Logo
Binnelanders Slim Homepage 1600x160
web uni tv guide

Binnelanders

144Drama13

Talentvolle David draai van verhoog tot in Binnelanders

Nuus
13 Oktober 2021
David Viviers het reeds impak in die teaterwêreld gemaak, maar sy rol as Liam is sy eerste in ’n sepie. Maar dit was so amper-amper of hy het ’n argeoloog geword ...
David Viviers – Binnelanders

Vertel ons meer van jouself.
Ek is oorspronklik van George, maar het myself kosskool toe in Makhanda (Grahamstad) gestuur toe ek 15 was. Ek kan onthou my pa was daarteen gekant, maar ek het vir hom ’n brief van tien bladsye geskryf om te verduidelik hoekom ek moet gaan. Ek vermoed ek het gedink kosskool sal soos Hogwarts in Harry Potter wees. Nodeloos om te sê dit was nie, maar dit is waar ek my liefde vir toneel ontdek het. Ná skool het ek aansoek gedoen om ’n BSc-graad in argeologie en genetika te doen en ek is aanvaar, maar ek het besef die verhoog roep en het my rigting na drama verander.

Wanneer het jy geweet jy wil ’n akteur word?
Ek onthou dat ek vir my teddiebere konsert gehou het toe ek ’n kind was en dat ek kartonbuise wat ek in my ouma se kantoor gekry het, op stoele gesit het en gemaak het of dit kameras en ek ’n akteur was. Maar ek dink die groot gewaarwording het gekom toe ek die rol van Benedick in Much Ado About Nothing op hoërskool vertolk het. Ná dit het ek besef daar is niks ander wat ek werklik wou doen nie – behalwe dalk om ’n skrywer te word.

Jy het op universiteit die Brett Goldin-beurs gewen en was vir ’n paar maande by die Royal Shakespeare Company by Stratford-upon-Avon in Engeland. Wat sal jy altyd van hierdie tyd onthou?
Dit was ’n uitsonderlike ondervinding wat ek nooit sal vergeet nie en ek is baie dankbaar teenoor Denise Goldin vir die kans. Dit was my eerste keer oorsee en dit was spesiaal omdat ek dit juis by die RSC kon deurbring. Om dan Londen toe te gaan en vertoning op die West End te gaan kyk, was ‘n droom wat waar geword het. Ek kan ’n produksie van The Seagull by die National Theatre onthou waar daar regte bome op die verhoog was met ’n rivier wat daardeur vloei. Dit was surrealisties. Maar dit was ook gerusstellend om te sien dat ons eie produksies en spelers werklik wêreldklas is.

Jy is Engelssprekend, maar is net so gemaklik om in Afrikaans te werk. Waar kom die tweetaligheid vandaan?
My pa is Afrikaans, so ek het so bietjie van die taal van sy kan geërf. Maar my ouers het my Engels grootgemaak so dit is iets waaraan ek moet werk. Ek voel daar is baie opwindende werk wat in Afrikaans gebeur so ’n paar jaar gelede het ek vir myself gesê as ek ernstig oor my werk is, moet ek aan my Afrikaans werk en vir oudisies gaan vir Afrikaanse produksies. Hierdie jaar is meeste van die werk wat ek gedoen het in Afrikaans, wat jou wys dit was ’n wyse besluit.

Black Sails, die Amerikaanse TV-reeks wat in Kaapstad verfilm is, is een van die produksies wat op jou CV is. Hoe verskil dit om op internasionale reekse te werk?
Dit was my eerste werk nadat ek gegradueer het en dit was so opwindend om ’n uitgehongerde seerower op ’n skeep te speel – en dan in die kop geskiet te word! Ek moes om die waarheid te sê my van my gradeplegtigheid haas om by die verfilming uit te kom. Dit het vir my soos ’n goeie teken gevoel van dinge wat kom.  

Vir my is die grootste verskil om op internasionale reekse te werk tyd. Groter begrotings beteken daar is meer tyd om aan ’n toneel te werk en om verskillende dinge as ’n akteur op die proef te stel. In Suid-Afrika hang alles af van tyd so dit is ’n geval van twee opnames en dan, as daar nie iets vreesliks verkeerd gegaan het nie, beweeg ons aan na die volgende toneel.

