Logo
Binnelanders S13 Slim BB Updated November 2023
web uni tv guide

Binnelanders

144Drama13

Seisoene van verandering breek aan in kykNET-sepies dié Mei

Nuus
01 Mei 2023
Lees hier wat volgende gaan gebeur in jou gunsteling sepies en telenovelas tydens Mei.
Diepe Waters Image 5

Wil jy weet wat volgende voorlê in Suidooster, Diepe Waters, Binnelanders en Arendsvlei?

Arendsvlei:

As jy gedink het Rachel is gevaarlik, dan moet jy gereed wees vir Anthony se streke as hy tot breekpunt kom! Vir maande probeer Anthony al om Rachel te stop, maar elke keer bring sy hul seun, Adam, op en dan raak Anthony se hart sag. Maar nie hierdie keer nie! Adam sluit amptelik aan by Hoërskool Arendsvlei en Anthony het hom naby hom – en dis net wat hy nodig het om nou vir Rachel terug te kry. Elke plan wat Rachel het, kom Anthony met ’n beter een op wat die Cupido’s kan help en dit maak Rachel briesend. Die enigste verskil is net - Anthony kan hom nie minder pla aan haar nie. Sal Anthony die Cupido’s se Knight in shining Armour wees? 

Met Eva en Tanner weg, is Lennie heeltemal verlore. Almal probeer hom help, maar dit blyk of dit net slegter met Lennie gaan. Tot Bompie by hom uitkom en hom hulp aanbied, maar Langes is glad nie gelukkig met wat hy sien nie. Langes wees Bompie kan nie vertrou word nie en hy wil beslis nie vir Lennie by enige van Bompie se planne betrokke hê nie. So, Langes probeer alles in sy vermoë om vir Lennie te waarsku, maar dit blaas lelik in sy gesig op. Vir Lennie se part, hoop ons rêrig nie hy beplan om saam met Bompie te werk nie. 

Noudat Saartjie eindelik die hulp kry wat sy nodig het, begin Daniel meer tyd spandeer met Sonia, sy redakteur. Hy begin met haar vriende kuier en leer haar beter ken. Maar sodra Saartjie terug is in die Vlei, kry sy ’n slegte gevoel oor Sonia en probeer vir Daniel waarsku, maar hy luister nie. Daniel en Saartjie stamp gereeld koppe hieroor en dit veroorsaak groot wrywing in hul verhouding, want Daniel wil nie ophou vriende wees met Sonia nie. Vir wie gaan Daniel kies? 

Suidooster:

’n Storm broei in Ruiterbosch soos die Kaapse winterkoue en -reën die woonbuurt tref, en die inwoners hul donkerste uur in die gesig moet staar… Dinge lyk veral pikdonker vir die eens hegte Samsodien-gesin, en die een ding is duidelik: Hul lewens gaan onherroeplik verander en daar is geen omkeer nie, want dade het ernstige gevolge.

Die Suidooster waai ook ’n ou bekende terug, met Rita wat onverwags ontslaan word en dit vang veral haar geliefde seun, Tim onkant. Die vraag is natuurlik of haar skoondogter Zoë haar koms gelate gaan aanvaar?

Danni en Siya besluit om hul gesin van drie amptelik te maak en neem vir Brendan aan. En hoewel dit nou voor die wind met die Thuli’s as gesin gaan, kry die kerk se finansies die wind van voor...

Diepe Waters:

Almal sit met hul hande in die hare, want hoe meer vrae, hoe minder antwoorde is daar vir die geliefde karakters van Diepe Waters in Mei-maand.

Gys is nie die enigste een wat op soek is na verlore stukkies herinneringe nie, want Meghan moet ook mooi besin oor waar sy haarself bevind – en hoe sy daar gekom het. 

Zelda speel nie altyd oop kaarte nie, maar wanneer sy die dag besluit om die bul by die horings te pak kan niemand haar keer nie. Om haar waarheid te deel het natuurlik, soos altyd, groot nagevolge – en 'n mens kan nie help om te wonder of dit net nog 'n skuif in haar skaakmat-spel is wat plaasvind nie.  

Is Anja en Rossouw uiteindelik op 'n goeie plek? Of is die verantwoordelikheid van 'n verhouding waarna hulle albei vir so lank gesmag het dalk net hopeloos te groot? En hoe gaan Sanet se dieper groeiende verhouding met die bottel hulle, haar – en haar eie gesin! – beïnvloed? 

Die jongspan maak gereed vir die Nasionale Kampioenskappe, en daar is baie verwagtings wat op hulle skouers rus. Wie gaan sink, en wie gaan swem – en wie gaan dit dalk verder maak as wat hulle nog ooit van gedroom het?

Binnelanders:

’n Mensehandel-sindikaat sorg vir groot moeilikheid en Thalia en Tracy se lewens word in gevaar gestel.

Dr. Henry Louw word by Binneland verwelkom, en almal is verbaas om te sien Rita is sy meisie.

Liam begin om verkeerde lewensbesluite te neem wat sy gesondheid benadeel, en Steve moet ’n groot besluit oor sy loopbaan neem. Twee sterftes veroorsaak dat Binneland in ’n slegte lig geplaas word én in die media beland, en Tertius jok vir homself oor sy gevoelens vir Tracy.

’n Geskietery ry iemand se gewete, en Karen vertrou nie vir Nicolette nie. Die idee van ’n nuwe restaurant begin vlamvat, en ’n eerste soen lei tot ’n romantiese afspraak. Terwyl Steve homself oor Danny bekommer omdat hy hom nie in die hande kry nie, daag Andrea in Pretoria op en sy vind uit Steve is nie meer enkellopend nie. 

Bly weeksaande ingeskakel op kykNET, kanaal 144 en kykNET&kie, kanaal 145 vir die nuutste verwikkelinge in Suidooster, Diepe Waters, Binnelanders en Arendsvlei. Gesels ook saam op Facebook, Twitter en Instagram.