Logo

Wat ’n avontuur! – Boer Soek ’n Vrou 11

Nuus
10 Januarie 2019
Ons kyk terug na Boer Soek ’n Vrou se opwindende elfde seisoen.
BSV-Reunie

Die boere en hul liefies het vir oulaas saamgekuier. FOTO: Vanuit die episode

 

Alle goeie dinge kom tot ’n einde! Só het die Boer Soek ’n Vrou-gordyn vir die elfde keer op tien hubare deelnemers en hul maats gesak. Hulle het vir oulaas byeengekom by Blue Bay Lodge in Saldanha.

Die boere se liefdespaaie was soms vol draaie, maar die produksiespan en aanbieder Leah het die duisende kilometers wat hulle moes aflê tydens verfilming met ’n glimlag gedoen. Soos Leah tereg sê: “Om die kans op liefde te waag is elke kilometer werd!” 

Rèan het die skoot hoog deur, al het hy sonder sy nooi by die reünie opgedaag.

“Ek is vrede,” het hy gesê. “Ek het my trophy wife ontmoet.”

Die boer se “trouvrou” is Rox-Zee, ’n Engelse vrou van Durban wat van dag een af sy voete onder hom uitgeslaan het. Sy was in Engeland toe dié episode opgeneem is.

“Ek gaan seker met haar trou. Ek wil!

“Ek is dankbaar vir alles. Ek kry sommer ’n knop in my keel. Dis waarvoor ek gehoop en gebid het,” het hy oor sy liefdesreis gesê.

Marx dink Cassie en Alyssa lyk of hulle aan mekaar “vassit”, maar hulle is “baie oulik”.

Rèan meen dit lyk of daar “iets” is van Alyssa se kant, maar nie van Cassie af nie. “Ek sien nie rêrig te veel daar nie.”

Volgens Cassie is hy en sy blonde metgesel nog nie in ’n verhouding nie. “Ek hou baie van Alice (soos hy Alyssa noem) en ek dink sy voel dieselfde oor my, maar ek wil net nie in iets spring en dan werk dit nie uit nie,” het hy aan Leah gesê.

Nie Rèan óf Duncan was seker oor Toanette en Nardus nie. Byron ook nie: “Ons is self ’n bietjie deurmekaar”. Toanette het dit probeer uitklaar: “Die konneksie is daar. Ons sal mekaar ’n soen en ’n druk gee en hande vashou . . .

“Dit gaan oor mekaar leer ken,” het sy gesê.

Kelly was nêrens te sien nie. “Dinge het nie so goed vir ons uitgewerk nie,” het Duncan gesê. Hulle is nou net vriende. “Sy het besluit om nie na die reünie te kom nie.”

Byron het met Sharni, wat ’n liefde vir landbou en ’n skerp sin vir humor met hom deel, opgedaag. Hy meen sy pas mooi in die prentjie wat hy aan die begin van sy Boer Soek ’n Vrou-reis in sy kop gehad het.

“André lyk ’n miljoen keer beter,” het Cassie gesê. Dié boer het sonder ’n metgesel vakansie gehou, maar heel verlief in Saldanha aangekom. Hy en Rozanne het mekaar deur ’n gemeenskaplike vriend ontmoet. “Ons geniet elke oomblik,” het hy gesê.

LEES OOK: Tien oomblikke met Leah

Frikkie, Marx en Johan was daar sonder metgeselle. Frikkie en Marx het al van hul briefskrywers ontmoet, maar tot dusver nog nie ’n sterk genoeg konneksie gevoel nie. Daar het wel iemand oor Johan se pad gekom, maar dis nog te vroeg om te sê . . . “Dis baie, baie onlangs,” het hy gesê.

Schalk het saam met Henriëtte, wat vir hom ’n brief geskryf het, aangekom. “Sy is my puzzle-stukkie,” het die boer gesê.

“Hy is verlief, hoor!” het Marx gesê. “Daai man se wangetjies is rooi van liefde.”

Hier is net ’n paar van ons gunsteling-oomblikke vanuit seisoen 11:

Moenie weggaan nie! Hou ons webblad dop vir Boer Soek ’n Vrou-nuus in 2019.