Logo
Die brug S1 Slim BB

Wie gaan die mes in jou rug steek? – Die brug

Nuus
15 Desember 2023
Moenie verder lees as jy nog nie episode 8 gekyk het nie.
Die brug ep 8 article image

Jy kan beplan soveel jy wil. Jy kan groepies maak en alliansies vorm. Jy kan hard werk en oënskynlik in almal se goeie boekies wees. Maar wanneer dit by ’n realiteitsreeks soos Die brug kom, kan selfs dié wat dink hulle is die veiligste, nie seker wees dat iemand nie tog gereed staan om hulle in die rug te steek nie. 

Episode 8 se titel is “Self-opoffering”, en ná die naelbyt-einde van die vorige episode, waar die spelers gevra is wie hulle sal opoffer, is daar niemand verwyder nie, maar die spelers moes wel die moeilike vraag beantwoord. Die meeste spelers het gesê hulle sou vir Jamie verwyder, terwyl Larry en Melanie gesê het hulle is bereid om hulself op te offer – ’n besluit wat hulle later sou berou. 

Jamie het erken sy het vertroue in mense verloor en besef haar toekoms in die spel hang in die weegskaal. Geo het teenoor die kamera gebieg dat dit al moeiliker raak om meedoënloos te wees, aangesien hy die res van die spelers meer intiem leer ken het. 

’n Aflewering van die poskan het weer gewys hoe die spelers mekaar ook kan ondersteun toe die brief gesê het slegs vyf van hulle mag na videoboodskappe van hulle geliefdes kyk. Tina, Jamie, Rob, William en Jacques het elkeen ’n beurt gekry het, en baie trane het geloop terwyl hulle na die boodskappe luister. 

William het die eerste keer sedert die begin van Die brug sy hart oopgemaak en vir die res vertel dat hy geen kontak met sy familie het sedert sy pa se dood vier jaar gelede nie. William, wat graag met die ma van sy seun wil trou, het gesê hy het die afgelope tyd veral besef geld is nie alles in die lewe nie. Larry het gesorg vir ’n ligter oomblik toe hy skerts dat Die brug-spelers as familie aan die hooftafel by die bruilof gaan sit.

Dit word al hoe duideliker dat alliansies tussen spelers nie so sterk is as wat dit voorkom nie. Verhoudings het begin wankel, en Tina het gesê sy’s moeg vir die agteraf gefluister. “Ek wil net my eie game speel,” was haar woorde. 

Nog ’n fakkel en brief het die lewe vir Melanie en Larry moeilik gemaak toe daar vir hulle gesê word hulle twee moet besluit wie volgende van Die brug verwyder moet word. Sal hulle Geo, een van die sterkste spelers, vra om sy tasse te pak? Kyk na episode 9 en vind uit.

Skakel elke Donderdag om 20:00 in op kykNET, kanaal 144 vir Die brug en gesels saam op FacebookXInstagram en TikTok deur die hutsmerk, #DieBrug te gebruik.