Logo

Tiende seisoen van Jou Show om die draai

Nuus
12 Maart 2016
Jou Show se tiende seisoen spog met ’n nuwe stel en ’n nuwe formaat! Lees meer.
Emo Adams Pink

Die gewilde kykNET-kletsprogram Jou Show, met aanbieder Emo Adams, trek ’n vars baadjie aan – ’n nuwe stel, ’n nuwe formaat, maar nog net soveel pret.

Die tiende seisoen van dié reeks word vanjaar in halfuur-programme uitgesaai – 30 minute van aksiebelaaide, skreeusnaakse vermaak.

Oudergewoonte kom kuier die wie’s wie van die vermaakbedryf saam met Emo in die ateljee. Bekendes soos Modder en Bloed se Sean Else en Stian Bam, Vir Altyd se Ivan Botha en Donnalee Roberts en die Sterlopers-akteurs Willem Botha en Jenna Dunster maak dié keer ’n draai. Ander gaste sluit in onder andere Vinette Ebrahim, Lizz Meiring, Zelda le Grange, Patricia de Lille, en Boer Soek ’n Vrou se nuwe aanbieder, Minki van der Westhuizen.

Jou Show sal ook nie dieselfde wees sonder fantastiese optredes nie: Karlien van Jaarsveld, Loki Rothman, André Venter, Charlize Berg en Saarkie sal die gehoor vermaak. So ook nuwe talent van Chris Rain en die nuutste rock-sensasie, Nagligte.

In die eerste episode, op Maandag 4 April om 20:00, kom gesels die regisseur Sean Else en die akteur Stian Bam oor hoekom Suid-Afrikaners aanklank by die nuwe fliek Modder en Bloed gaan vind. Ons sluit die episode af met ’n optrede deur Pietman.

Kom deel in die pret! Jou Show beloof om vanaf 4 April jou lagspiere fiks te hou.