Logo
Glam Guru
web uni tv guide

Glam Guru

144VoorkomsPG

Terug op die lug – Glam Guru 20

Nuus
16 Maart 2021
Glam Guru begin op Sondag 4 April om 17:30 op kykNET (kanaal 144 op DStv) vir 13 episodes.
BB

Die gewilde skoonheid- en modeghoeroe Hannon Bothma is in April terug op kykNET wanneer die 20ste seisoen van Glam Guru begin.

Dit is ook die tweede seisoen van Glam Guru wat tydens die Covid-19 geskiet is.

Hannon sê hy het hierdie keer die werklike impak wat die pandemie op gewone mense het, ervaar. Daaroms is die tema’s en wenke wat hy vir deelnemers gee veral met dit in gedagte sodat kykers wat in dieselfde bootjie is daarby sal baat.

“’n Voorbeeld hiervan is in episode ses met Zahraa McDonald wie in ’n voorkomsgroef  veral het sedert sy net van die huis moes werk. Toe sy moes terugkeer kantoor toe, het sy besef sy het onkundig geraak oor hoe om haarself mooi te laat voel,” sê Hannon.

Daar is ook verskeie stories van inspirasie van vroue, wat ongeag Covid-19, moes planne beraam het om met hul lewens en loopbane aan te gaan.

“Maar ek het ook die ander kant van die muntstuk gesien van mense wat moedeloos geraak het. In een van die episodes ontmoet ek vir Erica van der Reede wat elke oggend met die vrees wakker geword het of sy nog ’n werk teen die einde van die dag gaan hê of nie.”  

Volgens Hannon gaan kykers dus in hierdie reeks veral praktiese wenke en raad ontvang met huidige kwessies en uitdagings in gedagte.

Glam Guru is die eerste keer in April 2008 op kykNET uitgesaai en Hannon glo dat deel van die reeks se sukses is, is dat dit aanpasbaar bly in ’n wêreld wat voortdurend verander. Terselfdertyd kan talle kykers hulself met die gaste en hul omstandighede vereenselwig.

“Die eerste episode van Glam Guru het natuurlik heelwat anders gelyk as die episodes wat jy in reeks 20 gaan sien, maar ek het vanaf die eerste episode geweet dat die konsep van voorkomstransformasies met die gepaardgaande wenke en inspirasies 'n lang leeftyd gaan hê.”

“Die reeks het elke keer verbeter soos kykers ons laat weet wat hul veranderende behoeftes is, wat hulle meer van wil sien en wat hulle verveel.”

Hy glo dat deel van Glam Guru se wenresep is dat dit veel meer as ’n Aspoestertjie-verhaal is waar ’n persoon tam en verwaarloos arriveer en uiteindelik soos ’n energieke vlinder uit ’n kokon breek.

“Dis ’n program waar kykers vermaak en geïnspireer word. Terselfdertyd kry hulle wenke wat sommer dadelik toegepas kan word as hulle ’n soortgelyke voorkomsuitdaging het,” sê Hannon

“Ons pak episodes ook met humor of ’n ‘tong-in-die-kies’-benadering aan om dit lig te hou, want dit help om dit toeganklik vir ’n groot gehoor te maak.”

“Wat veral belangrik is, is die feit dat ons steeds nie staatmaak op naalde, messe of mediese prosedures  nie. Dit maak Glam Guru geloofwaardig, want om mooi te lyk is binne die bereik van enige iemand wat die hunkering daarna het om hulself te verbeter.”

Glam Guru begin op Sondag 4 April om 17:30 op kykNET (kanaal 144 op DStv) vir 13 episodes.