Logo
Binnelanders Slim Homepage 1600x160
web uni tv guide

Binnelanders

144Drama13

Maude en Gaby is soos vinkel en koljander – Binnelanders

Nuus
20 Mei 2021
Maude dink daar is baie ooreenkomste tussen haar en Gaby.
ep230 3

Sy is Tertius se halfsussie en het eers onlangs uitgevind haar pa het ‘n ander gesin wat in Bloemfontein woon. Maar dit keer Binnelanders se Gaby Toerien om haar werk ernstig op te neem nie – al leen sy gereeld haar ore uit vir ‘n sappige stories. Maude Sandham vertel meer oor die karakter en haar eie pad tot hier.

1621503091 29 bnlnd 6523

Haar wortels lê in Johannesburg en sy is ‘n oud-leerling van Hoërskool Linden, maar ná skool het Maude Sandham haar vlerke wyd gesprei om verder te leer. Sy het eers teater-regie onder Janet Buckland by Rhodes Universiteit studeer en toe Devising Theatre and Performance onder Thomas Prattki by die London International School of Performing Arts in Berlyn.

Sy stel baie in gemeenskapswerk belang en het in 2019 deur Frankryk en België getoer saam met die Les Balladins-sirkusprojek wat in vlugtelingkampe en –sentrums gewerk het. Sy het dieselfde jaar in Hong Kong en Vietnam met haar eenvroustuk Tracks getoer.

“Ever tried. Ever failed. No matter. Try again. Fail again. Fail better.” Dis hierdie woorde van die dramaturg Samuel Beckett wat Maude se lewensleuse is.

“Ek is partykeer baie hard op myself en die leuse help my om te onthou dat ek net beter word as ek uit my foute leer. Dus moet ek daar buite kom en foute maak,” sê sy.

Sy dink daar is baie ooreenkomste tussen haar en Gaby.

“Ons is albei avontuurlustig, staan op vir ander en dit waarin ons glo, is nie op ons bek geval nie en ons hou van pret. Ek sal graag meer van Gaby se optimisme, geduld en kuierkous-energie wil leen. Waar ons wel verskil, is dat sy baie meer betrokke in ander mense se lewens raak. Ek probeer maar eerder wegbly!”

Indien sy ooit as ‘n verpleegster in die werklike lewe moet werk, sou sy graag in die kindersaal wou werk.

“Ek dink ek sou ‘n fun pediatrie-verpleegster kon wees. Maar ek sou sukkel om my emosies te verwerk, veral as dit kom by mense aan die dood afstaan. Ek dink verpleegsters het moeilike en hartbrekende werk. Hulle is my helde!”

Wat beteken familie vir haar?

“Familie is waar jy benodig en gekose voel. Waar jy liefde met gemak kan uitruil. Mens het familie van oorsprong en familie van keuse. Ek glo beide is belangrik. Mens kan by jou bloedfamilie lesse leer oor jouself, oor die wêreld, oor watter waardes jy wil nastreef. By gekose familie kan jy jou waardes uitleef en met eensdenkende mense ‘n beter wêreld skep.”

As sy ‘n ikoniese filmrol kan speel, sou dit Ripley in Alien wees, die rol wat deur Sigourney Weaver gespeel is. “’n Ystervrou wat gatskop!” En as sy ‘n sportsoort kon kies waarin sy wil uitblink, sou dit kung-fu wees. “Of dalk ‘n ritmiese gimnas. Ongelukkig is ek so grasieus soos ‘n baba-kameelperd.”

Gesels saam op Facebook, Twitter en Instagram en onthou om weeksaande om 19:30 in te skakel vir die jongste drama en intrige wat in die gange van Binnelanders uitspeel.