Logo
Binnelanders Slim Homepage 1600x160
web uni tv guide

Binnelanders

144Drama13

Binnelanders: September deel dwarsklappe uit

Nuus
06 September 2016
’n Gesteelde rewolwer, ’n resies vir aandele en ’n hele paar digbewaarde geheime – jy wil nie Binnelanders in September misloop nie.
Binnelanders September 2016 1

Net soos wat September ’n nuwe seisoen inlei, en die weer verwelkomend verander, is daar beslis nuwe dinge waaraan baie van die Binnelanders gewoond gaan moet raak in hierdie maand.

Die Ferreira’s is nie die enigste gesin wat hard getref gaan word met die verandering wat van vandag af in die lug te bespeur is nie. Op 14 September daag Belinda Eksteen (gespeel deur die fenominale Amanda Strydom) op, en sy is ’n vrou wat haar nie maklik van stryk gaan laat bring nie. Gaan Okkie dit oor sy hart kry om sy vermoedens met Naomi te deel, of is hierdie geheime vermoede iets wat hy saam met hom na sy graf gaan neem? En is Belinda die tipe vrou met wie ’n mens kan redeneer?

34 binnelanders september 2016 2


Dit wil ook maar nie lyk asof die stof maklik gaan lê in die Malherbe-huishouding nie, veral nie wanneer At Koster betrokke raak, en Tertius Jonker vir Pippa inligting gee wat haar hele lewensuitkyk gaan verander nie.

34 binnelanders september 2016 3


Pippa gaan ’n paar moeilike besluite moet neem. Hoe vertrou jy ’n man soos Rian Malherbe? En gaan Rian se donker konkelwerk uiteindelik ontbloot word? Pippa gaan beslis met nuwe oë na haar geliefde kyk, veral wanneer sy deur die polisie ondervra word oor ’n paar kwessies waarvan sy glad nie bewus was nie. ’n Mens hoop van harte dat Rian nie die pad so byster geraak het dat hy vir Pippa gaan verloor nie – die vraag is natuurlik net of hy nie alreeds homself verloor het in sy wraak nie?

Die nuwe dinamika in die Abrahams-huishouding word ’n paar keer getoets, wanneer Lexi besluit om ’n fondsinsamelingsprojek te loods vir die komende matriekafskeid. Gelukkig het sy ’n ma en ’n pa wat albei baie in haar aktiwiteite belangstel, maar wanneer Deon en Karli ook nog betrek word kan ’n mens maar weet dat dit of op ’n ramp gaan afstuur, of ’n groot sukses gaan wees. Dit kan natuurlik ook uitloop op albei, asook iets heeltemal ANDERS.

34 binnelanders september 2016 4


Gelukkig is Bronwyn en Steve volwassenes, en sal hulle hopelik, ter wille van Lexi, ’n manier vind om op ’n skaflike manier met mekaar te kommunikeer. Gaan hierdie twee mense tyd kry (of kan maak) om ordentlik met mekaar te praat? Bronwyn moet Pippa bystaan wanneer die lewe vir haar nie een nie, maar twee, groot dwarsklappe gee, en dan moet sy ook besluit hoe sy voel oor ’n ander man se nabyheid en ondersteuning. Steve word belas met ’n taak waarvan hy amper net mooi niks weet nie, en dan moet hy ook nog wilde gerugte (wat soos ’n veldbrand versprei) uitsorteer.

Dit wil ook voorkom asof Jana nie heeltemal haarself is nie – en wie kan haar nou blameer? Die arme vrou se tydjie agter tralies, en die ontmaskering van vriend as vyand, kan ’n bietjie te veel raak vir een mens om te hanteer. Sy dra soveel skuldgevoelens binne haar rond, dat dit baie maklik is vir haar varkies om nie almal op hok te wees nie. Karli is die eerste een wat agterkom dat alles nie heeltemal pluis is nie, maar wat kan sy nou doen om haar ma te help?

34 binnelanders september 2016 5


’n Gesteelde rewolwer, ’n resies vir aandele, ’n hele paar digbewaarde geheime wat uiteindelik die lig sien, en onkeerbare emosies wat deur die damwal van professionaliteit breek, is maar net ’n paar van die intriges wat in September op kykers wag.

Hou maar die snesies byderhand: hier is meer as net kragtige tonele en ’n tsoenami van hartsake wat die kleinskerm gaan tref in September – en jy wil nie een enkele oomblik daarvan misloop nie!

Kyk Binnelanders, weeksaande om 19:30.