Logo

Tussen tonele met Ewan Strydom

Nuus
19 April 2024
Voordat Ewan terug plaas toe keer deel hy meer oor sy lewe as aanbieder en akteur.
Ewan Strydom

Ons gesels met die Plaasjapie en Bravo!- aanbieder oor inspirasies, droom-rolle en veel meer!

Watter items gaan ten alle tye saam met jou stel toe?

Ek het altyd ’n knipmes by my, mens weet nooit wanneer ek ’n garing moet afsny of as ’n gas jou verras met ’n braai en ’n lekker stuk vleis nie! ( En ja, dit gebeur!)



Jy is 'n radio-omroeper en 'n aanbieder op verskeie TV-programme: Watter medium geniet jy die meeste? 

Ek het lank radio gedoen, vir so 7 jaar, maar in Desember 2023 opgehou want TV het my hart!

Het jy onlangs iets geleer by ’n ander aanbieder/ persoon op stel wat jou inspireer?

Ek leer so baie, by ’n hele klomp mense wat ek die voorreg het om mee te kuier, maar veral mense wat al ’n paadjie gestap het. Sanger Sonja Heroldt het onlangs wyshede gedeel en gesê, wat sy geleer het oor haar jare in die industrie, is om altyd net eerlik met jouself te wees. Iets wat ek weet, maar dit ruk mens nogal uit die mond van iemand wat al ’n pad gestap het.

Is daar ’n fliek of reeks op kykNET of Showmax wat jy onlangs gesien het waar jy gedink het jy sal nogal graag daarin wil speel?

Dis so moeilik om te sê! Daar is soveel kwaliteit, en ek sit baie en kyk en sal ek dink, “mens dit sou lekker wees om daarin te speel.”

Magda Louw is ek mal oor, maar sal ook iewers dalk ’n skurk wil speel, een van daai wat jy haat om lief te hê. Of as kykNET ’n superhero movie maak is ek voor in die ry as ’n Superman of iets!



Hoe motiveer jy jouself nadat jy ’n moeilike dag agter die rug het?

Gaan sit, haal asem, skink ’n glasie wyn en kyk net na alles wat ek het om voor dankbaar te wees.

Wat is jou motto in die lewe?

Dit wat my bang, senuweeagtig, maar ’n bietjie opgewonde maak, doen dit!

Het jy ’n geheime talent waarvan ons nie weet nie?

Nee wat, ek soek nog self! Ek kan wel ’n backflip op ’n trampolien maak as dit tel!



Skakel elke Donderdag om 20:00 in vir Plaasjapie sowel as Bravo! direk daarna!