Logo
Die brug S1 Slim BB

Sal jy die geld deel as jy die wenner is? – Die brug

Nuus
22 Desember 2023
Moenie verder lees as jy nog nie episode 9 gekyk het nie!
Die brug ep 9 article image

Dis een ding om te sê jy gaan iets doen, maar ’n heel ander om dit regtig deur te voer. In episode 9 van Die brug weet die spelers wat nog oor is, dinge staan einde se kant toe. Hulle besef alte goed hulle gaan nie by die wengeld uitkom as hulle nie saamwerk en klaar bou nie, maar die groot vraag onder die spelers is toenemend of die wenner die prysgeld gaan deel of nie. Die feit dat Geo en Robert reeds R100 000 van die wengeld ingepalm het, is nog steeds net hulle geheim. 

Dié episode het afgeskop met Larry en Melanie wat die moeilike taak gehad het om vir Jamie uit die spel te verwyder. “Ek het my bes gedoen,” het ’n emosionele Jamie gesê. “Dankie dat ek my eie innerlike brug kon bou.” Sam, wat steeds die leier is, se kommentaar was: “Nou begin die goeies val.” 

Maar selfs vir “die goeies” wat oor is, is daar net een doel voor oë: Om as wenner aangewys te word. Sommige, soos Larry, is openlik daaroor dat hulle die wengeld sal deel, maar nie almal glo hulle kan vir Larry vertrou nie. 

Die samestelling van die span het ook onder bespreking gekom. Daar is nou ses mans en slegs drie vroue oor. Tina het gesê sy vat dit dag vir dag. Sy en Iana begin twyfel of hulle vir Geo kan vertrou, terwyl Robert weer wonder of hy die vroue kan vertrou. Tina begin al meer  besef dinge is nie in hulle hande nie. “Ons het geen beheer nie,” het sy gesê toe daar weer oor alliansies gepraat is. En sy is reg. Nes die spelers dink hulle planne is in plek, steek die vervaardigers weer ’n speek in die wiel. 

Episode 9 se titel is “Geleentheid”. Dit sinspeel op die volgende opsie wat gedurende die episode aan die spelers gegee word: Jy kan ’n R100 000 kry as jy nou kies om die spel te verlaat. Daar is egter ’n kinkel – as meer as een speler besluit hulle wil gaan, moet die spelers wat uittree die R100 000 tussen hulle deel. 

 

En toe is dit die een speler wat die hele episode wyd en syd verkondig het hoe hy die wengeld gaan deel, wat die aanbod ernstig oorweeg – Larry. Maar gaan hy dit werklik doen? En watter troefkaarte het die vervaardigers nog oor om in die laaste twee episodes te speel? 

 

Skakel elke Donderdag om 20:00 in op kykNET, kanaal 144 vir Die brug en gesels saam op FacebookXInstagram en TikTok deur die hutsmerk, #DieBrug te gebruik.