Logo

Sediment: Vate vol vermaak vir wynliefhebbers

Nuus
15 Maart 2016
Sediment, met die komkommerkoel-aanbieder JP Quickelberge, keer eersdaags terug vir ’n derde seisoen.
Sediment New Feature

Sediment, met die komkommerkoel-aanbieder JP Quickelberge, keer eersdaags terug vir ’n derde seisoen.

Dié unieke wyn-en-reisprogram bied ’n ongeëwenaarde kykerervaring en neem ’n mens op ’n ontdekkingstog van die beste en minder bekende wynlandjuwele wat gees en gehalte aan die Suid-Afrikaanse Wynlande verleen – dít sonder dat jy jou gemakstoel of rusbank hoef te verlaat.

Sediment se derde seisoen bestaan uit 13 insiggewende episodes wat kronkel al langs die agterpaaie van die platteland om die suksesstories van die meer onbekende wynplase en -produsente, proe-proe, met kykers te deel.

“As jy van wyn hou en die reisgogga jou gedurig byt, dan moet jy beslis elke ‘Wyn Woensdag’ voor die kassie inskuif, wanneer ons vars nuwe karakters en kelders van die florerende Suid-Afrikaanse wynbedryf aan julle openbaar. Van die ou groot geeste maak ook wel hul verskyning,” sê JP Quickelberge, aanbieder en uitvoerende vervaardiger.

Kyk hier na die voorskou:



Tydens elke episode van Sediment se derde seisoen, wat sorg vir 30 minute se genotvolle ontspanning, sal kykers drie uiteenlopende kelders van ’n spesifieke wynstreek ontmoet, maar meer belangrik, sal hulle ook hul wyne kan geniet tydens die uitsending.

Quickelberge het die land platgereis in sy geborgde Subaru, om 39 ‘wyn-wonders’ te verken en na kykers se sitkamers te bring.

Kykers kan aansluit by Sediment se eksklusiewe wynklub, aangebied deur die reeks se hoofborg, Wine Q&A.

Hoe werk die Wine Q&A-wynklub? Elke week word daar ’n keurspel van ses bottels wyn by elke aktiewe lid afgelewer – net betyds vir daardie week se episode van Sediment, met die gekose kelderskatte in die boks wat afkomstig is vanaf die drie wynplase (2 bottels per plaas) wat in daardie spesifieke episode besoek word. Dit bied aan die kyker ’n ‘ware Jakob’-ervaring wanneer hy letterlik kan proe waarvan die aanbieder en wynmaker praat.

Die lidmaatskapfooi R6 300 vir die ‘full Monty’ – ’n kookwater-aanbod wat eintlik R10 000 werd is – en eksklusiewe oesjare, geskenkies en afslagkoeponne, asook die gratis aflewering van jou 13 bokse wyn (ses bottels elk, dus 78 in total vir die reeks) insluit. Hierdie seisoen kan lede ook drie bottels wyn per episode teen R3 500 vir die hele reeks bestel, of enkel (6 bottels) en dubbel (12 bottels) wynpakkette koop, wat die wyne van twee episodes teen onderskeidelik R590 en R950 dek.

Sediment bied vaatjies vol wynvermaak en bring die wynlande tot in jou eie huis. Dit is die perfekte verskoning vir ’n middel-van-die-week samekoms vir vriende, families, wyn- en boekklubs om ’n glasie te klink op die lekker lewe.

“Jy hoef beslis nie ’n wyn-foendie te wees om volle genot uit ons program te put nie en ek nooi jou hartlik uit om terug te sit, te ontspan en te teug aan die vermaak wat ons vir julle gaan opdis,” sê Quickelberge.

Vir meer inligting oor Sediment of die Wine Q&A-wynklub besoek www.sediment.co.za. Bespreek jou lidmaatskap vandag nog en word deel van elke druppel pret.

Sediment (seisoen 3) skop af op kykNET (DStv-kanaal 144) op 6 April en sal elke Woensdag om 17:30 op jou kassie pronk. Sediment word vervaardig deur New Day Films en borge sluit in Wine Q&A, Subaru Kaapstad, Kingsley Heath en Ray Ban.