Logo

Die vredesduiwe: ’n Fliek oor die hart van Suid-Afrika

Nuus
23 September 2022
kykNET bederf kykers met die 90-minuut TV-film, Die vredesduiwe, op Saterdag 24 September 20:00 – spesiaal vir Erfenisdag.
Die vredesduiwe

Die klein dorpie Misgery het een van sy steunpilare verloor. Ou dominee se kis is nog nie eens in die grond nie en die roubeklaers is almal, soos verwag, swaarmoedig en in swart geklee.

Om die draai kom ’n ligblou tjor al rukkend en stortend. ’n Man met ’n gladde kuif, goue ketting om die nek en klere wat lyk of dit voorheen aan iemand anders behoort het, spring uit die kar. Saam met hom is ’n vrou met ’n groot bos rooi hare, kort rompie, lang stewels en ’n baadjie van nagemaakte pels. 

“Yes, yes! Hoe lyk dit? Sakkie Esterhuys, julle nuwe dominee,” stel hy homself aan die verbaasde begrafnisgangers voor.

Só speel een van die eerste tonele af in Die vredesduiwe. En wat ’n juweel is dit nie. Dit praat hard en duidelik met die harte van Suid-Afrikaners met genoeg humor, siel en teerheid om dít te bevestig wat ons nog altyd weet: Suid-Afrikaners is, met hulle nukke en al, baie spesiaal.

Anel Alexander en Jacques Bessenger is te sien as die suster en broer, Susan en Jan. Hulle pa was voorheen die dominee op Misgery, maar jare gelede het daar ’n ding of twee skeef geloop en al wat oorgebly het was hulle treurende ma, skinderstories en die skande.

Neels van Jaarsveld is die gladdebek Sakkie en Amalia Uys is Maria, oftewel mevrou dominee met die mooi bene en die kop vol planne. June van Merch is Kokkie, ’n kerksuster wat daarvan hou om betrokke te wees, en David Isaacs is haar seun, Basil, die dorp se werktuigkundige.

Jacques Theron is Willem, Susan se kêrel en Basil se regterhand, en Athina Jansen is Tinkie, Susan se assistent by die winkel wat sy en Jan bedryf. Gert du Plessis en Monique Jackson is onderskeidelik Patat en Sousie, Misgery se odd couple.

Ook te sien is Daneel van der Walt as Amanda, die dorp se skinderbek, Abduragman Adams as die hoofouderling oom Stoffel en Ilse van Niekerk en John Bradley as hardhorende tannie Ragel en swyende oom Ragel. Ja, al twee is Ragel.

“Dit was ’n heerlike ervaring,” sê Anel. “Ek en my man, James, is onlangs terug ná vyf en ’n half jaar in Los Angeles en dit was heerlik om weer saam met ou vriende voor en agter die kamera te werk. Nicola (Hanekom, die regisseur) het dit reggekry om ’n formidabele rolverdeling bymekaar te kry. Ons het almal soveel respek en bewondering vir haar talent en enige geleentheid om saam met haar te werk, word aangegryp.”

“Behalwe vir haar bos 1980’s perm-krulle, wat ek sterk oorweeg het om ná die verfilming te hou, is Maria se emosionele reis vir my een van die mooistes wat ek al moes vertolk,” sê Amalia. “Haar soeke om iewers te behoort, waarheen dit haar dryf en die dilemma waarin sy haarself in vind, is ’n storie vir vroue en oor vroue en so oud soos die berge. Ek het dink ons het almal ’n stukkie Maria in ons.”

Anel vertel sy, Jacques en Amalia was in 2015 saam op die stel van die fliek Sink. “Dit het gevoel of ons mekaar gister gesien het en ons kon dadelik weer saam skerts en grappies maak asof daar geen tyd verbygegaan het nie.”

Dit was vir haar ’n groot verrassing toe sy hoor sy moet in die fliek sing. “Ek het as jong aktrise baie gesing en sal dit graag meer wil doen, maar dit was senutergend om weer agter die mikrofoon in te skuif. Maar die musiekspan onder leiding van Chad Zerf en Loki Rothman was amazing en het seker gemaak ons almal is op ons gemak,” sê Anel.

