Logo
Binnelanders Slim Homepage 1600x160
web uni tv guide

Binnelanders

144Drama13

kykNET en Binnelanders groet twee grotes

Nuus
26 Desember 2016
Ons neem met leedwese kennis van die afsterwe van een van die Binnelanders-vervaardigers, Friedrich Stark, asook storielyn-skrywer Elsabé Roux.
Binnelanders Logo

Gister was ’n baie hartseer dag vir die kykNET- en Binnelanders-familie. Ons neem met leedwese kennis van die afsterwe van een van die Binnelanders-vervaardigers, Friedrich Stark, asook storielyn-skrywer Elsabé Roux.

Friedrich was ’n prominente figuur in die televisiebedryf. Hy is bekend as regisseur en vervaardiger van veral Generations en Binnelanders. As jong akteur was hy te sien in onder meer Die Voortrekkers (1973), Môre, Môre (1973), Dingetjie is Dynamite (1975), Kiepie en Kandas (1981) en in die gewilde televisiereeks Net ’n bietjie Liefde (1977).

Mitzi Booysen, hoofskrywer en mede-vervaardiger van Binnelanders, sê: “Friedrich was sjarmant, gaaf, snaaks, vrygewig en baie slim. Wanneer dit nodig was, het hy my vir myself laat lag en ’n mens was altyd ten volle bewus van sy waardering en ondersteuning. Ek is seker dat almal wat deel is van die uitgebreide Stark-familie ook in skok is oor die nuus van sy ontydige afsterwe. Ek weet dat ek hom baie gaan mis, nie net as kollega nie, maar ook as vriend. RIP, Friedrich.”

Volgens Karen Meiring (M-Net: Direkteur kykNET-kanale) het sy “ongelooflike respek vir Friedrich as mens, vervaardiger en baanbreker in die televisiebedryf gehad. Hy was altyd hartlik en baie vrygewig met sy kennis en ervaring. Dit was ’n voorreg om hom as deel van die kykNET-kanale te kon beskou.”

Elsabé Roux was as skrywer verantwoordelik vir baie van die intriges en stories wat Suid-Afrikaanse sepie-liefhebbers daagliks vasgenael hou.

“Elsabé was ’n talentvolle draaiboekskrywer wat haar loopbaan by Egoli: Plek van Goud begin het. Deur die jare was sy by talle sepies betrokke, onder meer Villa Rosa, Binnelanders, Generations en Isidingo. Elsabé sal altyd in ons harte wees en ons sal vir haar lief bly,” aldus Frans Kalp, vriend en mede-skrywer.

Ons eer hulle nagedagtenis en ons harte gaan uit na hulle familie en vriende.