Logo

‘Verskietende Ster’ bied blik op wonderkind

Nuus
21 Augustus 2015
Verskietende Ster, die verhaal van ’n moderne Beethoven wat ’n swaar las dra, tref die silwerdoek in April 2016.
ss_cinema_poster_v1

Dié verhaal van ’n musikale wonderkind het in 2015 vir die eerste keer by kykNET se Silwerskermfees gedraai, en tref die silwerdoek in April 2016.

Verskietende Ster vertel die storie van Phillip Schuman (Deànré Reiners). Phillip se wêreld stort in duie die dag toe sy ma sterf. Dis nou net hy en sy pa, Tomas (Hykie Berg) – die man wat lankal reeds moed opgegee het met die lewe. Phillip kry ’n manier om sy droom as pianis te volg met die hulp van Max du Toit (Hannes van Wyk), die nuwe vakadviseur. Dit lei egter tot rampspoedige gevolge.

Toe Max die eerste keer hoor hoe Phillip een van sy eie komposisies speel, het hy dadelik geweet dat die bebrilde en angstige seun die talent het om ’n moderne Beethoven te word. Max neem Phillip onder sy vlerk en sorg dat hy ekstra klavierlesse kry, maar besef gou dat alles nie so glad gaan verloop as wat hy gedink het nie. Tomas, wat vasgevang is in skuldgevoelens en steeds oor die dood van sy vrou Maria (Jana Strydom) treur, het Phillip verbied om ooit weer aan ’n klavier te raak.

Die verhaal wat geleidelik ontplooi, is ’n ware lewensdrama oor ’n verhouding vol konflik tussen ’n seun en sy pa. Wanneer Tomas die skokkende waarheid onthul, word Phillip gedwing om ’n keuse te maak: gaan hy sy pa vergewe of in die verlede bly leef.

Kyk hier onder na die lokprent:



Daar word dikwels gesê dat wanneer woorde te kort skiet, musiek oorneem. Die kernboodskap van Verskietende Ster, deur die bekroonde rolprentmaker, Stefan Enslin, is die krag wat musiek het om ons emosioneel te raak en lig in die duisternis te bring.

Enslin wat ook die draaiboek vir Verskietende Ster geskryf het, het in 2013 ’n roman met dieselfde naam die lig laat sien en die draaiboek is op dié roman gegrond. Hy is ook die stigter van Faith in Motion Productions, ’n rolprentproduksiemaatskappy wat op stories met ’n inspirerende boodskap fokus.



Verskietende Ster is die eerste Afrikaanse rolprent wat met ’n volledige orkes spog. Die bekroonde komponis, wat veral bekend is vir sy komposisies vir rolprente en televisiereekse, Geo Höhn, het musiek geskryf wat perfek by die prent pas – dit is nie net delikaat en epies nie, maar bied presies die regte agtergrondmusiek vir hierdie verhaal van ’n seun se grootwordproses.

Die rolprent, wat ’n hele paar groot name in die bedryf in die rolverdeling het, is vervaardig deur Stefan Enslin en Philo Pieterse, wat al voorheen saamgewerk het aan soortgelyke projekte. In 2015 het die prent sy debuut by die kykNET-Silwerskermfees gemaak en is aangewys as die gehoor se gunsteling.

“Verskietende Ster is ’n inspirerende verhaal wat ondersoek instel na die redes waarom sekere mense met besondere talente gebore word,” sê Pieterse. “Die hart van die fliek is die pynlike verkenning van musiek se emosionele samehangendheid asook musiek se krag om ons aan te raak, en om pyn in iets mooi en genesend te omskep. Dit is ’n besielende storie wat beslis die fliekgangers se hartsnare sal roer.”

Pieterse was vanweë sy produksiemaatskappy, Philo Films, in die verlede ook betrokke by van Suid-Afrika se rolprente wat die beste by die kaartjiekantore gevaar het, soos e'Lollipop, die wegholsukses Platteland en meer onlangs Strikdas ’n Familiegedoente. Hy en Enslin het hard en lank na die regte akteurs en aktrises vir die prent gesoek, wat ook nuwe opwindende talent insluit.



Die jong akteur, Deànré Reiners, speel die rol van Phillip Schuman. Sepie-aanhangers sal hom herken as Emil van Binnelanders, maar hy het ook in sy matriekjaar in Roodt se Seun verskyn, wat by die Silwerskermfees bekendgestel is. Die gewese Survivor SA-wenner, Hykie Berg, speel die rol van Tomas Schuman. Hykie was ook te siene in Plek van die Vleisvreters (2004), Klein Karoo (2013) en Forsaken (2015). Jana Strydom, wat seker die bekendste vir haar televisierolle in 7de Laan, Erfsondes en Swartwater is, speel Maria Schuman.

Die rolprent se regie is deur Darrel James Roodt, een van Suid-Afrika se produktiefste regisseurs en draaiboekskrywers, behartig. Hy het in 1992 die hoogaangeskrewe prent, Sarafina, geregisseer en sy 2004-film, Yesterday, is vir ’n Academy Award for Best Foreign Language Film genomineer.

Verskietende Ster word in Suid-Afrika deur Indigenous Film Distribution vrygestel.



Rolverdeling

Tomas Schuman: Hykie Berg
Phillip Schuman: Deànré Reiners
Maria Schuman: Jana Strydom
Max du Toit: Hannes van Wyk
Dorothy Smit: Ilse Oppelt
Juffrou McDonald: Hanlie Rolfes
Juffrou Bronkhorst: Corine du Toit
Frank du Toit: Johan Scholtz

Vervaardigers: Stefan Enslin en Philo Pieterse
Regisseur: Darrell James Roodt
Skrywer: Stefan Enslin
Kinematograaf: William Collinson
Redigeerder: James Carroll