Logo
Wie Word 'n Miljoenêr S2
web uni tv guide

Wie Word 'n Miljoenêr?

144Spelprogram13

Word iemand in 2023 ’n miljoenêr? – Wie Word 'n Miljoenêr

Nuus
12 Desember 2022
Die aanbieder, Rian van Heerden, sal deelnemers se algemene kennis oor 26 episodes op die proef stel.
Wie Word 'n Miljoenêr

Kennis is mag en moontlik ’n miljoenrand werd vir iemand, wanneer een van die wêreld se gewildste vasvraprogramme op Woensdag 25 Januarie 2023 na Suid-Afrikaanse televisieskerms terugkeer.

kykNET beloof dat die tweede seisoen van Wie word ’n miljoener weer ’n naelbyter gaan wees, wanneer Rian van Heerden deelnemers se algemene kennis oor 26 episodes op die proef gaan stel.

Soos tevore moet daar 15 meervoudigekeusevrae beantwoord word om na die finale ronde, waar die gesogte miljoen rand gewen kan word, deur te dring.

Langs die pad is daar vier hulplyne, waarvan deelnemers drie mag gebruik: “oor na die gehoor”, “bel ’n pel”, “50/50” en “vra die aanbieder”. “Vra die aanbieder” is ’n nuwe hulplyn waar daar vir Rian gevra kan word of hy die antwoord weet.

Vir die nuwe seisoen is daar boonop ekstra aansporings vir deelnemers met vrae 10 en 11, wat nou onderskeidelik R50,000 (was R40,000) en R70,000 (was R65,000) werd is.

’n Ander nuutjie is dat diegene wat tot vraag vyf deurdring en die eerste vangnet van R10,000 bereik het,  ’n eenmalige geleentheid het om self die tweede vangnet op enige plek op die prysleer (tussen vrae 6 en 14) vas te maak.

Niemand het tot op hede Wie word ’n miljoenêr? se miljoenrandvraag geantwoord nie, maar ’n handvol deelnemers is groot kontantbedrae ryker. Só was die sakejoernalis en skrywer, Theunis Strydom, die grootste pryswenner in die eerste seisoen toe hy R500,000 gewen het.

Bly ingeskakel vir die nuutste ontwikkelinge rondom die program en gesels saam aanlyn: Volg die hutsmerk #WieWordnMiljoener op Twitter, Facebook en Instagram.