Logo
Diepe waters cast
web uni tv guide

Diepe Waters

144Drama13 VL

Skedule-aanpassing op kykNET vanaf Oktober 2022

Nuus
14 September 2022
Vind uit watter tye word Suidooster en Diepe Waters op kykNET vanaf 3 Oktober 2022 uitgesaai.
Suidooster cast

kykNET DStv-kanaal 144 se spitskyktydskedule sal vanaf 3 Oktober 2022 afskop met die gewilde sepie Suidooster om 18:00 gevolg deur die nuwe telenovelle Diepe Waters om 18:30.

Suidooster, wat sedert 2015 wys op kykNET (DStv-kanaal 144) en kykNET&kie (DStv-kanaal 145), is pas by die SA TV-toekennings, die Saftas, aangewys as die land se beste sepie. Suidooster is die afgelope jare op beide kanaal 144 en kanaal 145 in dieselfde tydsgleuf, om 18:30, uitgesaai.

Met hierdie skuif kry Premium-intekenare ’n groter keuse van Afrikaanse programme om te geniet in elke tydsgleuf op kykNET en kykNET&kie.

“Die nuwe gleuf vir Suidooster en die bekendstelling van Diepe Waters differensieer die aanbod op die twee kykNET-kanale en bou voort op ons strategie om beide kanale se unieke aanbod te groei. kykNET bly verbind daartoe om vir al ons kykers die beste kykervaring te bied,” beklemtoon Waldimar Pelser, M-Net Direkteur vir kykNET-kanale.

Suidooster is oorspronklik in 2015 om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en om 20:00 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) geloods, met drie episodes per week. Die Kaapse sepie is in 2018 uitgebou tot ’n vyf-dag sepie.

Die splinternuwe kykNET-telenovelle Diepe Waters sal vanaf 3 Oktober 2022 van Maandae tot Donderdae uitgesaai word in die 18:30-tydgleuf. Diepe waters speel af in-en-om ’n kompeterende swemklub, Die Swartmarlyne, wat deur Gys Swarts besit word. Die Swartmarlyne-swemklub is ’n familiebesigheid waarby albei Gys se seuns, Rossouw en Jacques, betrokke is. Die rolverdeling, wat onlangs bekend gemaak is, sluit in Justin Strydom in die rol van Gys Swarts, asook ander geliefde akteurs soos Nadia Valvekens, Sandi Schultz, Altus Theart, Neels van Jaarsveld, Stephanie Baartman, Lizz Meiring, Eloise Cupido en Lea Vivier.

Die kykNET&kie (DStv-kanaal 145) weeksaand-skedule by onveranderd met opwindende nuwe programme wat in Oktober op Saterdae afskop. Sê jou sê met aanbieder Aiden Thomas begin op 1 Oktober 2022 om 19:30 en in Januarie 2023 begin die nuwe internasionale realiteitsformaat My ma kook beter as joune! Voornemende deelnemers kan nou inskryf om deel van hierdie nuwe program te wees.

Besoek www.kykNET.tv vir meer inligting.