Logo
Alles Malan – Slim
web uni tv guide

Alles Malan

144DramaPG13 L

Vang op met Alles Malan seisoen 1 se gebeure

Nuus
25 November 2021
Alles Malan se tweede seisoen begin op Dinsdag 30 November om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).
Alles Malan – S1 recap

Alles Malan maak op 30 November ’n welkome terugkeer na kykNET (DStv-kanaal 144) vir ’n tweede seisoen. Die eerste seisoen, wat in 2019 uitgesaai is, was ’n groot gunsteling by kykers en die tweede seisoen gaan hulle beslis ook vasgenael hou in die lief en leed van die uitgebreide Malan-familie.

Die eerste reeks het begin met Frik en Tessa Malan (Ivan Zimmermann en Nadia Valvekens) wat terugkeer uit Engeland met hulle twee kinders, Elani (Greteli Fincham) en Freek (Mateo Olivier). Elani is in matriek en klein Freek, ’n aangenome kind, is in graad 8. Frik het besluit om terug te keer om die familiebesigheid, Malan Vervoer, oor te neem. Tessa, ’n prokureur, wil weer werk en word ’n pos aangebied, maar sy besluit daarteen om meer tyd by haar familie te wees.

Derik Malan (Albert Maritz) is die patriarg van die familie en is reeds 40 jaar met Brenda (Elsabé Daneel) getroud. Derik het Malan Vervoer opgebou van die begin tot die besigheid wat dit vandag is. Dit word egter vinnig duidelik dat Derik nie altyd eerlik was wanneer dit by besigheid gekom het nie en Frik vind uit dat sy pa bedrog gepleeg het.

Derik se gesondheid is ook nie wat dit moet wees nie en Brenda het al haar dae om hom so ver te kry om gesonder te lewe omdat hy hartprobleme het. Hy sukkel om werklik Malan Vervoer te laat gaan en maak die lewe vir Frik moeilik. Intussen is Brenda bang dat Derik se obsessie met Malan Vervoer die gesin gaan verwoes.

Frik besluit om Malan Vervoer te verlaat en bedank en hy, Tessa en die kinders trek in hulle eie huis in. Derik oorweeg om die familiehuis te verkoop, maar Brenda wil glad nie toelaat dat hy dit doen nie. Hy besluit dat as hy moet kies tussen Malan Vervoer en die huis hou om vir Brenda gelukkig te hou, sal hy eerder die besigheid verkoop. Dit selfs nadat Brenda se pa, Peet (Marius Weyers), aanbied om vir hom die geld te leen om kop bo water te hou. Frik besef dat hy nie vir iemand anders wil gaan werk nie, maar sy pa wil help om weer Malan Vervoer op te bou.

Die jonger Malan-seun is Nico (Sean-Marco Vorster) wat ook aanvanklik vir Malan Vervoer werk, maar hy aanvaar ’n pos by die plaaslike hoërskool as rugbyafrigter. Nico en Lee-Ann (Nicole Fortuin) is skoolliefdes. Lee-Ann is ’n onderwyseres by die skool waar Elani en Freek skoolgaan en waar Nico rugby afrig. Nico en Lee-Ann se verhouding wankel egter teen die middel van die reeks. Herold Boonzaaier (Tim Theron) krap dinge deurmekaar wanneer hy vir Lee-Ann ontmoet en Nico loop ’n skoolvriendin, Vicky Joubert (Mila Guy) raak. Aan die einde van die reeks besef Nico en Lee-Ann dat hulle tog vir mekaar bedoel is.

Reeds vroeg in die eerste reeks vind die kykers uit dat Elani swanger is met haar kêrel in Engeland, Allen (Tristan de Beer), se kind. Dit is ’n skok vir haar ouers, maar hulle besluit om haar te ondersteun en te help om die baba groot te maak. Elani ontmoet vir Johan (Brent Vermeulen), ’n mede-leerling, en hy is duidelik smoorverlief op haar. Sy druk deur met haar klasse op skool en gaan selfs matriekafskeid toe, maar met haar finale eksamen van haar matriekeksamen gaan sy in kraam en haar babaseun, Derik jnr., word gebore.

Freek het probleme van sy eie. Hy het vrae oor sy velkleur, die feit dat hy die hoofrol in die skool se dramaproduksie gekry het word bevraagteken as gevolg van sy verwantskap met Lee-Ann en hy wil sy biologiese ma ontmoet, iets wat Frik en Tessa baie ontstel. Hulle stem later in om hom te help om sy biologiese ma op te spoor. Tessa neem hom om sy biologiese ma, Cathy Jordaan (Kay Smith), te ontmoet en Freek sê later hy sal haar graag in sy lewe wil hou

In die finale episode van die eerste seisoen is dit Kerstyd. Allen kom in Suid-Afrika aan om Elani te oortuig dat hulle saam hoort, maar op die ou end kies sy vir Johan. Derik moet ’n hartoperasie ondergaan wat vir die Malans ’n groot skok is. Die operasie is egter ’n sukses en almal hou saam Kersfees in Derik se hospitaalkamer.

Alles Malan se tweede seisoen begin op Dinsdag 30 November om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).