Logo
Ladies Launch Mobile BB RHOWL
web uni tv guide

Die Real Housewives van die Wynlande

144Realiteit16 L

Wat jy móét weet van Die Real Housewives van die Wynlande reünie episodes

Nuus
10 Julie 2023
Kry 'n voorsmakie vir wat jy kan verwag van die reünie episodes van Die Real Housewives van die Wynlande.
Armand Aucamp

Die finale twee episodes van Die Real Housewives van die Wynlande word op 13 en 20 Julie uitgesaai en soos gewoonlik is hierdie ’n reünie waar niemand gaan terughou nie.

Die reünie episodes van die Housewives franchise programme bied ’n geleentheid vir die huisvroue om hul laaste sê te sê oor enige bespiegelinge, opmerkings in hul videodagboekkameras en om onopgeloste situasies uit te klaar met mekaar.

Ons het die afgelope tyd die ses vroue – Amy Kleinhans-Curd, Mariska Thorpe, Karen Schwentke, Candice Bester, Michelle van Zyl en Anita Lloyd – ontmoet en hulle het behoorlik die land laat gons. Tog het hulle die beste vir laaste gehou!

Wat is ’n Housewives reünie sonder ’n sjarmante aanbieder?

Die aanbieder van die reünie-episode is die aantreklike Armand Aucamp wat nie net voor die kameras as akteur en aanbieder werk nie, maar ook kookboeke skryf en vir die maatsoek-app Koer verantwoordelik is.

“Om gevra te word om die gasheer te wees, was ’n enorme voorreg,” sê Armand. “Kykers kan uitsien na ’n perfekte einde van ’n omstrede, maar baie gewilde reeks. Daar is hittige oomblikke, oorgenoeg humor, maar ook deernis en versoening; ’n dieper verstaan van wie en wat ons is. Dit wys net weer dat ons met sagter harte met mekaar moet omgaan.”

Die reünie is verfilm in die hartjie van die wynlande

Die reünie-episode is by Haute Cabrière in Franschhoek verfilm. Haute Cabrière is onder meer die tuiste van Pierre Jourdan, een van Suid-Afrika se voorste Méthode Cap Classique-vonkelwyne, en is vernoem na die Franse Hugenoot wat die plaas in 1694 gevestig het. Haute Cabrière, met sy asemrowende natuurskoon en indrukwekkende geboue, was die perfekte keuse vir hierdie spesiale episodes aangesien die wynlande self so groot rol in die prag en praal van die reeks gespeel het.

Diamante, hakskoene en glansrokke

Die stilering van die program, die vroue se ontwerpersrokke, hare en grimering, dra by tot die glans. “Ons het besluit ons wil ’n winter-, maar stylvolle-, voorkoms hê,” sê Efraine du Toit, hoof van die stilering- en grimeerspan. “Dit was belangrik dat die vroue gemaklik moes voel. Ons het werklik vir elkeen probeer gee waarin hulle die beste en glansrykste sou voel. Ek glo ons het dit goed reggekry.”

Een huisvrou kon nie verfilming van die reünie-episodes bywoon nie

Karen kon ongelukkig nie die reünie-episodes bywoon nie aangesien sy ’n week voor die verfilming haar sleutelbeen gebreek het eers ’n dag voor die verfilming uit die hospitaal gekom het. Sy is egter deel van die episodes - ’n filmspan was by haar huis en sy het kans gekry om haar kant te stel op die ander vroue se aanmerkings oor haar.

Waaroor word daar nog gepraat? 

Sedert verfilming van die reeks tot ’n einde gekom het, was daar steeds ’n paar onopgeloste onderonsies tussen sekere van die huisvroue. Gaan Anita en Amy vrede maak na daardie opmerking van Amy in Mauritius? En hoe voel Mariska en Karen nou oor mekaar?

Die einde van die reeks het ook op ’n ongemaklike noot geëindig vir Michelle en Candice. Gaan Candice tydens die reünie meer verklap oor hoekom sy nie Michelle se buie kan hanteer nie? En Michelle noem prontuit haar eie gevoelens oor die skeiding in die groep met Anita, Karen en Michelle aan die een kant en Amy, Mariska en Candice aan die ander kant – wat volgens haar baie struweling veroorsaak het.

Die vroue het ook verskillende besighede begin tydens die verfilming van die reeks. Hoe voel Anita nou oor Amy se Cap Classique, Amelia? En Mariska het baie om op te verklaar oor daardie ‘Bitch stole my podcast’-kommentaar nadat Michelle die groep van haar eie podsending reeks vertel hetCandice gesels meer oor vordering aan haar en haar man se De Vier-restaurant in Stellenbosch en Mariska se aanlyn-klerewinkel, SELLfie, is goed aan die gang.

Dan word die drama met Karen by Enigma-huis herkou en die wegbreeknaweek in Hoedspruit kom ook onder die loep. En het Anita nog haar voedoe-pop?

Skakel in en hoor die huisvroue se antwoorde oor al die kontroversie in die media want sommige van die antwoorde gaan behoorlik die wenkbroue laat lig...

Die Real Housewives van die Wynlande reünie-episodes wys Donderdae 13 en 20 Julie om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144. Stroomkyk die reeks vanaf episode 1 op DStv Catch Up.