“Sakkie is ’n unieke, interessante, volkleur karakter,” sê Neels. “Dit was wonderlik om hom te vertolk. Hierdie is werklik ’n baie spesiale en opwindende film. Ek glo dit gaan kykers bekoor, roer en vermaak.”

“Ek hou van die feit dat my karakter van musiek hou en saam met sy suster in die kostuumwinkel werk,” sê Jacques. “Ek hoop kykers geniet die fliek. Ons moet vrede maak met ons verlede en iets vind om oor trots te voel.”

“Ek het baie van Kokkie se swart kerkhoedjie met die kokkewietkuif en haar liefde vir voëltjies gehou,” sê June van Merch oor haar kleurryke karakter in die fliek.

“Haar ongelooflike groot hare was my end,” sê Daneel van der Walt oor Amanda. “Sy wil deel wees van alles, maar almal weet sy skinder so sy word nie meer gereeld uitgenooi nie. Nou druk sy maar in elk geval haar neus oral in!”

“Ek hoop regtig kykers kyk na Die vredesduiwe en sien ’n gemeenskap wat saamstaan ten spyte van hulle verskille. Ook hoe ’n versoenende invloed koormusiek op mense het,” sê June.

“Geluk en inspirasie,” sê Amalia oor wat sy hoop kykers uit die fliek sal kry. “Ook ’n besef of herinnering dat ons nie alleen is nie en dat jou gemeenskap jou sal ondersteun as jy bereid is om uit te reik.”

“Ek hoop mense kan die liefde voel waarmee die fliek gemaak is,” sê Daneel. “Hierdie is ’n klein gemeenskap wat nog in mekaar glo. ’n Groep mense wat ’n moeilike situasie aanvat, waar liefde seëvier en ten minste twee mense se lewens onherroeplik verander. Op ’n mooi manier. Ek hoop mense besef dat ons mekaar nodig het. Broodnodig. Dít is ons erfenis.”

Vir Daneel was die hoogtepunt van die opname die mense.

“Dit was so lieflik om tyd saam met elke liewe mens op daardie stel deur te bring,” sê sy. “Daar is asemrowende talent in Suid-Afrika en ek was verskriklik dankbaar om te kon kyk hoe daardie talent werk met die min tyd tot hulle beskikking. So ja, die mense wat die film moontlik gemaak het. By verre die hoogtepunt vir my!”

“Dit is amper ’n onbegonne taak om ’n vollengte film in twee weke te skiet, maar met die hulp van die spelers en Nicola se duidelik visie, het ons ’n baie spesiale fliek gemaak,” sê Anel. “Die kameraderie agter die skerms en die geleentheid om legendes soos June van Merch, Abdu Adams, David Isaacs en Daneel van der Walt raak te act, het die koue en lang ure die moeite werd gemaak.”

Mamre, ’n voormalige sendingstasie buite Kaapstad waar die fliek geskiet is, was vir die spelers ’n belewenis.

“Dit was fabelagtig,” sê Anel. “Ek was nog nooit daar nie en dit het werklik gevoel soos ’n stukkie van Suid-Afrika wat in ’n vorige eeu vasgevang is.”

“Dit was wonderlik om weer al my vriende te sien, maar nog ’n hoogtepunt was beslis om Mamre te ontdek,” sê Neels.

Die vredesduiwe, ’n vollengte speelfilm van 90 minute, is geskryf deur Emile Hager en die regisseur is Nicola Hanekom. Die vervaardiger is Jaco Notnagel en Chad Zerf was vir die musiek verantwoordelik. Die kinematograaf is Chris Lotz wat onder meer vir Nêrens, Noord-Kaap verantwoordelik was. Verskeie inwoners van Mamre is as agtergrondspelers gebruik.

Die vredesduiwe se première is Saterdagaand 24 September om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144. Dit sal ook op Catch Up beskikbaar wees.