Logo

Voetspore is terug met ‘n nuwe avontuur

Nuus
04 September 2021
Kykers kan Sondae om 20:00 vanaf 5 September inskakel vir ‘n nuwe Voetspore-avontuur.
Voetspore

Johan Badenhorst en sy span gaan op ‘n ontdekkingsreis deur Suid-Afrika in Voetspore in Suid-Afrika

Groot avonture wag op die span – die reis begin in die Kalahari, met dorpies soos Rietfontein, Groot Mier en Philandersbron, wat besoek word. Met elke episode word afgeleë dorpies verken in dele van Namakwaland, die Tankwa Karoo, Hessequa, Baviaanskloof, die Suidelike Drakensberge en Limpopo. 

Oudergewoonte kuier die span saam met verskeie mense langs die pad – Dudley Wessels is die span se gids vanaf Naries tot by Kookfontein en Leliefontein in Namakwaland, met kunstenaar Valiant Swart wat saam met die span by die Muisbosskerm naby Lambertsbaai eet. ‘n Aandjie in Hammelhoek saam met die kunstenaar, Die Kaalkop Waarheid, is ook op die spyskaart, en Jan ‘Staal’ du Toit reis per 4x4 en motorfiets op die agterpaaie van Mpeti in KwaZulu-Natal.  En laastens kuier die span saam met Dirk Uys in die Bosveld in Limpopo om ‘n vuur. 

Skakel vanaf Sondag 5 September 20:00 in op kykNET (DStv-kanaal 144) vir Voetspore in Suid-Afrika.