Logo
Binnelanders Slim Homepage 1600x160
web uni tv guide

Binnelanders

144Drama13

Binnelanders: Totsiens en hallo

Nuus
01 Maart 2016
As jy gedink het dat die naaste lughawe die beste plek is om afskeide en herontmoetings te aanskou, gaan Binnelanders in Maart vir meer as een verrassing sorg.
Binnelanders Maart 01

As jy gedink het dat die naaste lughawe die beste plek is om afskeide en herontmoetings te aanskou, gaan Binnelanders in Maart vir meer as een verrassing sorg.

Dr. Gustav ‘Goodstuff Grumpy’ Kemp se dae is letterlik getel, en kykers gaan in die volgende paar dae sien hoe die dokter se werksituasie vir hom al hoe minder aangenaam raak. Sy liefdeslewe is nou nie juis iets om oor huis toe te skryf nie, en dit wil voorkom asof een vrou met ’n digbewaarde agenda baie meer as net stoom afblaas saam met hom.

34 binnelanders maart 01


Sy werksdruk is van so ’n aard dat hy nie regtig op sake van die hart kan konsentreer nie, maar hoe nou gemaak indien daardie hartsake ook die nimlike kardioloog Annelize Roux insluit? En vir wat gee sy nou ewe skielik vir hom die koue skouer? Is dit nie reeds genoeg dat Ivanka Gouws se deurmekaar-hart syne aangetas het nie? En dan praat ons nie eers van Karli du Preez nie – sy sal haar geheime hartstog op ’n stadium aan hom moet openbaar, indien sy sterk genoeg daaroor voel.

Boonop word Gustav se bekwaamheid as hoof van Ongevalle só in twyfel getrek dat Jana du Preez deel word van hoe sake in die hospitaal hanteer word. Wanneer private sake hul weg vind in private sale, is dit ’n goeie resep vir groot moeilikheid!

34 binnelanders maart 02


At Koster is nie ’n man wat daarvan hou om te verloor nie, veral nie teen ’n kapokhaantjie soos Gustav Kemp nie, en wanneer hy ’n ding begin het, maak hy dit gewoonlik klaar – al moet hy dan nou ook hulp aanvaar van ’n gekweste tierkatjie.

Gepraat van skrif teen die muur. Daleen Jonker sit met baie meer probleme as oplossings. Sy het briefies teen ’n deur om te hanteer en ’n afperser wat baie nader aan haar is as wat sy eintlik sou wou weet. Dit moet seker heerlik wees vir Rossouw om ’n deelnemende toeskouer te wees in sy plan om Nina se fortuin sy eie te maak.

34 binnelanders maart 03


Ongelukkig vir Daleen is Rossouw en At se gevaarlike kat-en-muisspeletjie nie die grootste probleem in haar lewe nie. Daleen vermoed dat sy swanger kan wees, maar in hierdie geval is dit nie goeie nuus nie – nie na wat daardie aand gebeur het tussen haar en Tertius nie. Met beide Tertius Jonker en Pippa Malherbe wat gereed staan om weliswaar ‘pa’ te staan vir die kind, is ’n gewone bloedtoets om die resultate te bepaal glad nie die maklikste taak om te verrig nie. Iemand gaan seer kry in hierdie proses, en aangesien Daleen baie meer op die spel het om te verloor gaan sy seker probeer om die uitslag van die toetse vir so lank as moontlik uit te stel.

34 binnelanders maart 04


Tertius is natuurlik eens dat die aand van passie tussen hom en Daleen ’n goeie ding was – dit is ’n teken dat hulle bymekaar hoort, en dat hulle hul probleme kan uitsorteer. Daleen voel ongelukkig op hierdie stadium nie dieselfde nie. Of doen sy? Weet Daleen wat sy voel? En indien sy nog iets voel vir Tertius, gaan sy hulle ’n derde kans op geluk gun – of gaan sy eerder besluit om die hasepad te kies? ’n Deurmekaar hart is ’n rowwe terrein waarop daar nie altyd seepgladde antwoorde verwag kan word nie.

34 binnelanders maart 05


Morné Gericke het altyd ’n seepgladde antwoord vir alles – rowwe terreine al dan nie. Wanneer daar vir die soveelste keer ’n situasie ontstaan in die Ferreira-huishouding waar hy voel dat hy nie sy “grootmens”-lewe ten volle kan leef nie, besluit hy om sy eie potjie te krap – al is daar nou nie veel in die potjie om te krap nie.

Waarheen sal hy trek? En gaan hy uiteindelik dié wêreld kan betree sonder om ’n paar keer te struikel en te val? Kom ons hoop net dat sy huidige besluite nie ’n groter invloed op sy toekoms – en dié van Liezl, Shelton, Okkie en Ilse – sal hê nie.

“Slim vang sy baas” lui die bekende spreekwoord – maar wie is nou eintlik die baas? Dít is die vraag wat beantwoord moet word wanneer Mikey Vermeulen opdaag in Pretoria en begin soek na iemand wat ons almal baie goed ken. Kan dit wees dat ’n spook van die verlede helder oordag net weer hul verskyning kan kom maak – toegedraai in verbande en in ’n kritieke toestand? Of jaag ons nou net weer spoke op?

34 binnelanders maart 06


Die aankoms van die onbekende pasiënt maak dinge moeilik vir die Abrahamse, wat eintlik reeds ’n plan beraam het om vir hulself ’n beter toekoms te verseker– al is dit dan nou ook elders, en nie in Pretoria nie. Wanneer At vir Steve betrek by ’n sensitiewe saak, ry dit baie meer in die wiele vir die sjarmante plastiese chirurg en sy vrou as wat At ooit sal kan besef. “Plig voor plesier”, maar hoeveel plesier kan dit nou wees wanneer jou plig die rede is vir ’n paar wit leuntjies wat die rondte moet doen om iemand anders se waarheid te verdoesel? En wie op aarde is Danny?

34 binnelanders maart 07


Die groot ontploffing vind natuurlik plaas lank voor die verbande van die onbekende pasiënt se gesig gedraai word, en in die helder lig van die waarheid is daar ’n hele paar tergende vrae wat beantwoord moet word voor elkeen weer hul eie vervlegte lewenspaaie sal kan volg.

Al ruk die “totsiens” jou hart uit jou bors in Maart op Binnelanders, gaan die “hallo” bitter plesierig raak wanneer die skokgolwe hulself eers uitgewoed het in die gange van die hospitaal.

Moenie Binnelanders, elke weeksaand om 19:30 op kykNET, misloop nie!