks is, sal die vyfde seisoen ook die laaste een wees. “Hierdie was n absolute mal avontuur en die gewildheid van die reeks en karakters het ons wildste verwagtinge oortref.”

Die vervaardiger Scharl van der Merwe sê hulle het ’n hele paar kaarte wat hulle nog styf teen hulle bors hou. “Ons wil mense nuuskierig hou oor wie nog almal in hierdie seisoen gesien gaan word,” sê hy.

Die reeks word tans by die Kleinkaap Hotel in Pretoria verfilm. Die skrywers is Bennie Fourie, Beer Adriaanse en Ryan Metcalfe met Claudia van Zyl wat haar vir die eerste keer by die skrywerspan toevoeg. Bennie is ook, soos met die vorige seisoen, die regisseur.

“Ons moes vir twee jaar uitstel om hierdie seisoen te skiet, so ons slyp ons tande nou al vir baie lank,” sê hy. “Dis verskriklik lekker om weer al die karakters bymekaar te hê en ons almal werk hard om die land ‘n bietjie welverdiende lag te gee!”

Hotel het deur die jare verskeie SAFTA-benoemings en -pryse ontvang en vroeër vanjaar is James (beste akteur in ’n komedie) en Martelize (beste vroulike byspeler in ’n komedie) elk met ’n SAFTA-toekenning vereer.