#BoerRuan
Naam: Ruan
Ouderdom: 30
Tipe Boerdery: Saai-, bees- en skaapboer
Belangstellings: Dié boer kan fyn mik met sy pyl en boog, maar is ook gek oor bootry, oefen, sport en soos dit enige boer wat sy sout werd is, betaam – braai.
Dorp en provinsie: Tweespruit, Vrystaat
So beskryf hy homself: Lojaal, geduldig (op die plaas), spontaan, netjies en avontuurlustig.
Gee ons ’n kort opsomming van wie jy is:
Ruan is ’n eerstegenerasie-boer wat saam met sy pa boer. Ruan sou agt jaar gelede nooit kon dink dat hy eendag sou boer nie, alhoewel hy nog altyd ’n liefde vir die grond gehad het en gewens het hy kon boer.
Toe koop hulle hierdie vervalle plaas waar alles van meet af aan oorgedoen moes word om die plaas weer produktief te kry. Vandag is dit wel die geval.
Dié stadsjapie het sy lus vir die blink liggies verloor en kan nie gou genoeg terugkeer plaas toe na ’n besoek aan die stad nie. Hy erken die stadslewe kan hom nogal grumpy maak, maar ten spyte daarvan dat hy hardkoppig ook is, glo hy wel hy is ’n maklike mens om oor die weg mee te kom.
“Ja, ek is baie picky. Ek is al baie gesê ek is vol nonsens, maar ek weet wat ek wil hê. Ek wil nie jou tyd mors nie, en ek wil nie my tyd mors nie.”
Hy besef ook dat liefde nie net sal gebeur nie. Dis iets waarmee jy moeite moet doen en aan moet werk.
“Ek glo in liefde, want waar daar liefde is, is daar hoop,” en hy hoop ook om sy kinders op hierdie plaas te sien grootword.