Logo
Suidooster TX change Slim BB
web uni tv guide

Suidooster

144Drama13

Stormsterk-skokke gaan “Suidooster” tref

Nuus
03 Oktober 2022
kykNET se spitskyktydskedule verander op Maandag 3 Oktober, wanneer dit met Suidooster om 18:00 in plaas van 18:30 afskop.
Suidooster New KV

’n Warrelwind van drama word vir die kykNET-sepie Suidooster, wat onlangs by die Suid-Afrikaanse TV-toekennings, die Saftas, as die land se beste sepie aangewys is, voorspel.

In die komende weke gaan ’n paar karakters se lewens dramaties verander as gevolg van ’n kinkel of twee wat niemand sou kon voorsien het nie, terwyl nuwe en ou gesigte hul verskynings in Ruiterbosch, die fiktiewe Kaapse woonbuurt waar die sepie afspeel, gaan maak. 

Een van die nuwe gesigte is die veteraanaktrise, Joanie Combrinck, wat binnekort in Suidooster te sien is wanneer haar karakter, Nelia, opdaag. 

Nelia is Elana (Esther van Waltsleben) se ma en sy kom kuier vir haar dogter na haar man, en Elana se pa, skielik oorlede is. Terwyl Elana se verhouding met haar ma reeds op dun ys is, is Nelia ook salig onbewus daarvan dat Elana intussen van Susan (Natasha van der Merwe) geskei is. 

Terselfdertyd gaan Susan se verhouding met Justin (Eden Classens) voor ’n toets te staan kom wanneer Keith (Christiaan Schoombie), ’n ou skoolvriend van Justin, in sy slaai kom krap. 

Wees ook op die uitkyk vir ’n ou bekende wat terugkeer. Junaid (Hein Poole) kom skiet weer wortel in Ruiterbosch om ’n nuwe besigheid in die Suidooster Sentrum te begin. Junaid is ’n vorige kêrel van Kaashifa (Jawaahier Petersen), wat onlangs tydens haar borskankerstryd met Rhafiek (Irshaad Ally) getrou het. Die vraag is egter of daar ’n slang in die gras is?

Wat waarskynlik die grootste storielyn-verrassing vir kykers gaan wees, is wanneer dit blyk dat daar ’n reeksmoordenaar, wat een van die Suidooster se bestaande karakters is, in hul midde is. Boonop is ’n geliefde lid van die gemeenskap een van sy of haar slagoffers.  

kykNET se spitskyktydskedule verander op Maandag 3 Oktober, wanneer dit met Suidooster om 18:00 in plaas van 18:30 afskop. 

Die afgelope jare is sepie op beide kykNET (kanaal 144) en kykNET & kie (kanaal 145) in dieselfde tydsgleuf, om 18:30, uitgesaai. Dieselfde episode wat om 18:00 op kykNET wys, sal om 18:30 op kykNET & kie gewys word, terwyl dit ouder gewoonte steeds op DStv Catch Up of DStv NOW beskikbaar is. 

Volgens kykNET gee die skeduleverandering kykers méér geleenthede om die doen en late van dié bekroonde sepie te volg.