Vandeesweek op Binnelanders duur die kwarantyn-drama voort.
Wanneer die meisies ’n ekstra kwarantyn-gas in hul woonstel kry, besef hulle dat kwarantyn en kommunikasie nie noodwendig pasmaats is nie. Dit is moeilik om die vrede in ’n klein spasie te bewaar.
Herman en Jana kry hul uitslae, en ’n ete word kortgeknip deur ’n krisis – en dan is daar ’n koors wat net nie wil breek nie. Herman meen hy het moontlik ’n oplossing.
’n Splinternuwe krisis, ’n voedseltekort, duik later op, en Rian kry dit nie oor sy hart om sy nuus met Herman te deel nie.
Jana moet vure doodslaan, en boonop word sy deur Karli se pa blameer. Later in die week is daar ’n nuwe bekommernis in kwarantyn, en Karli se uitslae word bekendgemaak.
Moenie Binnelanders, weeksaande om 19:30 misloop nie.