#BoerEvert
Naam: Evert
Ouderdom: 38
Tipe Boerdery: Makadamia-, sitrus- en wildboer
Belangstellings: Natuurbewaring, fiksheid, lees, reis, klassieke vuurwapens en snacks.
Dorp en provinsie: Tshipise, Limpopo
So beskryf hy homself: Aktief, avontuurlustig, ’n goeie sin vir humor.
Gee ons ’n kort opsomming van wie jy is:
Plaas, familie, geloof, vriende, mense wat die pad saam met jou stap. Dis wat vir Evert belangrik is. Hy is, as hy dit reg het, die vyfde generasie op die plaas.
Sy voorouers het in 1916 hier aangekom met hul ossewa, en sy oupa is op ’n sementblad in ’n tweevertrekhuisie op die plaas gebore – en tog het hulle ’n sukses van die boerdery gemaak. Hy is baie trots op wat hulle tot stand gebring het, en hoop dat sy voorouers ook trots op sy suksesse sal wees.
Hy vertel dat hy logistiek, oftewel toevoerkettingbestuur, aan die universiteit studeer het. Tydens sy eerste onderhoud daarna, wou die persoon weet hoekom juis toevoerkettingbestuur.
“It’s the sexiest thing in the world,” was sy antwoord, want dit verbind iets wat iewers nutteloos is met ’n plek waar iemand dit wil hê. En hulle is die ketting wat daardie rol speel.
Nou soek hy na iemand om saam met hom verder te bou, maar dit gaan iemand verg met geduld, want die pad vorentoe is nie altyd maklik nie.
“Jy moet kan vasbyt wanneer dinge skeefloop.”
Hy sê hy het baie liefde om te gee, en hy geniet sy lewe geweldig. Nou soek hy net iemand om dit saam met hom te geniet.
Oop en eerlike kommunikasie, in goeie en slegte tye, is vir hom belangrik. Maar die grootste faktor wat in ag geneem sal word, is of hulle dieselfde geloof deel.
“Liefde kan pret wees as jy dit pret maak,” laat hy later hoor.