#BoerChristof
Naam: Christof
Ouderdom: 38
Tipe Boerdery: Turksvy- en soutboer
Belangstellings: Christof hou van musiek (hy skryf ook musiek), onbeplande avonture en reise, houtwerk, beeldhouwerk, goeie kos en ver stap in die veld.
Dorp en provinsie: Petrusburg, Vrystaat
So beskryf hy homself: Spontaan, kreatief, impulsief, perfeksionis, kunstenaar.
Gee ons ’n kort opsomming van wie jy is:
Kuns, musiek, die buitelewe, om met sy hande te werk en mense – dis wat Christof gelukkig maak diep in die Vrystaat. Benewens werk op skepe in die verlede, het hy al in Ierland, Engeland en Thailand gebly.
Sy pa het die plaas in die vroeë tagtigerjare gekoop. Deesdae word daar gefokus op turksvye en sout, met ’n paar stuks vee en skape op die plaas. Christof sê die skape is maar net daar vir slag en vir “ergernis”.
Hy glo boere staan vir integriteit en eerlikheid.
“Daar is geen waslaag om ’n boer nie. Wat jy sien, is 100% wat jy kry.”
Hy erken hy is prakties met sy hande, maar sy denke is nie altyd op dieselfde bladsy nie. Hy glo ook die belangrikste ding in die lewe is om te wees wie jy is. Terselfdertyd erken hy dat vroue met donker hare die eerste ding is wat sy aandag trek as hy ’n vertrek binnestap, maar die meeste van die meisies met wie hy uitgegaan het, het blonde hare.
Wat vir hom wel ongelooflik aantreklik is, is ’n mens met ’n hart vir ander mense. En mense vir wie estetiese dinge in die lewe belangrik is. O ja, en positief is.
Vir hom is liefde, ná daardie aanvanklike elektrisiteit wat van sy arms besit neem, diepe lojaliteit en mense wat mekaar regtig verstaan. En hy soek na daai liefde vir kleur, dimensie en om sy lewe voller te maak.