Logo
Binnelanders Slim Homepage 1600x160
web uni tv guide

Binnelanders

144Drama13

Binnelanders: Elke huis het sy kruis

Nuus
03 Mei 2016
Jou huis is waar jou hart is, of so word daar gesê. Maar hoe dan nou gemaak as die prioriteite van jou hart verskuif? Moenie Binnelanders in Mei misloop nie!
Binnelanders Mei 1

Jou huis is waar jou hart is, of so word daar gesê. Maar hoe dan nou gemaak as die prioriteite van jou hart verskuif? Beteken dit jou huis verskuif ook? Kom ons hoop dit is nie die geval met enige van die Binnelanders nie, want Pretoria sal maar net nie dieselfde wees sonder hul kaskenades nie.

Moedersdag word regoor die ganse Suid-Afrika gevier, maar dit wil voorkom asof Herman du Preez van hierdie dag gaan vergeet. Sy kop is so besig met die muisneste wat broei en sy ma wat maar net nie die nooi kan goedkeur waarop hy sy ogie het nie, dat dit vir niemand snaaks sal wees as hy eers onthou om vir Jana ’n kaartjie te koop op 8 Mei nie.

Jana hou nou maar een maal nie van dr. Annelize Roux nie, en wanneer dinge wil-wil begin vlam vat tussen haar oogappel en die kardioloog, kan die oorbeskermende moederhen seker maar net die sterre dank dat Eben in die prentjie beland het.

34 binnelanders mei 1


Eben en Annelize se gedeelde verlede gaan nie net veroorsaak dat sy ’n keuse gaan moet maak oor haar toekoms (wat maar baie verdeeld wil voorkom op die oomblik) nie – sy gaan ook moet besluit of sy die kat of die muis is in die skielike speletjie wat daar tussen haar en haar ‘broer’ ontstaan. Elke huis het sy kruis, maar regtig: hoeveel kruise wil jy nou in een huis dra?

Eben se ware kleure maak hom baie gevaarliker as ’n samesmelting tussen ’n manteldraaier en ’n verkleurmannetjie, en Annelize gaan uitgeslape moet wees om te verseker dat ’n baie belangrike pasiënt nie die onderspit delf in hul magstryd nie. Wanneer sy vir Steve betrek by die hele gemors, is die gort behoorlik gaar! Ons hoop maar net dat Steve die regte keuses maak in die lange duur.

34 binnelanders mei 2


Maar waar laat hierdie magstryd tussen Eben en Annelize vir Kupido en sy liefdespyle? Behalwe dat Februarie lankal iets van die verlede is, is daar ’n nuwe bokkie op die horison wat blykbaar maklik ’n gat in die kop gepraat kan word – Suzaan. Maar is sy net die hekwagter tot ’n goudpot aan die einde van ’n reënboog? Of kan dit waar wees dat sy dalk net die regte tipe katalisator is vir Annelize om jaloers te raak op haar ‘broer’ se doen en lates?

34 binnelanders mei 3


Gepraat van reënboë: dit wil voorkom asof daar uiteindelik lig is aan die einde van die donker tonnel vir ons geliefde ‘anderkant die spoorlyn’-meisie! Ivanka maak so ’n groot indruk op Steve, dat hy haar met groter verantwoordelikhede wil vertrou.

Die ambisieuse Ivanka gaan natuurlik nie “nee, dankie” sê vir ’n geleentheid om vir almal te wys wat werklik in haar steek nie, maar eers gaan sy oor ’n persoonlike struikelblok moet kom – At Koster. Dit wil voorkom asof die twee maar net nie uit mekaar se hare kan bly nie. Gaan Ivanka die waarheid kan aanvaar, en gaan sy kan voortgaan met die nuwe rigting waarin haar paadjie slaan – of gaan sy ou koeie uit die sloot grawe en sodoende haar eie toekoms saboteur?

34 binnelanders mei 4


Ongelukkig is At nie die enigste doring in Ivanka se vlees nie. Margie verdwyn en laat vir Ivanka met ’n klein presentjie – iets waarvoor Ivanka dalk nog nie heeltemal voorbereid op is nie. Hoe berei jy jouself voor om in so ’n kort tydjie so ’n groot gros ‘grootmens’-besluite te moet neem? Bloed is dikker as water, maar is al hierdie dinge nie net ’n bietjie te dik vir ’n daalder nie?

34 binnelanders mei 7


Oom Wimpie raak moeg vir alleen wees en besluit om iets omtrent die saak te doen. Maar waar gaan ’n man van sy statuur die tipe vrou kry wat hy verdien? Gelukkig het sy kleindogter alreeds ’n helpende hand gehad in sy kennis van die kuberruim – maar sal dit vir hom die tipe liefde kan gee wat hy wil hê? Of gaan hy alweer fout vind met die keuses wat die kuberruim hom bied?

Ongelukkig is dit nie vir almal maanskyn en rose nie. Morné se tienerjare is definitief iets van die verlede, veral wanneer hy vir die soveelste keer soos ’n grootmens moet begin dink. Verantwoordelikhede maak dit moeilik om verhoudings in stand te hou, maar is hy nie besig om die balans in sy lewe te verloor nie?

34 binnelanders mei 6


Die lewe het ’n snaakse manier om deure toe te maak, en wanneer Morné met ’n metaforiese rotsstorting te doen kry, gaan ons almal moet hoop en bid dat dit nie sy toekomsplanne permanent in die wiele gaan ry nie. Gelukkig is daar altyd hoop, geloof en liefde – maar net Morné gaan weet watter keuses hy gaan maak onder baie moeilike omstandighede.

34 binnelanders mei 5


Danny en Adelyn sit glad nie om dieselfde vuur nie. Hulle gedrag is ook alles behalwe professioneel en laat veel te wense oor. Is daar dalk iets wat hulle met ons wil deel, of sien een van die twee dalk neer op die ander? Of is Bronwyn se vermoedens dalk baie meer in die kol as wat enigiemand anders kan raai?

Siende dat Eben ’n spook uit Annelize se verlede was, kan ’n mens maar net wonder of Dries dieselfde rol vervul – net in iemand anders se lewe? Die groter vraag is: hoe het hy geweet hy moet Pretoria toe kom om sy pond vleis te eis? En gaan sy besluit makliker gemaak word indien hy munt kan slaan uit die besluite wat hy moet maak? Een ding is verseker: ’n tierwyfie is nie iets wat jy sonder handskoene aanpak nie – veral nie wanneer dit die welstand van nasate beïnvloed nie.

Kom skuif ’n bietjie nader en geniet Binnelanders, elke weeksaand om 19:30. Onthou ook dat daar ’n omnibus elke Saterdagoggend is, net ingeval jy dalk nie by al die kykNET-genot uitkom gedurende die week nie!