Logo

Vuurwarm vermaak in Julie op kykNET

Nuus
04 Junie 2019
Hier is waarna jy kan uitsien.
Julie-hoogtepunte

Hooffoto: Willem Botha


kykNET is opgewonde om aan te kondig dat die gewilde sepie Getroud met Rugby in Julie ’n splinternuwe tydsgleuf kry. Aanhangers van dié sepie kan vanaf Maandag 1 Julie om 18:00 inskakel om uit te vind wat in die lewens van Die Stryders en hul familie en vriende gebeur.

Getroud met Rugby vier ook vanjaar tien jaar op kykNET. Dit het aanvanklik in 2009 begin as ’n weeklikse drama en is later omskep in een van kykNET se sepies, wat weeksdae uitgesaai word.

KYK OOK: HIER IS WAT VOORLÊ IN SEISOEN 4

Dit is nie ál goeie nuus nie – twee van kykNET se aktuele programme kry ook vanaf Julie nuwe tydsgleuwe. Prontuit saai vanaf 8 Julie om 21:00 uit en KN Verslag in Gesprek skuif vanaf 3 Julie na 21:00.

Beide dié programme is reeds sedert 2015 gewild by kykers. Prontuit het vroeër vanjaar ’n ATKV-Mediaveertjie vir Beste nuus- of aktualiteitsprogram gewen en die aanbieder van die program, Kabous Meiring, is bekroon met ’n ATKV-Mediaveertjie vir Beste aanbieder of onderhoudvoerder van ’n nuus- of aktualiteitsprogram. Waldimar Pelser, aanbieder van KN Verslag in Gesprek, het in 2018 met ’n ATKV-Mediaveertjie in dié kategorie weggestap.

1559645045 34 alles malan

Alles Malan

Drama
Begin Dinsdag, 9 Julie om 20:00 op kykNET
Met Nadia Valvekens, Ivan Zimmerman, Elsabé Daneel, Albert Maritz, Matheo Olivier, Nicole Fortuin, Greteli Fincham, Sean Marco Vorster en Marius Weyers

LEES OOK: ALLES WAT JY VAN ALLES MALAN MOET WEET

Alles Malan
is ’n familiedrama wat in die Paarl buite Kaapstad afspeel. Aan die hoof van die familie staan Derik en Brenda Malan. Hulle eersgeborene, Frik, keer na agt jaar in Engeland terug om die familiebesigheid, Malan Vervoer, by sy pa oor te neem. Sy vrou, Tessa, en twee tienerkinders keer saam met hom terug, maar het elkeen ’n stryd van hul eie: Tessa moet weer gewoond daaraan raak om ’n huisvrou te wees. Die 17-jarige Elani ontvang lewensveranderende nuus en Freek, die Malans se 14-jarige aangenome seun, worstel met ras-identiteit. Nico, die jongste van die Malan-seuns, staan op trou met Lee-Ann. Die rol van oupagrootjie Peet word deur Marius Weyers vertolk.

KYK OOK: HET JY AL DIE ALLES MALAN-TEMALIED GEHOOR?

Lui maar op, Belinda

Komedie
Begin Maandag, 8 Julie om 20:00 op kykNET
Met Brümilda van Rensburg, Annelisa Weiland, Eric Nobbs, Duncan Johnson, Carmen Maarman en Wian Taljaard


Ian en Ander is n klein hoekwinkeltjie in George en behoort aan Ian Jantjies, ’n middeljarige man wat die gejaag van die groot stad vir die vrede van ’n kleiner dorp verruil het. Maar vrede is daar nie, want die drie ouer mense wat vir hom werk, maak hom grys.

Belinda Swanepoel, ’n eertydse Afrikaanse aktrise, is meer voor haar spieëltjie as voor haar kasregister en Annetjie Nel, ’n militaristiese en konserwatiewe bakster, bemoei haar meer met die winkel se sake as met die koek van die dag. Dan is daar die arme, sjarmante boereheld Frans Wessels, wat die vrede tussen Annetjie en Belinda probeer bewaar, maar selde daarin slaag.

