Logo
web uni tv guide

Magda Louw

144KomediePG13 L

Tussen tonele met Hannes van Wyk

Nuus
12 April 2024
Wat is dan nou lekkerder as ‘n bank-kuier met Hannes van Wyk?
Hannes van Wyk

Ons het vinnig gesels met Hannes van Wyk tussendeur sy besige skedule op die stelle van Hannes aan huis, Kwêla en Magda Louw.

Watter items gaan ten alle tye saam met jou stel toe?

Ek is baie lief vir leer en het ʼn hele paar leersakke.. Ek het altyd een saam met my wat nogal swaar is, want my lewe is daarin – my laptop, tekste, notaboeke, penne, wallet, ens. Al wat nie daarin kan pas nie is my yskas. LOL. Ek is baie keer op lughawens of vliegtuie of baie keer op stel wat ek besig is met voorbereiding. Dit is dus nodig dat ek alles by my het.

Indien jy kan, watter een van die karakters wat jy al vertolk het was jou gunsteling en hoekom?

Daar is soveel: Ek kan met dankbaarheid sê dat ek die kans gekry het en nog steeds kry om uiteenlopende rolle te speel en gespeel het. Ek het baie verhoogwerk gedoen en ‘n groot gunsteling was “Voor ek vergeet” wat ek en Amanda Strydom saam gedoen het.

Daar was ook onlangs die eenmanstuk, “Sê groete vir ma” wat ek vir twee jaar landswyd mee getoer het waarvan Sandra Prinsloo die regie gedoen het.

Wat televisie aanbetref sal Krynauw du Buisson in Egoli wat ek vir 10 jaar gespeel het altyd ‘n gunsteling bly. Ook beide rolle wat ek in die eerste en vierde seisoen van Spoorloos gespeel het. In die eerste seisoen van Spoorloos was ek ‘n kindermoordenaar en dit was ‘n fantastiese rol om te vertolk.

Nou is ek Oom Erhard in Magda Louw waar ek ‘n ou oom in die laat 70s speel en dit is heerlik… Die lekkerte van al die rolle wat ek oor die jare vertolk het is ook dat dit so uiteenlopend is...

Watter rol het jou al die meeste uitgedaag in jou loopbaan en hoekom?

Elke rol is vir my ‘n uitdaging en ek werk regtig hard om alles van die karakter te hore te kom/ uit te vind /na te vors… Met Krynauw in Egoli het ek sulke lekker storielyne gehad wat gewissel het van drama tot komedie en dit was beslis ‘n uitdaging, maar soos ek sê elke rol het sy eie uitdagings

Het jy onlangs iets geleer by ’n ander akteur/ persoon op stel wat jou geïnspireer het? 

Ek glo as akteur (en aanbieder) leer mens elke dag en word elke dag geïnspireer… Soms leer mens ook dinge wat jy eintlik nie moet leer nie, maar so leer mens wat om nie te doen nie. ( lol)

Saam met watter persoon in die industrie sal jy nog mee wil werk eendag? 

Ek was gelukkig om al saam met ongelooflike mense in die bedryf te werk en is baie dankbaar daarvoor, maar ja, daar is nog SO baie saam met wie ek nog wil werk. Beslis die jonger geslag regisseurs, maar ook saam met die ou hande soos om weer saam met Koos Roets te werk.

Is daar ’n fliek of reeks op kykNET of Showmax wat jy onlangs gesien het waar jy gedink het jy sal nogal graag daarin wil speel?

Baie mense gaan VERKEERDELIK van die veronderstelling af uit dat ek nie weer in ‘n sepie sal speel nie en dit is VER van die waarheid af. Ek het 10 wonderlike jare by Egoli gehad en sal beslis as die regte rol hom voordoen weer in ‘n sepie speel… Natuurlik is daar ook wonderlike reekse wat op die oomblik gemaak word en ek wil sommer in hulle almal speel.. ( lol) 

Hoe motiveer jy jouself nadat jy ’n moeilike dag agter die rug het?

Ek dink altyd net hoe dankbaar ek is om in die vryskut lewe gereeld te werk en te doen wat ek wil doen en dit is om toneel te speel en aan te bied.

Wat is jou motto in die lewe?

Wees dankbaar vir wat jy het en werk hard.

Skakel in vir Kwêla en Hannes aan huis om weekliks nog verder te kuier met Hannes van Wyk. Onthou ook dat Magda Louw beskikbaar is om te stroom op DStv Stream. Gesels gerus saam op Facebook, X, TikTok en Instagram.