Logo
web uni tv guide

Dankie, Lottoland

144RealiteitPG13 L

Twee jaar, sewe seisoene en R18 miljoen later verander "Dankie, Lottoland" steeds die Suid-Afrikaanse landskap

Nuus
09 Junie 2023
Danksy kykNET se gewilde program "Dankie, Lottoland" is daar sedert 2021 reeds R18 miljoen aan projekte landwyd spandeer.
Dankie lottoland Article Image

Danksy kykNET se gewilde program Dankie, Lottoland is daar sedert 2021 reeds R18 miljoen aan projekte landwyd spandeer om met daardie gawe groen koeverte ernstige nood in ware hoop te omskep.

Maryke Haywood, bemarkingshoof van Lottoland, is een van die groot dryfvere agter hierdie omgee-onderneming wat kyk na besonderse projekte of mense wat êrens in Suid-Afrika ’n reuseverskil in mense se lewens maak.

“Ons was al by soveel unieke projekte waarvan baie min Suid-Afrikaners bewus is. Dit ontroer ons diep om te sien wat hierdie mense vir hulle medemens doen. Dan kry ons hierdie roerende stories om met die res van Suid-Afrika deel. Dít is die magic van Dankie, Lottoland!”

En hoe ver die magic van Dankie, Lottoland strek, word weerspieël in die betrokkenheid van bekende persoonlikhede wat van meet af aan sonder huiwering skouer aan die wiel gesit het om nog meer momentum aan hierdie besonderse inisiatief te verleen.

Dit neem die vorm aan van skenkings, hulpbronne en ook die blootstelling van individue en liefdadigheidsorganisasies waar die nood hoog is.

Tydens die sewende seisoen, wat nou op kykNET vertoon word, kon kykers reeds die afgelope paar maande hierdie liefdadigheidswerk in aksie sien:

  • Elizma Theron het in haar tuisdorp Kuruman by die Bringing Back Hope Centre gaan help, asook later by die Lucky Lucy-stigting vir diere in nood buite Malmesbury.
  • Vanes-Mari du Toit het al die pad na Springbok toe gegaan vir Caring4Sight wat gesiggestremde Namakwalanders bystaan, en ook gaan inloer by Brunhild Strauss van die NCPD om rolstoelgebruikers in die streek, wat daagliks groot uitdagings moet trotseer, van hulp te voorsien.
  • Elma Postma het besoek gaan aflê by die Custoda Trust in Delportshoop, ’n organisasie wat Noord-Kaapse kleuterskole verryk en versterk.
  • Boer Niel van Boer soek ’n vrou-faam het in Merwewille gaan draai om broodnodige ondersteuning aan die SA Water Warriors te verleen.
  • Marciel Hopkins het die inwoners van die Herberg Kinderhuis in Robertson met die alleroulikste geskenke van Lottoland verras.
  • Frank Rautenbach het lewensveranderende hulp aan drie passievolle individue besorg wat ten spyte van hul eie persoonlike stryd vir onderwys leef.
  • Caroline Grace het na Willowmore gegaan waar sy Christina’s House of Hope besoek het en groot vreugde met Lottoland-geskenke aan die kinders besorg het.

In die komende weke wag daar ook wonderlike nuus en verligting vir mense en projekte in Alberton, Centurion, Brakpan en verskeie kinderhuise wanneer Melinda Viljoen, Cordelia, Zetske van Pletzen, Jo Black, Bernice West en Cindy Swanepoel met ’n spesiale groen koevertjie opdaag.

Maar dis nie net bekendes wat kan help om nood in hoop te omskep nie.

“Ek dink elkeen van ons kan bloot net rondom ons kyk en self begin om ons harte oop te maak vir die mense om ons. Nood lê nie ver nie. Kyk maar net regtig na die persoon langs jou en die kans dat daar nood gaan wees, is groot. Reik uit en begin jou eie Dankie, Lottoland-beweging. Om te gee is die wonderlikste gevoel ooit!” sê Maryke.

Gaan na Dankie, Lottoland vir meer inligting.

  • Kyk Dankie, Lottoland Woensdae om 21:30 of Sondae om 17:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).