Logo
Binnelanders Slim Homepage 1600x160
web uni tv guide

Binnelanders

144Drama13

Die vele gesigte van Zak Hendrikz

Nuus
27 April 2016
Binnelanders-kykers ontmoet vandeesweek vir Eben, vertolk deur die akteur Zak Hendrikz. Ons het met hom gesels.
Zak Hendrikz 2

Foto: Splice

Binnelanders-kykers ontmoet vandeesweek vir Eben, vertolk deur die akteur Zak Hendrikz. Ons het met hom gesels.

Jy vertolk die rol van Eben in Binnelanders. Vertel ons meer van dié karakter.

Eben het verkeerde besluite in sy lewe geneem, gebaseer op sy liefde vir ’n meisie, en het duur daarvoor betaal. Dit maak nie van Eben ’n slegte mens nie, maar eerder iemand wat nooit ’n kans (as gevolg van sy omstandighede) gehad het nie. Hy het werklik geglo “love conquers all”, maar al wat dit vir hóm beteken het is dat hy sy hele lewe lank agter iemand aangejaag het wat nooit dieselfde gevoel het nie. Hy is sy eie grootste vyand.

Wat lê voor vir jou karakter se storielyn? Dalk ’n kinkel in die kabel?

Wel, kom ons stel dit so: Ek dink na al die kere wat dr. Annelize Roux (Cindy Swanepoel) gedink het sy kan iets doen sonder nagevolge of met iets wegkom, is Eben die enigste persoon wat haar swakhede kan uitwys vir die persoon wat sy was, en dít maak haar kragteloos teenoor hom.

34 zak hendrikz binnelanders 3


Is jy baie soos jou karakter, of verskil julle?

Ek dink enigiemand wat al verlief was kan verstaan wat mense sal doen vir liefde, maar in Eben se geval het dit ’n bietjie te ver gegaan. Hy het meer mense in die proses seergemaak as wat die beker van liefde kon volhou. En hopelik kom ek nooit tot só ’n punt in my lewe nie.

Vertel meer van jou ervaring op die stel. Het jy vinnig deel geword van die Binnelanders-familie?

Ek dink die Binnelanders-familie is een van die vriendelikste groep mense wat ek in ’n lang tyd ontmoet het – van die akteurs tot die tegniese span op die vloer. Dit is regtig ’n eer om saam met sulke ongelooflike talentvolle mense te werk, wat geen ego’s het nie en net die beste vir die produk wil hê.

Watter Binnelanders-akteurs bewonder jy veral?

Ek en Cindy Swanepoel stap al ’n baie lang pad saam. Ons ken mekaar al vir 15 jaar, was al in vyf teaterproduksies saam, is tans in RSG se daaglikse radiosepie Hartebreker en ek was bevoorreg om die silwerdoek saam met haar te kon deel in Ballade vir ’n Enkeling. Sy is nie net een van my beste vriendinne nie, maar een van die beste aktrises in die bedryf. Ek is mal oor haar talent, dryfkrag, professionaliteit en karakterisering wat sy tafel toe bring met enige projek. Die feit dat die publiek so min van Annelize hou bewys net hoe goed sy is, want sy is glad nie soos haar karakter in Binnelanders nie.

34 zak hendrikz binnelanders 2


Jy het voorheen aan verskeie flieks gewerk en is ook onder meer ’n choreograaf. Is dit moeilik om dan die sprong na ’n sepie te maak?

Ek het al amper ál die rolle in die bedryf vervul: regisseur, skrywer, vervaardiger, radio en choreografie. Ek het ook al in teater en film gewerk. Om in ’n sepie te wees was seker die moeilikste tot dusver. Ek dink nie ’n mens besef hoe hard hierdie mense werk nie.

As jy ’n moeilike storielyn het, is daar bladsye vol woorde om te leer. Ná 12 ure op die stel, gaan jy huis toe om die volgende dag se 10 000 woorde in jou kop te kry vir nóg 12 ure op stel. Naweke is ook vol woorde, want dit is die enigste tyd wat jy het om voor te berei vir die week wat kom. Dis mal! Maar as jy die resultaat op TV sien, weet jy al die harde werk het vrugte afgewerp.

As jy enige rol in enige medium kan vertolk, wat sal dit wees?

Dis ’n moeilike vraag om te beantwoord, want in teater het elke genre ook maar sy plek. ’n Mens kan nie industriële teater met musiekteater vergelyk nie. Só is TV en film ook wêrelde uitmekaar.

Wat ek die meeste van teater hou is dat daar elke dag ’n nuwe gehoor is wat iets vir die eerste keer kom kyk. Dus, al het jy daardie vertoning al 150 keer opgevoer, is dit elke keer anders en opwindend, want jy weet nie hoe die gehoor gaan reageer nie.

Wat ek van TV en film geniet, is dat jy net een kans het om dit reg te doen. As die regisseur besluit die “take” wat hulle nounet gedoen het is die één en jy dink dit was nie jou beste nie, is dit maar hoe dit is. Jy het net een kans vir iets wat op die skerm gaan wees vir die res van jou lewe.

Wat was die mees uitdagende rol wat jy al ooit vertolk het?

Ek het onlangs ’n film geskiet, Alison, gebaseer op Alison Botha se lewensverhaal. Enigiemand wat haar naam onthou en weet wat met haar gebeur het, sal weet haar storie is merkwaardig. Ek vertolk die rol van een van haar aanvallers, Frans du Toit.

Tydens die verfilming van dié “hybrid”-dokumentêr, het ek drie baie uitdagende tonele gehad. Ek het ’n ongelooflike regisseur gehad wat my baie mooi deur die proses gehelp het. Ek moet altyd onthou dis net ’n karakter wat ek vertolk; dis nie ek nie. Tog moet ’n mens die gewelddadige aksies insluit om te wys wat Alison alles oorkom het. Die fliek word in Augustus op die silwerdoek uitgereik.

Wat was die lekkerste rol wat jy al ooit vertolk het?

Ek het verlede jaar die rol van die tandarts in die muskieblyspel Little Shop of Horrors vertolk. Dit was nog altyd een van my bucket list-karakters en ek was bevoorreg genoeg om dit deel van my repertoire te maak. As ’n ekstra bonus was ek ook gelukkig genoeg om ’n Fleur du Cup- en Naledi-benoeming vir my rol te kry.

Wat weet min mense van Zak?

Ek het onlangs die produksiehuis Pit Produksies gekoop, wat opvoedkundige taalprogramme by IEB-skole opvoer. My akteurs dramatiseer die voorgeskrewe poësie en leesboeke vir graad 11- en 12-leeders regoor Suid-Afrika. Ek is tans besig om die regie te behartig vir vanjaar se boek, Hoopvol. So op die oomblik is dit ’n kombinasie van kreatiwiteit en administrasie.

As ek myself nie met Pit Produksies besig hou nie, het ek ’n plaas buite Randfontein. Ek boer met Kameroen-dwergbokkies en ek spesialiseer in bont donkies. Die plaas is ook tans besig om donkiemelkseep te vervaardig en gaan dit aan die einde van die maand aan winkels begin verskaf. Dis baie opwindend, aangesien ons die enigste mense in Suid-Afrika is wat donkiemelkseep vervaardig en ons kan ook met trots sê die seep is organies.

Ek gaan ook later die jaar die verhoogplanke by Monte Casino met Bobby van Jaarsveld deel in die musiekblyspel Droomkind.

Kyk Binnelanders, weeksaande om 19:30.