Logo

Wit seile en donker dieptes in Waterfront

Nuus
29 Mei 2017
Waterfront gaan vanaf Oktober op kykNET uitgesaai word.
Waterfront Bill

Milan Murray, Trix Vivier, Stian Bam en Rolanda Marais is van die bekende gesigte wat vanaf Oktober in Waterfront te sien gaan wees.

Drie susters – Julia (Milan Murray), Anna (Rolanda Marais) en Kate (Trix Vivier) – is van kleins af omring deur die romantiese swier en status van hul pa (Dawid Minnaar) se bootbou-onderneming. Hul paaie het reeds jare terug geskei, maar ’n familie-tragedie bring al drie terug na die plek waar hul jeug en kinderdae afgespeel het – die Waterfront in Kaapstad. Hierdie wêreldberoemde toeriste-aantreklikheid dien as agtergrond vir dié splinternuwe drama wat onder die glansryke oppervlak van die seiljagbedryf duister geheime van die Myburgh-familie ontbloot.

Waterfront, wat vanaf Oktober op kykNET (DStv-kanaal 144) te sien sal wees, bring ’n gedugte span voor en agter die kameras bymekaar. Die drama is geskep deur Marida Swanepoel en word vervaardig deur Lion’s Head Productions. Leon Kruger het die draaiboek geskryf. Die verfilming begin eersdaags in Kaapstad onder leiding van die veelbekroonde regisseur Jaco Bouwer, onder meer bekend vir die gewilde misdaadreeks Die Boland Moorde en hoog aangeskrewe teaterstukke soos Rooiland en Samsa-Masjien.

Die Myburgh-susters se ma word vertolk deur Joanie Combrink, terwyl Stian Bam en Edwin van der Walt onderskeidelik die eggenoot en seun speel van die middelste suster, wat weens omstandighede moes terugkeer uit Londen met meer as net haar bagasie.

Dinge raak warm wanneer die bankstate nie meer met die luukse leefstyl van die Myburghs klop nie en ’n onverwagse dood ’n draadjie lostorring wat dreig om alles te laat ontrafel.

Ander bekende akteurs wat in Waterfront ’n buiging maak is Euodia Samson, Paul du Toit, Erica Wessels, Hannes van Wyk, Charlton Lee George, Albert Pretorius, Neels van Jaarsveldt en Tarryn Wyngaard.

Die reeks sal vanaf Oktober 2017 op kykNET (DStv-kanaal 144) te sien wees.