Logo
Binnelanders Slim Homepage 1600x160
web uni tv guide

Binnelanders

144Drama13

Elf feite oor Binnelanders se At Koster

Nuus
12 Mei 2016
Hier is elf dinge wat jy dalk nie van Binnelanders se At Koster, vertolk deur Hans Strydom, geweet het nie – of dalk al vergeet het!
Binnelanders At Elf Feite

Hier is elf dinge wat jy dalk nie van Binnelanders se At Koster, vertolk deur Hans Strydom, geweet het nie – of dalk al vergeet het!

1. Van At Koster se drie kinders wat hy gehad het, is daar nog net een oor: Conrad Bester.

2. Roelien van Deventer en Malan Koster, sy ander kinders, is albei oorlede. Malan het in ’n motorongeluk die tydelike met die ewige verwissel, en Roelien is deur Pippa met ’n mes doodgesteek (uit selfverdiging).

3. At Koster het nie ’n tekort aan vrouens in sy lewe tot op hierdie punt gehad nie:

a. Sy eerste vrou was Soekie Kellerman. Hy het met haar getrou toe hy ’n student was, en sy was Conrad Bester se ma.
b. Sy tweede vrou was Theresa, en sy is oorlede weens kanker. Hy is nooit werklik van Soekie geskei nie, maar kon dit nooit vir Theresa sê nie. Sy het van groot geld gekom, en daarom het hy net deurgegaan met die troue. Hy het Binneland Kliniek begin met geld wat hy van haar geërf het.
c. Sy derde vrou was Stefanie Malherbe se ma, die prokureur Ingrid Louw. Sy het van hom geskei nadat sy nie meer sy agterbakshede kon uithou nie.
d. Sy amper vierde vrou was Sonja Mostert. Sy het om dieselfde rede as Ingrid die hasepad gekies.
e. Tot op hede was sy groot liefde Ivanka Gouws.
f. Hy het ook  ’n verhouding gehad met Roelien se ma, Marinda – Roelien was die produk van dié buite-egtelike verhouding. Hy het ook in sy jonger dae ’n verhouding gehad met Leonore Hanekom – toe sy uitvind dat Conrad sy seun is, het sy die verhouding met Conrad stopgesit.

4. At het twee kleinkinders: Daniël (wat die produk was van Roelien en Chris van Deventer se huwelik), wat nou deur dr. Jennifer Adams grootgemaak word, en Nina (die produk van een nag van passie tussen Malan Koster en Daleen Jonker).

5. At se beste vriend was Kitte Müller. Kitte is in 2009 oorlede, en sy hart is na sy dood geskenk aan Franz Basson se susterskind, Gys Eloff.

6. At het al menigte handlangers gehad om sy donker konkelwerk uit te voer. Coen was die mees betroubare een, tot hy ’n verhouding aangeknoop het met Roelien. Elaine is ingespan vir speurwerk en enigiets digitaal (en was ook die een wat by Coen gebly het nadat hy noodlottig gewond is). Tony Rossouw het At een keer te veel om die bos gelei – en At het van hom ontslae geraak. Vandag het hy vir Frank om hom te help om sy hande skoon te hou.

7. At het menigte vyande van vriende gemaak: Franz Basson en At het nog nooit regtig langs dieselfde vuur gesit nie, en Zieg Combrink en hy het ’n ‘love/hate’-verhouding. Brett Adler en At was nog nooit regtig vriende nie, en op datum is Adler die grootste vlieg in At se salf.

8. At is baie erg oor familie, maar selfs van hulle het hy vreemdelinge gemaak: Susanna Meyer, sy alkoholis-suster, het hy onlangs vervreem na die dood van Malan Koster (aangesien dit Susanna se kêrel was wat die motorongeluk veroorsaak het); Susanna se seun, Quinton Meyer, het die hasepad na Kanada gekies nadat sy rammetjie-uitnek-houding niemand meer aangestaan het in Pretoria nie, en Kallie (sy ‘broer’) bly in die Kaap, waar hy sy tyd verdeel tussen die bestuur van die Nagskof in Kaapstad terwyl hy ook op die skepe werk.

9. Die jonger weergawe van At Koster is gespeel deur sy TV-seun, die akteur Paul du Toit. Dit is nou vir die episodes gewees waar daar terugflitse was na die oorsprong van At en Zieg se ‘love/hate’-verhouding, wat verlede jaar uitgesaai is.

10. At Koster het, net soos King Lear in William Shakespeare se toneelstuk, op ’n stadium drie dogters gehad: Roelien (sy regte dogter), Stefanie (sy stiefdogter, wat basies sy keuse vir troonopvolger was) en Pippa (sy amper-skoondogter, wat die een is wat hom geanker hou in die werklikheid).

11. Daar is, so ver ons weet, reeds drie grafte op sy wildsplaas, waarvan niemand weet nie. Een is Roelien, twee is Coen, en drie is Anleo.

Kyk Binnelanders, weeksaande om 19:30.