Die reeks skop af met ’n nuwe aanstelling, die jong bleeksiel Dirkie, wat skielik hoof van sekuriteit word. Dan kom steek Maggie, Ian se vrou, ook nog haar neus in haar man se sake. Saam moet hulle die uitdagings van die ouderdom die hoof bied, maar leer ook dat die lewe vol tweede kanse is en dat ’n mens nooit te oud is om pret te hê nie.

Ontmoet die Lui Maar op, Belinda-karakters:
Gallery

VIND MEER UIT HIER

1559643421 34 kokkedoor beoordelaars

Kokkedoor 3

Realiteit
Begin Donderdag, 18 Julie om 20:00 op kykNET
Met Hetta van Deventer-Terblanche, Nic van Wyk en Sam Woulidge


Wie sal ooit vir Tannie Poppie vergeet? Of Tiaan en Mynhardt se ongelooflike skeppings? Tannie Skuinskoek en Magda se sêgoed? Johnny en Elsa se innoverende spyskaarte? Ná twee gewilde seisoene van Koekedoor asook Kokkedoortjie en Koekedoortjie, keer Kokkedoor wéér terug na kykNET. En, dié keer trek die reeks ’n byderwetse stadsbaadjie aan. Vir Kokkedoor 3 soek kykNET weer na die perfekte kombinasie van onthoukok en kinkelkok. 

LEES OOK: HIER IS KYKNET SE NUWE KOKKEDORE

1559643558 34 elders japan

Elders: Japan

Leefstyl 
Begin Dinsdag, 2 Julie om 21:00 op kykNET
Met Erns Grundling

Elders: Japan
is die tweede Elders-reeks ná verlede jaar se Camino-avontuur in Spanje. Hierdie keer reis Erns Grundling en ’n klein kameraspan na Japan, waar hulle die Land van die Opkomende Son gaan verken.

Hoekom Japan? Japan is een van die mees unieke bestemmings op aarde. Met die komende Rugbywêreldbeker in gedagte (van 20 September tot 2 November) bied Elders: Japan vir kykers ’n blik op hierdie fassinerende land wat ook met volgende jaar se Olimpiese Spele wêreldwyd in die kollig gaan wees. 

Erns hou van stap, en om te bly by die staptema van die eerste reeks verken hy twee pelgrimstogte in Japan – die Kumano Kodo ('n susterpelgrimstog van die Camino in Spanje) en die Nakasendo, die destydse handelsroete tussen Kyoto en Tokyo. Hy probeer ook om die ikoniese Mount Fuji uit te klim – gaan hy dit tot bo maak in die sneeu?

Erns is ’n groot rugby-entoesias en Elders: Japan het ’n sterk rugbyfokus, wat onderhoude met verskeie Springbokke in Japan, besoeke aan Wêreldbekerstadions en ’n All Black-legende insluit. Verder ervaar Erns Japan se wonderlike kultuur, kos, oorweldigende stede, pragtige natuurskoon en hou hy sy lyf onder meer samurai, ninja en sumostoeier.

Soos in die eerste seisoen bied Elders: Japan baie spontane oomblikke en verrassings. Erns kyk met deernis en humor na die land en sy mense. Elders: Japan is ’n opwindende lusmaker vir die Rugbywêreldbeker en sal kykers inspireer om ook hierdie ongelooflike land op hul bucket list in te sluit.

KYK OOK: HOEKOM JAPAN?