Jy het al veskeie benoemings ontvang vir jou werk in die teater, onder meer ’n Fiësta-benoeming as beste nuweling en ’n Kanna-benoeming as beste byspeler vir die produksie Klara Maas se hart is gebreek. Is teater jou eerste liefde?
Niks kan die interaksie met ’n gehoor vervang nie. Ek het dit veral gevoel met Klara Maas. Om die vreugde van mense wat uit die teater stap te beleef, is so ’n wonderlike gevoel. In film weet jy nie altyd hoe die storie mense affekteer nie, maar ek geniet film geweldig baie. Ek hou van die uitdagings wat dit stel. Dis soos om met ’n baie fyn kwassie te verf wat jy nie altyd in die teater kan doen nie. So om jou vraag te beantwoord: Ek sal nie sê ek verkies een bo die ander nie.

Komedie en ernstige drama kom ewe gemaklik vir jou. Het jy ’n voorkeur?
Ek is lief vir beide en verkies gereeld om een met die ander op te volg net om dinge interessant te hou. Maar ek dink die ding wat my juis na drama toe aangetrek het, was in die eerste plek om mense te laat lag, vir hulle vreugde te bring. Daarom dink ek ek sal altyd ’n klein bietjie gemakliker in komedie wees.

Sou jy ooit tien jaar gelede gedink het jy sou in Binnelanders speel? En wat het jou verras van die proses om in ’n daaglikse reeks te speel?
Nooit! Ek onthou hoe ek sepies saam met my suster gekyk het toe ek ’n kind was en hoe ek gedink het dit moet nogal cool wees om so iets eendag te doen. Ek dink wat my die meeste verras het, is hoe tegnies dit is – van die blokking tot die pouses tussen dialoog. Dit was iets om aan gewoond te raak. Dit was ook vreemd om ’n regisseur in ’n ander vertrek te hê met ’n vloerbestuurder wat die een is wat met jou kommunikeer.

Ek was ook verbaas hoe wonderlik almal is. Ek was baie op my senuwees die eerste dag, maar almal by Binnelanders is soos rustig en gaaf – van die spelers tot die regisseurs – dat ek vinnig tuis gevoel het. Ek het elke oomblik op stel geniet.

Wat hou jy van jou karakter?
Ek dink mense dink aanvanklik Liam is onbeskof en ongeduldig en ja, natuurlik is hy. Maar ek dink dit kom uit ’n plek van diep seer – emosioneel sowel as fisies – en dat hy ’n sensitiewe siel is met groot drome. Ek hou van die feit dat hy groei en besef almal het hulle eie pyn en dat ons almal vir ons eie lewens verantwoordelik is. Hy het die vermoë om jammer te sê, die beste van sy situasie te maak en dinge uit ander mense se oë te sien. Ek admireer hom vir dit.

Is daar liefde op die horison vir Liam en Karen?
Daar is beslis belangstelling van beide kante. Ek dink Karen verras Liam omdat sy werklik in sy lewe belangstel en ek dink hy begin meer van haar hou as wat hy verwag het. Maar liefde? Ons sal moet sien ...

Wat is die een rol wat jy nog graag in jou lewe wil speel?
Ek hou van rolle wat so ver moontlik verwyderd is van myself. So ek dink iets soos ’n fopdosser of ’n rapper. Ek het nog nie een van hulle gespeel nie.

Sal jy graag oorsee wil gaan werk?
Beslis. Bo-aan my lys is Griekeland, Italië en Portugal. Maar my droom was nog altyd om vir werk te reis, so ek is dus oop vir enige aanbod!

Wat is daardie een ding wat mense nie van jou weet nie?
Ek het pas ’n roman geskryf wat volgende jaar gepubliseer word. Meer daaroor later.

Gesels saam op Facebook, Twitter en Instagram en onthou om weeksaande om 19:30 in te skakel vir die jongste drama en intrige wat in die gange van Binnelanders uitspeel.