Logo

Welkom by Boer Soek ’n Vrou 9!

Nuus
21 Oktober 2016
Vanjaar se boere is divers, met plase wat regoor die land versprei is. Aanbieder Minki Joubert het hulle hierdie week vir die eerste keer in lewende lywe ontmoet.
BSV Minki Ep.1

Boer Soek ’n Vrou se negende seisoen het aangebreek! In Mei 2016 is kykers aan vanjaar se tien hubare boere bekendgestel en oor die volgende 13 weke gaan ons hulle beter leer ken.

Hierdie jaar se boere is divers, met plase wat regoor die land versprei is. Vandag ontmoet aanbieder Minki Joubert hulle vir die eerste keer in lewende lywe.

Johannes (27), wat in die pragtige Robertson-omgewing met wyndruiwe en vrugte boer, is eerste aan die beurt. Dié boer geniet dit veral om met wyndruiwe te werk.

“Ek hou daarvan om my eie sukses te bepaal,” sê Johannes. “Dit gaan oor wat jy van jouself dink. Ongelukkig is ek hard op myself.”

Intelligensie is iets waarna hy in ’n pasmaat op soek is, vertel hy later vir Minki. Hy wil oor ander dinge, “dieper” as die alledaagse, met sy droomvrou kan gesels.

’n Mens wil needed voel, sê die boer verder, maar jy wil aandag aan iemand anders gee omdat jy wíl en nie omdat jy voel jy móét nie.



Die Boer Soek ’n Vrou-bakkie stop volgende in Beaufort-Wes, waar Erhard (64), die oudste boer wat aan vanjaar se seisoen deelneem, met Angorabokke en skape boer.

Hierdie boer maak boonop biltong wat hy by ’n padstal verkoop, en meen hy is meer van ’n sakeman as ’n boer. Hy vertel hy het na skool ondernemings begin, wat hom later in staat gestel het om plase te koop. “Ek is baie lief vir besigheid, maar ek is ook baie lief vir boerdery.”

In sy vrye tyd, wanneer hy nie geselskap het nie, “gesels” hy maar met die hout. Erhard is ook ’n kranige meubelmaker.

“Sy moet vir MY mooi wees,” sê Erhard oor sy ideale pasmaat. Verder is eerlikheid ’n belangrike eienskap en hy is op soek na iemand wat hom sal verstaan.

Hy het al ’n paar vriendinne gehad, vertel hy vir Minki, “maar Mrs. Right het nog nie gekom nie.”

Op sy ouderdom is hy op soek na ’n “maat” en iemand wat dinge saam met hom kan geniet.



Volgende aan die beurt is Johan (34), wat in die Victoria-Wes-omgewing met skape boer.

Johan het twee jaar gelede op dié plaas, wat eers aan sy oupa behoort het, kom boer. Voor hy die stad se liggies vir die plaaslewe verruil het, het hy in Kaapstad in die tweedehandse motorbedryf gewerk.

Vir dié sosiale vlinder sal dit lekker wees as sy maat dinge saam met hom kan doen. “Ek is baie liefdevol,” sê Johan. “Dis mos ’n spesiale gevoel as daar ’n konneksie tussen twee mense is.”

Hy is baie erg oor kinders, sê hy, en die buurman se kinders loer gereeld by hom in.

Skole is egter ver weg, die winkels in die dorp is toe op Sondae en so meer, so dit gaan ’n spesiale vrou verg om haarself op die plaas te vestig.



Newcastle is die volgende stop, waar Arno (27) ’n gemengde boerdery bedryf.

Gou is Minki agter die stuur van die stroper, en volg sy en Arno die mielies van die land tot by die silo’s en die meule. Later, wanneer hulle tyd het om te gesels, sê die boer hy maak nie maklik teenoor iemand oop wat hartsake betref nie. Hy beskou homself nogtans as iemand wat goed kan kommunikeer. “Sodra ek iemand vertrou praat ek lekker gemaklik oor wat in my hart aangaan.”

Sy maat moet ook die “lekker” kan ervaar wat hulle op die plaas ervaar, sê die boer, maar sy hoef beslis nie op die plaas doenig te wees nie.

Dié boer draai nie doekies om nie: hy wil aangetrokke wees tot sy maat (sy moet darem ’n mooi prentjie wees). Verder is hy op soek na iemand met ’n sterk persoonlikheid wat weet wat sy in die lewe wil hê (“’n opinie van haar eie”). Sy moet ook gelowig wees.

“Jy weet jy het ’n baie hoë verwagting,” spot Minki. “Dis ’n mondvol,” sê die boer, “maar dis eintlik nie so baie nie: spontaan, sterk persoonlikheid en lief wees vir die Here.”



Die volgende enkelloper wat Minki gaan besoek boer naby Nigel. Pieter (31) boer met sojabone, mielies, skape, beeste en “moeilikheid”, en woon in ’n plaashuis wat in 1937 gebou is. Hierdie boer is onlangs saam met sy broer as TLU se “jong boer van die jaar” aangewys.