1559643596 34 bolhuis 2

Met ’n huppel in die stap 6

Leefstyl
Begin Woensdag, 3 Julie om 17:30 op kykNET
Met Riaan Cruywagen as aanbieder en Simon Bruinders en Lieb Bester as veldaanbieders

Met ’n huppel in die stap
begelei sestig-plussers met kundige advies oor die lewe ná aftrede. Onderwerpe soos oudhedeversameling, lekker kursusse vir seniors, seniors en hul kinders op dieselfde woonperseel, beplan jou aftreehuis en nog baie meer word bespreek.

1559643790 34 jan braai

Jan Braai vir Erfenis 9

Leefstyl
Begin Saterdag, 6 Julie om 18:00 op kykNET
Met Jan Scannell as aanbieder


In seisoen 9 van Jan Braai vir Erfenis deurkruis Jan en die span die wêreld op soek na nuwe avonture, pragtige plekke en lekker braairesepte. Hoogtepunte sluit in die geelstert-seisoen aan die Suidkus, subtropiese vrugte seisoen in die Laeveld en somer in Madagaskar. Julie tot Desember, elke Saterdagaand om 18:00 op kykNET.

1559643986 34 slank

Slank 4

Leefstyl
Begin Sondag, 7 Julie om 17:30 op kykNET
Met Leandie du Randt as aanbieder


Vier bekende Suid-Afrikaanse families word oor ’n tydperk begelei deur geneeshere en dieetkundiges om ’n gesonde leefstyl van lae koolhidrate en gesonde vette aan te moedig. Die families se eetgewoontes kom onder die soeklig by geleenthede soos verjaarsdagpartytjies, uitstappies, kuiertjies deur vriende en selfs kospakkies skooltoe. Die outeur van drie kookboeke, Iné Reynierse, gee raad aan die families oor hoe om ’n gesonde leef- en eetstyl vol te hou.

1559644066 34 kunsvlyt

Kunsvlyt 3

Realiteit
Begin Maandag 8 Julie 17:30 op kykNET
Met Michelle Holtzhausen as aanbieder


Dis weer speeltyd! Wanneer kreatiewe siele bymekaarkom, vind vlytige vingers en inspirerende idees instinktief ’n aanknopingspunt.

Dis tyd om te eksperimenteer, uit die boks te klim en wild oor die lyne in te kleur. Kunsvlyt 3 het tien nuwe kunsvlyters wat hul kreatiwiteit moet inspan om met elke probeerslag met ’n nuwe unieke skepping vorendag te kom. Daar’s ook heelwat nuwe kinkels in die uitdagings wat gaan sorg vir groot pret, so tussendeur die kompetisie.

1559646570 34 nelson mandela

Madiba: ’n Uitsonderlike Roeping

Dokumentêr 
Begin Sondag 28 Julie 20:00 op kykNET
Met Zelda la Grange


’n Mini-reeks wat uit ses episodes bestaan, waarin Zelda la Grange vertel van dele van oudpresident Mandela se lewe waarvan min mense weet. Zelda was 19 jaar lank Madiba se persoonlike assistent en sy was tot sy dood vyf jaar gelede aan sy sy.

In dié reeks is verskeie ander mense te sien wat op ’n manier ’n verbintenis met Nelson Mandela gehad het. Dit sluit onder andere Mandla Mandela, Bill Clinton, Bono, Richard Branson, Morgan Freeman, aartsbiskop Bishop Desmond Tutu, George Bizos, ’n lewenslange vriend, en Eddie Daniels, wat 17 jaar saam met hom op Robbeneiland deurgebring het.

1559644234 34 helmut lotti soul classics in symphony

Helmut Lotti: Soul Classics in Symphony

Musiek
Sondag, 7 Julie om 10:30 op kykNET en kykNET NOU!


Die Soul Classics in Symphony-konsert sluit ’n verskeidenheid klassieke treffers in, soos “My Girl”, “Wonderful World”, “Bring It on Home”, “If You Don’t Know Me By Now”, “So You Win Again” and “No More Wasted Years”, wat die intensiteit van die wêreldbekende Belgiese tenoor Helmut Lotti se romantiese stem ten toon stel.

