Logo

Stille Nag: Steeds relevant – #JouSondagdrama

Nuus
25 Januarie 2019
Lees meer.
10_Stille Nag_51001

Stille Nag, die drama wat op Sondagaand 27 Januarie uitgesaai word op DStv-kanaal 144, het reeds in die laat tagtigerjare mense laat regop sit en nou, dertig jaar later, gaan dit beslis weer die tonge los hê.

Net eers as agtergrond: Stille Nag is deur die Hertzogprys-bekroonde dramaturg Deon Opperman geskryf. Die debuut was in Julie 1989 by die Grahamstadfees met ’n sterbelaaide rolverdeling: Wilna Snyman as die ma, Eghard van der Hoven as die pa, Nico Liebenberg as Adriaan, Bruce Fields as Daantjie, Gert van Niekerk as Gerhard en Embeth Davidtz as Antoinette. Met die landwye toer later is die rol van Adriaan deur Albert Maritz gespeel en dié van Antoinette deur Kim de Beer.

Stille Nag was in 1990 die wenner van die Fleur du Cap-toekenning vir beste nuwe inheemste stuk.

KYK DIE LOKPRENT VIR OPPERMAN SE FLIEK STILLE NAG HIER.

Opperman het ’n paar vrae oor hierdie kontroversiële stuk beantwoord:

Hoekom is daar besluit om ’n filmweergawe van Stille Nag te maak?
Die stuk het ’n enorme impak op gehore gehad toe dit die eerste keer opgevoer is. Ek glo dit sal weer ’n soortgelyke impak hê. Dis ’n mooi, ontroerende verhaal. En baie belangrik – die tema’s van die stuk is in die huidige politiese klimaat net so relevant as wat was toe die stuk sy debuut gehad het.

Wat onthou jy van die reaksie toe Stille Nag die eerste keer opgevoer is? 
Gehore was elke aand emosioneel geruk. Daar was baie trane in die gehoor. Stille Nag is die teks uit al my drama’s wat die langste speelvak geniet het. Dit het dwarsoor die land getoer en ook na Namibië. Dis elke aand ’n staande toejuiging ontvang.

Hoekom is Stille Nag vandag steeds relevant?   
Die stuk gaan oor die verskriklike impak wat radikale politiese uitkyke en onversoenbare standpunte op gewone gesinne het. Maar bowenal gaan dit oor vergifnis en hoe ’n samelewing sonder vergifnis altyd op geweld en doodslag uitloop.

Is daar lesse te leer uit Stille Nag?    
Fanatiese standpunte loop altyd uit op die vernietiging van die onskuldiges.

Wat is jou reaksie op mense wat krities gaan wees oor Stille Nag
Mense is vry om te dink, voel en sê wat hulle wil.

BLAAI HIER DEUR FOTO’S VAN STILLE NAG.

Skakel elke Sondagaand om 20:00 vir Deon Opperman se dertien films – vir meer inligting, volg die hutsmerk #JouSondagdrama op sosiale media.