#BoerRudi
Naam: Rudi
Ouderdom: 47
Tipe Boerdery: Wild-boerdery
Belangstellings: Natuurlewe, kunste, stap, swem, sosiaal verkeer en fynproewer.
Dorp en provinsie: Brits, Noordwes
So beskryf hy homself: Natuurmens, gedissiplineerd, dinamies, nederig, dromer, romanties.
Gee ons ’n kort opsomming van wie jy is:
Jy sal vir Rudi tussen Brits en Thabazimbi aantref. Hy erken prontuit dat hy in 2014 baie gesukkel het om aan te pas in die gemeenskap omdat hy ’n gay boer is. Tog het die gemeenskap hom deur die jare leer ken en nou voel hy baie beslis deel van die gemeenskap.
Daardie oggende se opstaan, die skuifdeur oopmaak en uitkyk oor die natuur is dinge wat vir Rudi diep gelukkig maak. Sy plaas is vir hom meer as net ’n plaas; meer as net ’n plek met diere. Vir hom gaan dit oor die bome, die geluide, die mense en alles wat dit mooi maak.
Wanneer hy van sy diere verloor, soos tydens ’n veldbrand ’n tydjie gelede, is dit vir hom asof hy ’n kind verloor. Dis dan juis met sy diere wat hy sy geheime, sy hartseer, vreugdes en blydskap deel. Dit maak die afskeid soveel swaarder.
Hy ken van seerkry, maar glo vorentoe wag daar ’n man wat vir hom liefde kan gee en ook kan ontvang. Trou en ’n gesin is iets waarna hy uitsien.
“Ek sal weet ek het liefde gevind, want dis ’n gevoel wat ek kry – van my kleintoontjie af dwarsdeur my menswees en tot in my hart na my brein toe,” vertel Rudi, en hy sê hy weet daai gevoel is moontlik.
“Romanse op ’n plaas is meer as Kersliggies en sulke tipe dinge,” sê Rudi.
Hy glo hy is nie ’n alleenmens nie, maar iemand wat so baie het om daardie regte mens te bied.
“My eie grappies in die aand raak nou vervelig.”