Helmut Lotti het al meer as 13 miljoen albums verkoop wat platinum en goue status wêreldwyd bereik het. Hy het ook ál sy treffers in meer as 13 tale op 23 albums op geneem.

1559644292 34 starlight classics jhb in concert

Starlight Classics Jhb: In Concert

Musiek
Sondag, 14 Julie om 10:30 op kykNET en kykNET NOU!


’n Ligte klassieke konsert onder die sterre, met optredes deur kunstenaars soos Mafikizolo, Ard Matthews, Zoë Modiga, Rocco de Villiers, Aubrey Lodewyk en Elza van den Heever.

1559644334 34 dominee tienie 1

Dominee Tienie

Fliek
Saterdag, 13 Julie om 20:00 op kykNET en Sondag, 14 Julie om 14:30 op kykNET&kie

Ná sestien jaar as predikant van die Moedergemeente word Tienie Benade gekonfronteer met ’n geweldige daling in lidmaatgetalle en ’n moderne gemeenskap wat by die dag verander. Is daar nog ’n plek in hierdie wêreld vir predikante óf die kerk? Hy probeer sy bes om aan te pas en sin te maak van die veranderings, maar in die proses vervreem hy sy vrou en kinders. Ná ’n insident met ’n sterwende boemelaar bevind Tienie homself by ’n kruispad. Sal hy sy selfvertroue en die liefde van sy gesin kan terugwen en sal hy dapper genoeg wees om sy gemeente in ’n nuwe era in te lei? Gegrond op die toneelstuk deur Dana Snyman.

HIER IS ALLES WAT JY MOET WEET VAN DOMINEE TIENIE

 

kykNET&kie:

kykNET&kie (DStv-kanaal 145) is ’n verskeidenheidskanaal wat beskikbaar is op die DStv Family-, Compact-, Extra- en Premium-pakkette. Dié kanaal bied outentieke kykgenot vir die hele gesin asook eksklusiewe inhoud wat nog nooit vantevore op lug gesien is nie.

1559645421 34 die van coke show

Die Van Coke Show 1  

Speletjies- en geselsprogram
Begin Vrydag, 12 Julie om 21:00 op kykNET&kie
Met Francois van Coke as aanbieder
Die Van Coke Show is ’n speletjies- en geselsprogram waar almal kliphard speel om niks te wen nie. Saam met bekendes en komediante gaan Francois die draak steek met al die malligheid wat in die wêreld aangaan.

VIND MEER UIT HIER

Elke week sal spanne teen mekaar meeding in vinnige vraag-en-antwoordsessies en ook lekker skerts oor musiekvideo’s op daardie vreemde ding wat ons die internet noem. Van Coke word elke week bygestaan deur spankapteine soos Cindy Swanepoel, Jonathan, Beer Adriaanse en Quanita Adams.

1559645180 34 clare wiese wentzel

Mooimaak met Clare Wiese-Wentzel 2

Leefstyl
Begin Dinsdag 23 Julie 20:30 op kykNET&kie
Met Clare Wiese-Wentzel as aanbieder

Mooimaak met Clare Wiese-Wentzel
keer terug vir ’n tweede seisoen van uitsonderlike transformasies. In hierdie seisoen reis Clare en haar span van kenners regoor die land om deelnemers se lewens te verander. Met wenke uit haar eie lewe help Clare die deelnemers en kykers by die huis om die mooi in hulle eie lewens weer te ontdek.

Bolhuis 1

Misdaad
Begin Woensdag 31 Julie 21:00 op kykNET&kie
Met Mike Bolhuis as aanbieder


Spesialis-ondersoeker Mike Bolhuis – die man wat wetsoortreders se broeke laat bewe – is in die misdaadsreeks Bolhuis te sien.

