Logo

Sielvolle TV-film vir Erfenisdag

Nuus
15 September 2022
'n Film oor 'n nuwe dominee en sy eksentrieke vrou wat groot bohaai maak op 'n klein dorpie.
Die Vredesduiwe cast

’n Klein dorpie en gemeenskap met alles wat daarmee gepaard gaan.

’n Nuwe dominee met ’n gladde kuif en sy oorywerige vrou.

’n Kerk se dak wat lek en ’n sangkompetisie om dit te probeer red.

En ’n soeke na dít wat alle Suid-Afrikaners as hul erfenis sien.

Die Vredesduiwe, ’n TV-film, se première is Saterdag 24 September op kykNET (DStv-kanaal 144) om met Erfenisdag saam te val. Die fliek vertel die verhaal van ’n nuwe dominee en sy eksentrieke vrou wat amok op ’n klein dorpie maak wanneer hulle ’n sangkompetisie vir die Erfenisdag-basaar van stapel stuur.

Neels van Jaarsveld en Amalia Uys is te sien as dominee en mevrou-dominee en die res van die rolverdeling sluit groot name in soos Anel Alexander, Jacques Bessenger, June van Merch, David Isaacs, Abduragman Adams, Daneel van der Walt, Ilse van Niekerk, Jacques Theron en Athina Jansen.

“Ons het begin by ’n storie oor ’n Erfenis-basaar en geëindig met ’n volwaardige drama met intriges en ’n groot hart waarop die span met reg trots kan wees,” sê die vervaardiger Jaco Nothnagel.

“Die fabelagtige draaiboek deur Emile Hager het die regisseur, Nicola Hanekom, se verbeelding gekielie en sy en die spelers het hard gewerk om die kern van die storie oor te dra. Die fliek vra die belangrike vraag: Wie se erfenis vier ons werklik op 24 September as dit nié kollektief en inklusief is nie?”

Die Vredesduiwe is in Mamre in die Wes-Kaap verfilm. “Die gemeenskap het ons omtrent op die hande gedra – veral tannie Una Pick van Die Werf-restaurant. Baie van die gasvrye mense van Mamre is as agtergrondspelers in die fliek te sien.”

Chad Zerf en Loki Rothman het vir die klankbaan gesorg. “Musiek speel ’n sentrale rol in die prent, aangesien dit ’n sangkompetisie insluit wat uitgedink is deur die wolwe-in-skaapsklere-paartjie, Sakkie en Maria, wat deur Neels en Amalia gespeel word,” sê Jaco.

Die Vredesduiwe word Saterdagaand 24 September om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Dit sal ook op Catch Up beskikbaar wees.