#BoerWillie
Naam: Willie
Ouderdom: 26
Tipe Boerdery: Makadamia- en wildboer
Belangstellings: Dié ekstrovert hou van vlieg, jag, motorfietse, houtwerk, onthaal, braai en lekker saamkuier.
Dorp en provinsie: Badplaas, Mpumalanga
So beskryf hy homself: Doelgerig, passievol, ekstrovert, ambisieus, ’n sin vir humor.
Gee ons ’n kort opsomming van wie jy is:
Diep in die Laeveld is Willie die vierde generasie wat deel van die onderneming is. Hy boer saam met sy pa en sy ooms en beskou dit as ’n groot voorreg.
Behalwe dat hy glo hy hou daarvan om te boer omdat hy na sy pa opsien, beskryf hy boerdery ook as ’n besigheid. En besigheid is sy kos.
Hy vertel sy ma raas soms as hy by hulle aan huis kom en nie onmiddellik sy hande was nie, maar Willie weet hoekom hy dit nie doen nie.
“Ek hou daarvan om bietjie daai natuur aan jou hande te hê – eet dan maar nou en dan ’n broodjie met vuil hande.”
Maar om alleen in ’n huis te bly, laat hom wens vir iets meer. Hy soek iemand wat dalk op ’n Saterdag saam met hom op die plaas sal rondry en ’n glasie wyn sal geniet – iemand wat lewensvreugde saam met hom kan deel.
“Ek is lief vir die lewe, en ek hou van goeters doen,” sê hy. En sy ideale meisie? Sy moet iemand wees wat haarself kan versorg omdat hy uit so ’n gesin kom; iemand wat dieselfde Christelike waardes as hy koester.
Liefde is vir hom iets wat deur vertroue en eerlikheid onderskryf word.