Mike, wat beskou word as een van Suid-Afrika se top-ondersoekers, was al betrokke by van die land se grootste moord- en bedrogsake. In dié reeks delf ons dieper in van die sake wat al op sy lessenaar beland het, soos die Delmas-moorde, waarin die vyf maande oue Wiehan Botes en sy oppasser vermoor is en waarvan die moordenaar steeds op vrye voet is.

 

kykNET NOU!:

kykNET NOU! (DStv-kanaal 146) is die plek vir lekker tunes en goeie vibes. Dis beskikbaar op die DStv Family-,
Compact-, Extra- en Premiumpakkette én op DStv NOW.


1559644724 34 anthonie bougas

Sing in Harmonie

Musiek
Begin Sondag, 23 Junie om 17:00 op kykNET NOU!
Met Anthonie Bougas as aanbieder


Sing in Harmonie is die eerste skoolkoorkompetisie in sy soort wat vir skole regoor Suid-Afrika die kans bied om op nasionale TV hulle merk te maak en in die proses hulle deel van pryse ter waarde van R50 000  los te slaan.

Koorsang is die een aktiwiteit wat nie seisonaal is nie en dus is leerders wat deelneem hieraan regdeur die jaar pligsgetrou.

Met Sing in Harmonie word daar nou ’n opwindende nuwe uitdaging vir hierdie leerders en skole gebied om op nasionale vlak deel te neem en raakgesien te word.

Daar is twee kategorieë – junior kore (laerskool graad 1 tot 3) en senior kore (laerskool graad 4 tot 7).

As beloning bied hierdie kompetisie ’n ongelooflike pryspakket, wat onder meer ’n CD-opname van tien snitte, ’n musiekvideo-opname, R5 000 in kontant vir die wenskool sowel as hope TV-blootstelling insluit.

Kurt Darren: Treffers Live

Musiek
Vrydag, 5 Julie om 21:00 op kykNET NOU!

Die onbetwiste koning van Afrikaanse sokkie en pop, Kurt Darren, neem Carnival City op horings met hierdie energieke vertoning. Hy sing van sy grootste treffers soos “Hemel op Tafelberg”, “Loslappie”, “Meisie meisie”, “Staan op” en vele meer.

Nicholis Louw: Rock daai lyfie

Musiek
Vrydag, 12 Julie om 21:00 op kykNET NOU!


Nicholis Louw vermaak met sy rock-rasperstem en energieke vertolking van sy groot treffers soos “Net die een vir my”, “Rock daai lyfie”, “Ek wil my baby hê vanaand”, “My hart is aan die brand”, “Ek klop aan jou hart” en vele meer.

Uitblinkers

Musiek
Begin Dinsdag, 16 Julie om 19:00 op kykNET NOU!


’n TV-reeks waar skoolleerders die geleentheid kry om uit te blink op die verhoog en boodskappe met kykers te deel.

Alfred Adriaan: Van Hankey

Musiek
Vrydag, 19 Julie 21:00 op kykNET NOU!


Die ontluikende ster in Suid-Afrikaanse komedie, Alfred Adriaan, lewer sy solo-optrede “Van Hankey” by die Pieter Toerien Teater, Montecasino.

Kleuterzone

Begin Dinsdag, 30 Julie om 09:00 op kykNET NOU!

Kleuterzone is ’n reeks met ’n Christelike fondament wat fokus op kleuters in Suid-Afrika. Elke week kan kykers uitsien na die stories wat die pikkies vertel, aktiwiteite wat hulle doen en ook meer oor die spesifieke kleuterskool in hul omgewing. Met Kleuterzone word uitgesoekte kleuterskole se kleuters die geleentheid gegee om ’n herinnering vir ’n leeftyd op te doen.

​Bly op hoogte van jou gunsteling kykNET-titel deur ons op FacebookTwitter en Instagram. te volg. Hou ook www.kyknet.tv dop vir vuurwarm nuus, foto’s, video’s sowel as ’n kykie agter die skerms.