Logo
Suidooster TX change Slim BB
web uni tv guide

Suidooster

144Drama13

Suidooster-sterre gaan kersies uitblaas by 20ste Suidoosterfees

Nuus
16 Februarie 2023
Vanjaar is die die fees 20 jaar oud, en kykNET se sepiesterre gaan op die verhoog aantree om dié mylpaal met feesgangers te vier.
Suidoosterfees

Kaapstad se Suidoosterfees en Suidooster, kykNET se gewilde reeks, is soos familie wat dieselfde van deel. Vanjaar is die die fees 20 jaar oud, en kykNET se sepiesterre gaan op die verhoog aantree om dié mylpaal met feesgangers te vier.

In 2022 was Suidooster Stormsterk, ’n musiek- en dansproduksie, ’n wegholtreffer op die feesprogram, en in 2023 kom blaas Suidooster-akteurs die fees se verjaarsdagkerse uit met Suidooster Stormsterk 2. Jawaahier Petersen, Eden Classens, Irvine van der Merwe, Natasha van der Merwe, Marco Spaumer en Simone Biscombe is op 29 April 17:00 op die Artscape-verhoog vir dié spesiale geleentheid.

Sinergie tussen die fees en die TV-reeks maak die familiebande nog sterker, en feesgangers smaak die genot daarvan wanneer hul gunsteling-sterre op die verhoog verskyn.

Nog twee prettige produksies uit die kykNET-stal wat feesgangers gaan bekoor, is Magda Louw met Desiré Gardner, gebaseer op die kanaal se gewilde komediereeks, en Hallo, is Bettie wat praat, met Dean Smith.

Magda is in haar herfsjare, en wanneer sy skielik ’n nasionale TV-ster word, is sy nie meer net die tannie in die straat nie. Feesgangers kan op 28 April 12:30 en 29 April 15:30 kom kyk wat die tante alles kwytraak as die mikrofoon in haar hand gedruk word.

Dean Smith, Suidooster se geliefde Wade, is op 29 April 18:30 te sien in Hallo, is Bettie wat praat. In dié komedie is Dean in die skoene van die skreeusnaakse Aunt Bettie wat beroemd en berug geraak het op sosiale media. Bettie is formidabel en sy het iets oor alles te sê, al het sy meestal die kat aan die stert beet.

Waldimar Pelser, M-Net Direkteur: kykNET-kanale, sê: “Besoekers aan die 20ste Suidoosterfees gaan uit hul mae lag vir die koddighede van die lewe in vanjaar se komedie-aanbod. Magda Louw is gebore as ’n eenvrou-toneelstuk, het later ’n kykNET-storiefilm geword, en tóé ’n komediereeks op Maandagaande. Nou is dit weer vir die teater verwerk.”

Deel van die fees, van 26 April tot 1 Mei by Artscape, se verjaarsdagvieringe is ’n spesiale Suidooster-pakket aan besoekers, wat toegang tot al drie hierdie vertonings teen die weggeeprys van R300 bied. Mense wat van dié spesiale aanbod gebruik wil maak, kan vir Miandra Hayward e-pos: [email protected].

Vir die volledige program, besoek www.suidoosterfees.co.za. Kaartjies is by Computicket, of skakel Artscape dial-a-seat by 021 421 7695. Kyk mooi op die program watter produksies gratis is, maar waarvoor jy per e-pos moet bespreek! Dit sal die Jakes Gerwel-gesprekke, dansproduksies en werkswinkels insluit.

Die Suidoosterfees word ondersteun deur die Departement van Sport, Kuns en Kultuur; die Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport; Stad Kaapstad; Media24; Die Burger; NATi; kykNET; die ATKV en Artscape.

Vir meer inligting, kontak Wilmer Müller: [email protected].