Logo
Alles Malan – Slim
web uni tv guide

Alles Malan

144DramaPG13 L

Só het ek my lisensie gekry – Alles Malan

Nuus
21 Desember 2021
Skakel elke Dinsdagaand om 20:00 in vir Alles Malan op kykNET (DStv-kanaal 144).
Alles Malan – Episode 4

Dit het met rukke en stote gegaan, maar Elani (Greteli Fincham) het haar bestuurslisensie in die sakkie. ’n Paar van die ander Alles Malanners vertel van die dag wat hulle hulle vlerke gekry het.

Elsabé Daneel (Brenda Malan)


Ek het my lisensie in 1978 gekry het. Dit was die jaar ná ek graad behaal het en ek ’n motor nodig gehad het. My eerste motor was ’n helderblou Volkswagen wat ek tweedehands gekoop het soos die gebruik was. Die Volksie was ’n vrotsige kar want hy was lief om te stol. Hy maak so prr-prr-prr en dan gaan staan hy. Ek het teen ’n bult begin parkeer sodat ek seker kan maak dat hy loop.

Ek het my lisensie by die verkeersdepartement in Kaapstad gekry. Ek was ’n getroue een en het my boekie van voor tot agter geleer: wat jy moet doen, hoe jy moet parkeer, hoe jy nie agteruit moet gaan in die Vollatjie nie. Ek het my lisensie die eerste keer gekry. Voor dit het ek al gereeld radiowerk by die SAUK in Seepunt gedoen, maar my ma-hulle het my altyd geneem, maar van 1978 kon ek self ry. Ek het by Hoërskool Strand begin skoolhou en het op en af van Strand tot Seepunt gery tussen skoolhou en radiowerk.

Op ’n stadium is my kar gesteel en ek sê vir my pa: Wat nou? Hy het so bietjie van ’n sesde sintuig gehad en sê toe ons moet in sy Borgward klim en die kar gaan soek. Ons het die strate op en af gery – daar was daardie aand ’n brand op Duiwelspiek – en die derde straat wat ons so opkyk, toe sê hy, ja, die Volksie is hier op. Ek het volgehou my kar is gesteel, maar wragtie, daar op in die straat staan my vreeslike blou Volla. Ek het uitgeklim en die sleutel afgehaal van die hakkie wat aan die mud guard vas was, in my kar geklim en huistoe gery. So het ek my Volla teruggekry en so hik en stop teen die opdraandes. Later jare het ek ’n beter karretjie gekry, maar ek was baie lief vir die Volla. Ek het die wêreld vol gery en baie bemagtig gevoel.

Albert Maritz (Derik Malan)


Dit was by Brackenfell se verkeersdepartement. My pa het saam met my gegaan en het met sy kar uitpaseer. Dit was ’n groen Volkswagen Passat. Fantastiese kar. Hulle het aanhou ry al val hulle uitmekaar. Ek het op ’n motorbikie soontoe gery, so klein 70cc, en het dieselfde dag my motorfiets- en karlisensie gekry. Op pad terug huis toe, het ek in ’n straat op my motorfiets gery waar daar so S in die pad is langs ’n bessieboom. Ek is in ’n mislukking gedoem, het gegly en daar op die sypaadjie beland op die dag wat ek my lisensie gekry het. Vandag nog is ek versigtig vir los gruis wat op die pad lê.

Greteli Fincham (Elani Malan)
Dit was ‘n lang proses en het dit eers in 2020 gekry. Ek het twee keer my leerlinglisensie geskryf – ek het die eerste keer die oggend ná my matriekafskeid gaan skryf en gedop. Ek het my lisensie twee keer gedop voor ek dit uiteindelik gekry het. Die eerste keer het ek onder andere op ’n voetgangersoorgang gestop en die tweede keer het per ongeluk die hele tyd per ongeluk die toeter gedruk en my boude afgeskrik. Die derde keer het ek dit uiteindelik gekry en watter wonderlik gevoel! Ek het sommer vry gevoel en ek het gevoel ek kan die wêreld aanpak. Om my lisensie te kry was een van die stresvolste dinge wat ek al ooit aangepak het.

My eerste kar was ’n Freelander wat ek gekoop het met geld wat verdien het. Ek het ook probeer om dit so gou moontlik af te betaal en dit is nou nog my kar.

Ivan Zimmermann (Frik Malan)
Dit was 1998 in Witbank. Ek onthou dat dit vinnig en maklik gegaan het. My eerste kar was ’n Golf Chico 1.3. Dis steeds my gunstelingkar.

Ivan Botha (Wim Viljoen)
Ek was 18 en het my lisensie gekry in ’n silwer Corsa Lite by die verkeersdepartement in Bronkhorstspuit.

Nadia Valvekens (Tessa Malan)


Ek het op 18 die eerste keer gegaan en natuurlik gedink ek gaan dit nail omdat my ma my al lank laat bestuur het. Ek het gedink ek weet wat ek doen, maar duidelik het ek slegte gewoontes aangeleer en dit het veroorsaak dat ek my eerste toets gedop het. Die tweede keer wat ek gegaan het, het ek my lisensie gekry. Die ding waarvoor ek die bangste was, en lank voor bang was, was parralelparkering. Die Kaap het my egter baie vinnig op die ouderdom van 37 geleer dat ek dit móét kan doen. Ek het dit altyd vermy, maar deesdae doen ek dit met gemak.

En my eerste kar? Dit was ’n goue Jumbo Golf.

Skakel elke Dinsdagaand om 20:00 in vir Alles Malan op kykNET (DStv-kanaal 144).