Logo
HMSMSM
web uni tv guide

Hoor My Sien My Soen My

144Realiteitsprogram6

Vind liefde deur die oog van ’n lens – #HMSMSM

Nuus
10 Desember 2019
Hoor my, sien my, soen my is kykNET DStv-kanaal 144 se nuutste realiteit-reeks waarin die aanbieder, Vanes-Mari du Toit, deelnemers gaan help om liefde te vind op ’n manier anders as waaraan mens gewoond is. 
HMSMSM Press Release

Liefde vind is nie aldag maklik nie en hierdie realiteit-formaat bied vir elke moontlike pot die kans om hul deksel eers behoorlik uit die boom te kyk voor hul vir die eerste keer ontmoet. In Hoor my, sien my, soen my kry voornemende pasmaats die geleentheid om mekaar beter te leer ken deur ’n dag saam te spandeer, maar mekaar nooit in lewende lywe te sien nie.

In dié reeks, gebaseer op die internasionale treffer-reeks, Hear me, love me, see me, sal deelnemers op ’n virtuele toe-oog-afspraak met drie potensiële pasmaats gaan. Deur middel van die lyfkameras wat die pasmaats dra, sal die deelnemer ’n blik op elk van hulle lewens kry.

Só leer ken die betrokke partye mekaar en kry die geleentheid om te gesels en te flankeer… Sonder om ooit te sien hoe die ander een lyk! Aan die einde van die dag, na drie toe-oog-afsprake, besluit die deelnemer met watter pasmaat hy of sy meer tyd wil spandeer. Dan volg die oomblik waar die deelnemer vir die eerste keer die drie pasmaats van aangesig tot aangesig ontmoet.

Kykers ken Vanes-Mari reeds as ’n Kwêla veld-aanbieder en het ’n paar maande gelede gesien hoe sy en Hamilton Wessels Japan deurkruis en die gees van die Rugby Wêreldbeker 2019 saam met die Bokke beleef het met die treffer-reeks, In Japan, Ja!  

“Wat ek die meeste van die program geniet, is die feit dat dit ’n unieke manier is om liefde te vind. Wat lekker is van die program, is dat dit die ‘oppervlakkigheid’ van fisiese voorkoms in dating uitskakel, want jy leer ken iemand se hart, siel en persoonlikheid eerste,” verduidelik sy. “Soms kan fisiese voorkoms misleidend wees. Dis vir my ’n old school manier van dating, want jy leer ken eers iemand se binneste voor jy haar of sy uiterlike sien.”

Hoor my, sien my, soen my saai vanaf Woensdag 29 Januarie 20:00 op kykNET DStv-kanaal 144 uit. Gesels saam deur die hutsmerk #HMSMSM op sosiale media te gebruik!