Pieter hoop vir ’n “Godvresende” vrou, wat positief, lojaal, eerlik, opreg en vol ambisie is, en daarvan hou om “haar eie ding te doen”. Sy moet verder stilte kan waardeer, maar ook lekker kan gesels.

Is hy nie te besig vir ’n vrou nie? wil Minki weet. “Ons werk net in die dag, so in die nag is daar mos tyd!” spot Pieter.

Hy meen hy is nie op die oomblik in ’n verhouding nie omdat hy te vinnig geoordeel word en dalk as stil en teruggetrokke voorkom. Hy is ook al weird genoem, “maar dis ’n kompliment,” lag hy.



Minki neem hierna die pad na die Roedtan-omgewing om vir Leon-Fritz (29), wat ’n gemengde boerdery bedryf, te ontmoet.

“Jy kan nie boer as jy nie glo nie,” sê die boer vir Minki wanneer hulle oor die afgelope ruk se droogte gesels. ’n Gelowige vrou aan hierdie boer se sy is dus vir hom baie belangrik.

Hy maak baie vinnig ’n “call” wanneer hy iemand vir die eerste keer ontmoet, sê Leon-Fritz. Omdat daar gevoelens op die spel is, sal hy dinge vinnig stopsit wanneer hy nie ’n potensiële verhouding kan insien nie.

Hy wil nie op hierdie stadium in sy lewe die eerste vrou wat oor sy pad kom “aan die hand gryp”, net omdat hy nou ouer raak nie, meen hy. “Ek wil seker wees.”

Dié boer bly hoop vir die een wat hom van sy tor gaan afgooi.



Dan is dit Oos-Kaap toe, en Minki kuier eerste by Wessel (31), wat op ’n sprokiesmooi plaas buite Cradock met skape en pekanneute boer.

Hy beskyf homself as gelukkig en kom beslis tevrede voor, maar hy sal soveel meer gelukkig wees met die regte persoon by hom op die plaas, sê hy. Met hope avontuur op sy voorstoep kan dié boer sien hoe ’n maat hier gaan kan aard.

Oefening is vir hom belangrik, en hy sal graag ’n gebalansseerde lewe saam met sy vrou wil geniet.

Hy hoop dat sy oë die eerste ding sal wees wat iemand raaksien. “Ek hou van oogkontak,” sê hy. “Ek was vier jaar lank in ’n ernstige verhouding en het baie daaruit geleer,” vertel Wessel verder. Hy sal byvoorbeeld ’n langafstandverhouding volgende keer anders wil aanpak, sê hy.



Alexandria is die volgende stop, en Minki klop aan by die melkboer Cornè (30).

Hierdie boer het sy hande vol, want ’n melkplaas staan vir niemand stil nie – ook nie oor ’n naweek nie.

Almal in die Oos-Kaap is Engels, sê die boer, wat dit soms uitdagend maak om vriende te maak en vroue te ontmoet.

Hy gee “alles wat hy kan” vir iemand waarvoor hy werklik lief is en oor omgee, sê Cornè. Is hy ’n lover of ’n fighter? vra Minki. Hy is ’n lover, lag die boer.

Hy meen daar is nie tyd vir speletjies nie; hy weet wat hy wil hê. ’n Vrou wat mooi is van binne en na haar medemens uitreik gaan veral sy aandag trek.



Willowmore se uitgestrekte landskap lê voor en Minki maak ’n draai by Hennie (26), ’n veeboer.

Behalwe vir sy vee is dié boer passievol oor restourasiewerk, en geniet dit veral om ou huise op te knap en die eindproduk te aanskou.

“Soms moet jy ook wegkom,” sê hy en hy vat graag die pad – grondpad of teerpad – om bietjie weg te breek.

Hierdie boer straal dankbaarheid en geluk uit en ’n vrou wat die lewe geniet sal sy hart steel. Die vrou van sy drome is iemand wat gelukkig is om aan sy sy te wees en ’n goeie ma vir sy kinders kan wees.



Knysna is die laaste bestemming, waar die melkboer Rob (39) vir Minki verwelkom. Douvoordag wys die boer vir Minki hoe die melkery werk, en later is daar tyd vir gesels.

Rob het professioneel in Johannesburg geroei voordat hy homself op die plaas begin vestig het. “Vyf jaar in Johannesburg is bietjie lank,” sê hy.

Hy vertel vir Minki meer van ’n ongeluk wat hom vir ’n paar maande teruggehou het – ’n harde val waartydens hy sy rug op twee plekke gebreek het. Hy moes ook ’n heupvervanging kry.

Rob sien ’n verhouding as ’n vennootskap, omdat elkeen goeie én slegte eienskappe het. Dis hoe julle pas wat ’n rol speel, meen hy.

Hy sal nie elke naweek blomme aandra nie, maar geniet dit om naby aan sy maat te wees. Aanraking is dié boer se liefdestaal.



Volg saam met ons die boere in hul soeke na liefde op die kassie, ons webblad en sosiale media!

Boer Soek ’n Vrou is Donderdae om 20:30 op die kassie.


Herhalings word Vrydae om 13:30, Sondae om 10:00 en 21:30, Maandae om 10:30, Woensdae om 11:00 en Donderdae om 09:30 uitgesaai.