#BoerRudiH
Naam: Rudi
Ouderdom: 56
Tipe Boerdery: Boerbokke
Belangstellings: Werk is vir hom nou prioriteit en om pa vir sy dogter te wees. Hy hou ook van stap, road trips, visvang en lekker kuier. Familie is vir hom belangrik, en dan is daar natuurlik die diere wat baie diep in sy hart ingekruip het.
Dorp en provinsie: Windsorton, Noord-Kaap
So beskryf hy homself: Hy erken een van sy slegste eienskappe is om verwaarloosde honde bymekaar te maak. Andersins is hy impulsief, lojaal, emosioneel, ’n pa en iemand wat familie waardeer.
Gee ons ’n kort opsomming van wie jy is:
Die afgelope 35 jaar is hy en sy broer saam in die bedryf, en gedurende die laaste drie jaar is hulle besig om ’n boerbokkudde op te bou. Dan is daar ’n paar beeste en drie donkies, en as die pryse beter is, gaan die delwery weer aan die gang gesit word.
Op die plaas word daar net vis gevang, nie wild gejag nie. Maar nou het die seisoen aangebreek om die visier wel in te stel. Ja, erken Rudi H, dis tyd om vrou te kry. Hy het nog nooit die paadjie na die kansel gestap nie. Hy sê hy’s nie meer jonk wanneer mens “vol nonsens is, en goed nie,” en hy sal regtig graag sy sielsgenoot wil kry.
Hy het wel ’n dogter wat ’n goeie verhouding met haar ma het, maar hy wil hê sy moet ook van sy kant af ervaar hoe goed ’n verhouding kan wees. Rudi H sê hy was 39 toe hy pa geword het. Sedert haar hoërskooljare aangebreek het, bly sy dogter by hom, en hy voel dit verryk sy lewe geweldig.
“Ek is lief vir jou” is nie vir hom goedkoop woorde nie, en dis woorde wat hy baie min in sy lewe al gebruik het. Wanneer hy dit vir iemand sê, sal dit wees omdat hy dit uit sy hart uit bedoel.
Hy sien uit daarna om met iemand te kan praat, in die aand of oggend of saam te kuier – om net weer saam met iemand iets te kan doen. Hy soek ’n sielsgenoot met wie hy ook vriende kan wees, iemand in sy ouderdomsgroep.
“Ek glo as julle onmiddellik kliek, dan is dit die regte persoon,” sê die boer wat beslis in die liefde glo.