Logo
Hotel

Hotel maak weer sy deure oop

Nuus
06 Desember 2021
Die span van Hotel maak in Januarie weer ’n draai vir ’n vyfde – en finale – seisoen!
Hotel Announce S5 – Billboard

Presies dieselfde, net anders, maar beslis net so snaaks. Die span van Hotel maak in Januarie weer ’n draai vir ’n vyfde – en finale – seisoen en soos gewoonlik is daar genoeg kinkels en kwinkslae om kykers te laat skaterlag.

Toe ons die span by die Fransen Hotel ná die vierde seisoen gegroet het, het Ferdie (James Borthwick) besluit om af te tree. Thomas (Beer Adriaanse) en Jony (Simoné Pretorius) het probeer hulle bes om ’n sukses van die hotel te maak, maar dit gaan maar sukkel-sukkel. Wanneer Ferdie, wat oorsee gaan kuier het, weer sy sitplek in die bestuurder se kantoor wil inneem, skop Thomas en Jony met alle mag teë. Maar het hulle nie dalk vir Ferdie nodig om hulle verhouding te red nie?

Dan is daar die ooievaar wat kom kuier, ’n jacuzzi agter op ’n bakkie, Getroud met rugby raak betrokke en SARS het ’n paar vrae oor die boeke van die Fransen.

Benewens James, Simoné en Beer, is die res van die rolverdeling terug: Martelize Kolver (Brenda), Schalk Bezuidenhout (Danny), Mila Guy (Malanie), De Klerk Oelofse  (Jaap), Manie (Ivan Botha) en Bennie Fourie (Dodgy Mike).

Van die gasspelers wat te sien gaan wees, sluit in Pierre Breytenbach, Rika Sennett, Franci Swanepoel, Danie Botha, Altus Theart, Theodore Jantjies en Christel van den Bergh.

Hierdie sal ook die laaste seisoen van dié gewilde kykNET-komedie wees. “Alle goeie dinge kom tot 'n einde. En hierdie is een van daardie goeie dinge. Ek kan nie wag vir mense om seisoen 5 te sien nie!,” meen Schalk Bezuidenhout (Danny).

"Seisoen 5 van Hotel is soos die landingslag van een van Elon Musk se vuurpyle. Dis 'n wilde en blitsige reis deur tyd en ruimte wat dan senutergend tot 'n einde kom as 5 seisoene van humor en herinneringe uiteindelik weer grond vat,” sê Beer Adriaanse. “Soos 'n vuurpyl gaan ons verder as ooit tevore en is daar 'n daadwerklike kans dat die hele ding enige oomblik kan ontplof."

Die regisseur en hoofskrywer is Bennie Fourie en saam met hom op die skryfspan is Beer Adriaanse, Ryan Metcalfe en Claudia van Zyl. Nagvlug Films is die vervaardigers met Scharl van der Merwe, Zandré Coetzer en Chanel Muller aan die stuur. Die reeks is by die Kleinkaap Hotel in Pretoria verfilm.

“Daar was iets spesiaal aan die seisoen... dalk omdat almal mekaar teen die tyd al so goed ken en die storie verstaan.. maar tien teen een omdat ons almal geweet het dis die laaste een en ons elke lewendige giggel uit die show wou pers,” meen Bennie Fourie.

Hotel het deur die jare verskeie Safta-benoemings en -pryse ontvang en vroeër vanjaar is James (beste akteur in ’n komedie) en Martelize (beste vroulike byspeler in ’n komedie) elk met ’n Safta-toekenning vereer.