Logo

Tussen tonele met Gerald Steyn

Nuus
06 Maart 2024
Die akteur, Gerald Steyn het ‘n besige paar maande agter die rug. Ons het hom beter leer ken.
Gerald Steyn

Tussendeur Binnelanders, Lioness, Dam en Reyka het jy beslis al iewers vir Gerald Steyn in aksie gesien! 

Watter items gaan ten alle tye saam met jou stel toe? 

Deesdae skryf ek 'n paar verkorte mikpunte voor my tonele uit, dan probeer ek dit tussen skote lees. Net om myself te herinner.

Indien jy kan, watter een van die karakters wat jy al vertolk het was jou gunsteling en hoekom? 

Max (Dam) en Pine (Getroud met rugby) was lekker, want ek kon 'n vark speel (pun beplan) sonder enige nagevolge. Daar's iets bevrydend in die vertolking van ’n antagonis. Uys (Binnelanders) is weer lekker, want ek voel ons is in baie opsigte dieselfde. En dan was dit ’n absolute voorreg om Nick Tanner (Reyka) se karakter ’n bietjie uit te brei (en al die aksie, natuurlik!!) 

Watter rol het jou al die meeste uitgedaag in jou loopbaan en hoekom? 

Anton in Lioness was nogal moeilik vir my. Ek dink ek was óf te onervare, óf te arrogant, óf albei, maar dis een rol wat ek dalk anders sou benader het as ek kon. Helaas...

Het jy onlangs iets geleer by ’n ander akteur/ persoon op stel wat jou geïnspireer het? 

Die lys is te lank: Ek's bevoorreg om al met so baie goeies te kon werk. Odelle de Wet, Hykie Berg en Clint Brink kry soveel gedoen met minimale effort (of hulle laat dit so lyk!), so ek geniet dit om hulle dop te hou. Reynardt Hugo inspireer my weer om te gaan vir wat jy wil hê, al is dit uit jou gemaksone. 

Daniel Janx hou my nederig en dan meer spesifiek is ek dankbaar vir akteurs soos Frank Rautenbach, Kim Engelbrecht en Germandt Geldenhuys wat op verskillende tye soortgelyke advies gegee het wanneer dit by my intensies op ’n sekere spreekbeurt kom. 

Dis lekker om saam te werk en verskillende aanslae van ’n toneel te verken.

Saam met watter persoon in die industrie sal jy nog mee wil werk eendag? 

Amalia Uys.

Is daar ’n fliek of reeks op kykNET/Showmax wat jy onlangs gesien het waar jy gedink het jy sal nogal graag daarin wil speel? 

Donkerbos en dan Catch Me a Killer om weer saam met Brett Michael Innes te werk. 

Bonus - daar's onlangs ’n kykNET-reeks geskiet waarin ek graag wou speel, maar dinge het ongelukkig nie so uitgewerk nie. Ek sien uit om dit te kyk.

Hoe motiveer jy jouself nadat jy ’n moeilike dag agter die rug het? 

Count your blessings en wees môre net beter.

Wat is jou motto in die lewe?

Ek's ’n sucker vir “Follow your Bliss”.

As jy enige ander celebrity moet speel, plaaslik of internasionaal, wie sal dit wees en hoekom? 

Rassie Erasmus: Ek's ’n groot Cheetah en al ’n aanhanger van sy speeldae af. Wat hy vir die land met die Bokke vermag het, gegewe die toestand waarin hy die afrigterspos betree het, is inspirerend en verdien meer lof, glo ek. 

Dalk ’n Tarantino-ish, alternatiewe toekoms/verlede-tipe fliek waar Rassie President van Suid-Afrika word. Ek sal mal daaroor wees om hom te ontmoet vir navorsing en om saam met die Bokke te oefen.

Skakel weeksdae in vir Binnelanders op kykNET, kanaal 144 en gesels saam op Facebook, X, Instagram en TikTok deur #Binnelanders te gebruik. Stroom ook die tweede volledige seisoen van Reyka op DStv Stream